ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die toneelgroep van Hoërskool Louis Trichardt behaal 'n besonderse driekuns, nadat hulle vir die derde agtereenvolgende jaar gekroon word as die Gauteng streekswenners by die ATKV Tienertoneelfees. Larissa Venter (foto) behaal die unieke prestasie dat goud aan haar toegeken word. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat goud aan individue tydens die fees toegeken word. Foto verskaf.

Driekuns vir Triegies by tienertoneelfees

Date: 31 August 2012 By: Linda van der Westhuizen

Die toneelgroep van Hoërskool Louis Trichardt behaal 'n besonderse driekuns, nadat hulle vir die derde agtereenvolgende jaar gekroon word as die Gauteng streekswenners by die ATKV Tienertoneelfees.

“Ons kom huis toe met 16 silwer toekennings en goud vir Larissa Venter! Silwer is die hoogste toekenning by die streekfees, maar hulle het die uitsondering gemaak om vir Larissa vir haar puik verhoogspel goud te gee,” vertel ‘n opgewonde mnr. Nico Scheepers. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat goud aan individue tydens die fees toegeken word.

Die Triegie toneelgroep het met hul verhoogstuk Atlas teen 27 skole meegeding en ná hul optrede op Vrydag, 24 Augustus, is hulle gekies om die Saterdagaand by die finaal van die Gauteng-streek op te tree. Die drie  skole wat teen hulle in die UNISA Kleinteater gekompeteer het, was Hoërskole Zwartkop en Garsfontein van Pretoria en Hoërskool Helpmekaar van Johannesburg. En daar laat die Triegies die stadskole weer op hul neuse kyk deur eerste te eindig.

Nou is dit die naelbyt wagtydperk om te hoor watter toneelgroepe word na die Aardklop Kunstefees uitgenooi. By Aardklop sal  tien toneelstukke meeding vir die nasionale wentrofee.

Die afgelope twee jaar het Hoërskool Louis Trichardt se toneelgroep by Aardklop met die nasionale wisseltrofee en R20 000 prysgeld uit die stryd getree. In 2010 het hulle Kolom opgevoer en in 2011 Loodballon,  albei stukke geskryf deur Nico Scheepers. Nico is ‘n oud-leerling van die skool en het self in die skool se toneelgroep gespeel.

Vanjaar se produksie, Atlas, is ook deur Nico geskryf en handel oor ‘n jong seun se stryd om balans te vind tussen sy geloof, sy ouers en sy toekoms.

Arno Venter het die hoofrol vertolk. Larissa was sy sussie en Anton Pretorius ‘n vriend.  Die drie hoofspelers het hul eie name in die stuk gebruik.

“Ons het dit gedoen sodat daar geen afstand tussen die gehoor en die karakters is nie, “ sê Nico. Arno en Anton het silwer toekennings ontvang. Nico het silwer ontvang vir regie, beligting, teks en choreografie en sê dat sy musiektoekenning sal gaan na Gideon Scheepers, wat net soveel van die musiek as hyself geskryf het. Die hoofrolspelers en al die byspelers het silwer vir ensemblespel ontvang. Die drie lede van die tegniese span is ook vereer met ‘n silwer toekenning elk. NJ Prinsloo het brons vir verhoogbestuur ontvang.

“Die beoordelaars het ons geprys en gesê dat ons ‘n tema aangeraak het wat mense bang is om aan te raak, terwyl tieners in aanraking daarmee kom en daardeur gaan. Hulle het gesê dat ons dit sensitief en met deernis hanteer het, sonder om vingers te wys,” sê Nico. Hy is vol lof vir die toneelgroep."Dankie julle! Ek het die grootste respek en liefde vir elkeen van julle. Julle toewyding is verbysterend!"

 
 
 

Viewed: 1141

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT