ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Langnaweek lewer heelwat T10-aksie op

Date: 28 September 2023 By: Andries van Zyl

Die afgelope langnaweek was ‘n besige een vir plaaslike krieketspelers, met nie minder nie as agt wedstryde wat beslis is in die Louis Trichardt Krieketklub se volgende ronde T10-wedstryde.

Limpopo Melkery vs Junedi XI

Twee wedstryde is Saterdag (23ste) beslis, met Limpopo Melkery (Limpopo) en Junedi XI wat eerste teen mekaar te staan gekom het. Limpopo het ingegaan om eerste te kolf en moes hard werk vir 77 lopies vanaf hul 10 beurte. Dit het gekom ten koste van nege paaltjies. Dubbelsyferbydraes vanaf die kolf is gelewer deur Leon Olwage (22), Joubert Fourie (12) en N. Nolly (18 nie uit nie). Vir Junedi het U. Rana uitgestaan as bouler met ‘n boulontleding van vier paaltjie vir die verlies van slegs nege lopies in twee boulbeurte (4/9/2). Hy is goed bygestaan deur D. Patel, wat 3/9/2 geneem het. I. Bahlia kon een paaltjie inoes.

Limpopo se boulers het goed begin deur openingskolwer I. Bahlia uit te vang vanaf die eerste bal van Junedi se kolfbeurt, maar daarna het die lopies begin vloei. Junedi het die wenlopies van 81 vir die verlies van net drie paaltjies (81/3) in slegs ses boulbeurte aangeteken, wat aan hulle ‘n ses-paaltjie oorwinning besorg het. Dubbelsyferbydraes met die kolf is gelewer deur I. Bhana (15) en ‘n vinnige 44 (nie uit nie) vanaf 20 balle deur I. Patel. Vir Limpopo het Brendan Bruce, Leon Olwage en Joubert Fourie elk een paaltjie geneem.

Strikers vs RCI

In die tweede wedstryd van die dag het Strikers teen RCI te staan gekom, met RCI wat ingegaan het om eerste te kolf. Hulle het ‘n skaflike 132/3 in hulle 10 beurte aangeteken, met dubbelsyferbydraes met die kolf deur Nimesh Watekar (21), Ikram Patel (62 nie uit nie vanaf 27 balle), Aamir Asuriyawala (26) en Minhaz Premjee (17).  Vir die Strikers het boulers Christo Boshoff, Jeremy Rademeyer en Louis van Jaarsveld elk een paaltjie geneem.

Die Strikers se kolwers was vroeg in die wedstryd met hulle rûe teen die muur ná ‘n paar “goedkoop” paaltjies. FC Phillipson het egter vasgeskop en 46 lopies vanaf 21 balle aangeteken. Nog dubbelsyferbydraes met die kolf is gelewer deur Riaan Gerber (20) en Willem-John Phillipson (11), maar met die boul van die laaste bal in hulle kolfbeurt het Strikers se telling op 96/5 gestaan, wat aan RCI ‘n 36-lopie oorwinning besorg het. Vir RCI kon Vimal Shah 2/11/2 neem, terwyl Saad Zubeir, Parth Patel en Minhaz Patel elk een paaltjie laat kantel het.

Hoërskool LTT vs Strikers

Sondag is drie wedstryde beslis, waarvan die eerste tussen Hoërskool Louis Trichardt (Triegies) en Strikers was. Strikers het ingegaan om eerste te kolf en 102/3 in hulle 10 beurte behaal, te danke aan dubbelsyferbydraes deur kolwers Hanco Kok (28) en Jeremy Rademeyer (55). Vir Triegies het boulers Brian Vermeulen, Fahan Khoja en Wynand Benade elk een paaltjie platgetrek.

Triegies se kolwers het die teiken goed gejaag, maar geëindig op ‘n totaal van 98/6 in hulle 10 beurte, slegs vier lopies kort van ‘n wen. Kolwers wat meer as 10 lopies aangeteken het, was Brendan Bruce (13), Jody Buys (23) en Sufiyan Dalla (36 nie uit nie). Vir die Strikers het Paulo Piorek 3/13/2, Jan van Blerk 2/9/1 en Riaan Gerber een paaltjie geneem.

Limpopo Melkery vs Soutpansberg Killers

In hierdie tweede wedstryd Sondag het die Soutpansberg Killers (Killers) ingegaan om eerste te kolf en ‘n indrukwekkende 145/0 aangeteken, met openingskolwers AC Geldenhuys en Lukas Visser wat onderskeidelik 97 en 37 (nie uit nie) lopies gemoker het. Geldenhuys se beurt het 12 viere en sewe sesse ingesluit.

Limpopo het in hulle kolfbeurt maar gesukkel om op dreef te kom, met slegs kolwers Leon Olwage (21), Juan-Michael Phillips (14) en Brendan Bruce (29) wat dubbelsyferbydraes kon lewer. Uiteindelik kon hulle net 92/7 bymekaarskraap, wat aan die Killers ‘n 53-lopie oorwinning besorg het. Vir die Killers het bouler Ruan Van Tonder 2/6/2 en Ruben van der Nest 2/9/1 geneem. AC Geldenhuys kon een paaltjie inoes.

RCI vs Warriors

In Sondag se laaste wedstryd het RCI en die Warriors teen mekaar te staan gekom, met RCI wat eerste gaan kolf het. Die Warriors se boulers het geen antwoord gehad nie vir openingskolwers Nimesh Watekar en Ikram Patel wat enduit gekolf het vir RCI in hulle kolfbeurt, met tellings van onderskeidelik 43 en 82 lopies. Patel se kolfbeurt het ingesluit vyf viere en sewe sesse. Al die Warriors se boulers het deurgeloop.

Die Warriors se kolwers het soos hulle boulers ook almal bietjie gesukkel, met dubbelsyferbydraes met die kolf deur slegs Hasan Dewan (16), Ashraf Padarwala (14), Ashfak Khota (11) en Frans Lottering (10). Uiteindelik kon Warriors net 73/9 in hulle kolfbeurt bymekaarmaak, wat aan RCI ‘n 57-lopie oorwinning besorg het. Vir RCI het bouler Saad Zubeir 2/20/2, Vimal Shah 2/12/2 en Jabir Abuja 2/6/1 geneem, terwyl Viral Patel en Minhaz Patel elk een paaltjie kon vat.

RCI vs Killers

RCI was Maandagoggend weer terug op die veld toe hulle teen Killers te staan gekom het. Weer het RCI eerste gekolf en 120/5 in hulle kolfbeurt aangeteken. Nimesh Watekar het nogmaals met die kolf geskitter en 48 lopies (nie uit nie) aangeteken, met Saad Zubeir wat 38 kon slaan. Slegs hulle kon dubbelsyfers aanteken. Vir die Killers het boulers Ruan van Tonder, Frikkie van Niekerk, Ruben van der Nest en Rudie Swanepoel elk een paaltjie gevat.

Killers se kolwers het dapper geveg, maar kon slegs 91/8 in hulle kolfbeurt aanteken, met dubbelsyferbydraes deur Lukas Visser (11) en Ruben van der Nest (37 nie uit nie). Dit het aan RCI ‘n 29-lopie oorwinning gegee. Vir RCI het boulers Saad Zubeir 2/0/1, Ikram Patel 2/12/2 en Astak Natha 2/8/1 geneem, met Vimal Shah wat een paaltjie kon vat.

Strikers vs Premjee

Die grootste naelbytwedstryd van die naweek was beslis die een Maandag tussen Strikers en Premjee, met die Strikers wat met een lopie gewen het. Strikers het eerste gekolf, met dubbelsyferbydraes deur Dirk van den Berg (58), FC Phillipson (17), Jeremy Rademeyer (12) en Christo Boshoff (11) vir ‘n totaal van 99/4. Vir Premjee het Fejal Patel 2/12/1 en Vijay Padhiar elk een paaltjie gevat.

Premjee se kolwers het goed gekolf, maar kon slegs 98/6 op die telbord plaas toe die laaste bal in die wedstryd geboul is. Dubbelsyferbydraes met die kolf is gelewer deur Safwan Kaba (14), Moshin Khota (24), Fejal Patel (29) en Luqman Patel (18 nie uit nie). Vir die Strikers kon bouler Riaan Gerber 3/20/2 neem, met Jeremy Rademeyer en Willem-John Phillipson wat elk een paaltjie ingeoes het.

Warriors vs Junedi XI

In die laaste wedstryd van die langnaweek het Warriors teen Junedi XI te staan gekom, met die Warriors wat eerste gaan kolf het. Danksy dubbelsyferbydraes met die kolf deur Hasan Dewan (63 nie uit nie) en Ashfak Khota (30), kon hulle op ‘n telling van 99/3 eindig. Vir Junedi het Ikram Khamboli, Dilawer Patel en Irfan Patel elk een paaltjie geneem.

Junedi se kolwers het nie tyd gemors nie, met openingskolwers Imram Bathia en Irfan Patel (nie uit nie) wat onderskeidelik 23 en 65 lopies aangeteken het om in 7.5 beurte te wen met ‘n telling van 100/1 – ‘n nege-paaltjie oorwinning. Vir die Warriors kon slegs Frans Lottering ‘n paaltjie vat.

 

 
 
 

Viewed: 2108

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT