ADVERTISEMENT:

 

 
 

65. Daisy kry ‘n onverwagse Valentynsgeskenk

Date: 19 February 2015 By: News Correspondent

“Dis nou alles goed en wel om vir my te sê ek moet my uit die voete maak,” dink Daisy geïrriteerd. “Maar daar is ook net soveel wat mens in die dorp kan doen.”

Sy bel vir Bernard. “Hoorie sweetness, ek waardeer vreeslik dat jy graag ‘n verrassinkie wil reg hê vir vanaand, maar ek is nou al ge-hare en ge-naels en het by al die coffee shops cappuchinos gedrink en twee keer by die Wimpy ... Ek kom nou huis toe want ek is dood­moeg van die niksdoen. Al wat tussen my en die rooi tapyt vanaand staan is ‘n middagslapie! Ja, ja – ek sal net by die voordeur in en nêrens anders nie; ek belowe ek sal nie koekeloer nie!”

Laatmiddag kom maak Bernard vir Daisy wakker. “Kom, Prinses, als is reg vir jou. En ek het net die regte musiek ook vir ‘n regte Afrika sonsondergang. Jou gunsteling – Ismael Lo se Jammu Afrika. Ek maak solank die sjampanje oop, die weduwee van Champagne.”

“Nee Bernard man, jy het gesê ons braai sommer. Dan is die Franse vonkel mos oorbodig...”
“Ja, wel. Ek het gedink ons moet miskien net afskop met dit.”

Buite op die stoep is die tafel pragtig gedek met blomme en kerse. Langs die groot wildevy is daar ‘n vuur gemaak en ‘n paar kampstoele.

“Ook maar ‘n groot blêddie rumoer vir net ‘n paar ekstra kerse...” dink Daisy morrend. “Mans kan so dramaties wees.”

Bernard is vreemd senuweeagtig. Hy draai aanhoudend om Daisy – maak haar glas vol, steek nog ‘n sigaret aan – en kry nie lekker sy sit nie. Tot ‘n stuk of vyftig mense begin sing en ry vir ry langs die vuur kom staan. Die koor is aangetrek in die kleure van die sonsondergang – oranje en rooi en goud. Hulle lag spierwit vir Daisy se oopmond verbasing en sing ‘n paar tradisionele liedjies met ritme en a cappella instrumentklanke. Dan, op ‘n gebaar van die koorleier, kom ‘n klein dogtertjie met ‘n blink laggie na Daisy toe aangestap. Sy het ‘n houtkissie in haar hand. By Daisy se stoel kom kniel sy en bied die kissie met beide hand vir Daisy aan. Die koor sing ‘All women are queens’.

Daisy kyk onbegrypend na Bernard. “Toe, Daisy, dis vir jou. Maak oop en kyk.”
Op die wit satyn binne-in die kissie is daar ‘n ring. Nie ‘n sommerso ring nie; ‘n serious RING. Platinum en diamant. En nog diamante. Dan hou Bernard Daisy se hand vas en hy kniel langs die dogtertjie in die stof.

“Daisy, ek het hierdie nog nooit vantevore gedoen nie. Maar van die eerste dag toe ek jou by die pakhuis ontmoet het, het ek die gedagte gehad om dit te doen. Groot asseblief, sal jy met my trou? En met jou lang bene en blonde hare en onvoorspelbaarheid en giggellag en skerp intellek vir altyd by my bly?”

Daisy kyk na Bernard. Na die stralende dogtertjie. Na die koor met die groot glimlagge.
“Skuus?” sê sy.

“Asseblief Daisy, groot asseblief. Sal jy met my trou?”
“Gooi asseblief eers nog van daardie Franse vonkel in, Bernard. My glas is leeg.”
“Hierso, Daisy.” Bernard se stem raak bietjie bewerig terwyl Daisy sy oë vermy en diep ingedagte sit en kyk na die vuur.
“Bernard, ek het nou gedink...”
“Ja, Daisy?”
“Diep gedink.”
“Ja, Daisy?”
“Vir ‘n volle tien sekondes regtig gefokus op die vraag.”
“Ja, Daisy?”
“Ja, Bernard.”
“Daisy?”
“Natuurlik, jou liewe, lawwe man! Natuurlik sal ek met jou trou!” En sy bars uit van die lag oor die verligting wat oor Bernard spoel. Hy pluk vir Daisy regop en soen haar te midde van die lag en gejuig van die koor en plaaswerkers.

“Hei Daisy – en moenie dink ek gaan lank wag nie! Ons troue gaan die heel eerste troue by die gastehuis wees en miskien moet ons sommer in Johannesburg ook trou. Sal twee maande genoeg tyd wees om alles te reël, my mooiste?” Bernard jubel.

“Stadig oor die klippers, Bernard. Jy hol onder jouself uit – gewoonlik sit ‘n mens eers die ring aan die vinger voor jy die uitnodi­gings begin uitstuur, jy weet...” Daisy giggel onbedaard. Die oomblik raak nou te groot vir haar ook.

“O, en jy hoef nie vir Ousus-hulle te bel om die nuus te vertel nie. Hulle is al amper hier. En nog so ‘n paar van ons pêlle. Daai tafel op die stoep was sommer net ‘n decoy – die regte partytjie is op ‘n geheime plek in die bos. En ek het jou nie vertel nie – ons nuwe buurman is ‘n sjef. ‘n Uitmuntende sjef wat al in Michelin-ster restaurante gewerk het. Hy het vir al die kos gesorg en dis ook sommer sy oudisie vir ‘n pos by die gastehuis. Toevallig, nê? Maar hy sê jy bak die heel lekkerste brood wat hy nog ooit geëet het!”

Daisy lag vir Bernard se gebabbel. Sy het hom nog nooit so opgewonde gesien nie.

Dis heelwat later toe Daisy vir Bernard sy Valentynspersent gee:  pragtige bloedrooi onder­klere, stewig aan Daisy toegedraai met Gladwrap en ‘n groot, bloedrooi strik op die maag.

 
 
 

Viewed: 175

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT