ADVERTISEMENT:

 

 
 

16. Daisy vergeet haar pille en kuier in die stad

Date: 31 January 2014 By: News Correspondent

Daisy sit in ‘n ry van tjiep, swart plastiek­stoele. Kort-kort is daar ‘n Mexican Wave – sonder dat Liefling jubelend oor die luidsprekers begin speel soos by Loftus.

Nee, Daisy het nie siekte nie. En soos sy op-en-af, op-en-af in die ry gaan, hoop sy vuriglik dat siekte haar nie in hierdie staatshospitaal se spelonke alleen aantref nie. Dis net dat sy haar chroniese medikasie soos ‘n oumens op die plaas vergeet het en daar is nie eers vir lewensbelangrike pille geld terwyl sy in Sodom kuier nie.

“Op die beste van tye (as jy iemand ken wat kan toutjies trek of halfdood by ongevalle aanmeld) is die openbare gesondheidstelsel nie vir sissies nie,” murmureer sy terwyl die ry heeltemal tot stilstand kom. (Een van die twee vrouens by die registrasietoonbank het toebroodjies en ‘n ‘Closed’ bordjie voor haar uitgepak.)

“Mens kan ook nie jou neus optrek of oorgevoelig wees vir kieme en ‘n gebrek aan higiëne nie. Jy moet veral nie elke nat kol op die linoleumvloere oordink nie, veral nie as daar die geringste aanduiding is dat bloed enigsins betrokke kan wees nie. Elke bietjie humor moet jy inspan, elke grein van jou immuniteit aktiveer en verkieslik moet jy hoegenaamd niks weet van dinge soos die ebolavirus of TB nie.” Daisy se liggie brand al hoe laer. Twee ure se wag is nie speletjies nie.

Saam met die finansiële verligting van gratis medikasie, is daar darem ‘n paar ander ligpunte. Die grootste is die gees van ubuntu wat onder mede-wagtendes heers. Daisy gesels met al die ander op-en-affers en hou haar maar bietjie doof vir die gekruide taal van die Kypie langs haar. Maar sy is dik van die lag vir sy akkurate opsom van die situasie:
“Kyk net daai blêddie anties wat die files moet oopmaak! Hier sit onse mense nou, seker ‘n stuk of honnert of meer, maar daas net twee wat mense help. Nege counters, ma daas drie wat lêers vou, een wat papiere rondskuif en net twee wat ‘next’ skree! Dis nou wanner hulle selfouns nie lui nie. Daa gaat die anner een nou so wragtag op lunch en die groot antie in charge maak nie oogkontak nie want netnou moet sy uithelp. F!@#$%&*!! lui goed! En dan staak hulle vir meer geld? Se moer, sê ek mos.”

Daisy krul op die harde stoel rond soos sy lag. Die mense kyk haar met groot oë aan. Sy kan amper hoor wat hulle dink: “Seker maar hier vir mental health...” Die gedagte daaraan laat haar nog harder lag sodat nog ‘n supervisor die wagkamer instorm om te kyk wat die ongewone rumoer oor gaan.


Maar dis nie lank voor die ongewone stroom opmerkings flouer raak as krieketkommentaar op ‘n lui Sondagmiddag nie...

Die kronkelry word bitter stadig korter. Daisy probeer haar eers verdiep in Zakes Mda se nuutste boek The Sculptors of Mapungubwe en toe in al die blokkiesraaisels van Huisgenoot. Uiteindelik na vier ure begin haar maag gevaarlik grom. Sy maak haar hande oordadig skoon met anti-bakteriële jel en vou ‘n papierservet op haar skoot oop. Die reuk van hardgekookte eier laat die vrou met die tattoes en motorfietshelmet langs haar dadelik wegskuif. Daisy steur haar aan niks – in die kloue van openbare gesondheidsorg het almal die reg op ‘n opinie maar maak vooroordeel hoegenaamd nie saak nie. Almal is in dieselfde verknorsing.

Later is Daisy se kaasbroodjies en water ook klaar; nes haar geduld. Sy durf nie uitgaan om te gaan rook nie dan verloor sy haar plek in die op-en-af. Nog ‘n uur later kry Daisy die hoogste punte ooit vir ‘n speletjie op haar selfoon, dan gaan die selfoon se battery stilletjies dood.

Net toe Daisy vuriglik begin bid vir ‘n vreeslike pes wat haar dadelik moet tref en wat onmiddellike mediese sorg en aandag sal verg, is dit haar beurt by die toonbank. Die proses is pynloos en vinnig en met die nodige papiere in haar hand storm sy dankbaar na buite. Nog net Saal 25 en die apteek, dan is hierdie marteling verby.

‘n Uur later. Daisy het haar sin vir humor verloor iewers in die proses om Saal 25 te vind. Daardie befoeterde plekkie agter haar regteroor het begin jeuk toe sy weer gekonfronteer word met ‘n ry harde, swart stoele en huilende babas. Maar sy verloor dit heeltemal toe sy uiteindelik agter die misterieuse, wit deur toegelaat word net om te hoor sy moet more terugkom, die dokters is nie vandag daar nie...

“Vergeet dit,” sê Daisy afgemete en met bleek lippe. “Ek verkoop liewers my lyf vir medisyne­geld as om ooit weer hiernatoe te kom.”

 

 
 
 

Viewed: 588

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT