ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Skermgreep uit Cohen, oftewel SP Miller van Makhado (Louis Trichardt), se eerste musiekvideo van sy liedjie Stof. Die video is gedregiseer deur Michelle Ayden en geredigeer deur Bouwer Bosch. Foto: M.A.D.

Jong sanger bring hoop met liedjies

Date: 11 July 2014 By: Isabel Venter

Cohen Miller is ‘n jong stem hier uit die Soutpansberg-streek wat vinnig besig is om van hom te laat hoor in die vermaaklikheidsbedryf.

Tuis hier in Makhado (Louis Trichardt) ken almal vir Cohen beter as SP Miller. Die eens skaam seun, wat aan die CVO Skool Zoutpansberg gematrikuleer het, het die afgelope week sy eerste Afrikaanse enkelsnit, Stof, vrygestel.

Stof is ‘n liefdesliedjie uit Cohen se eie pen, waarmee hy sy dieper kant wys. Die musiekvideo is in neutrale kleure en minimalistiese kamerawerk geskiet, sodat jy jou eindelik verluister aan die lirieke. Op die video speel Cohen self ook klavier, terwyl hy sing.

Die video is Maandag vir die eerste keer op Youtube uitgesaai en is teen die einde van die dag meer as 700 keer gekyk. “Dit is ongelooflik ... ek is so trots op die video, en net geseën oor die reaksie wat ek al gekry het,” het Cohen Dinsdag in ‘n onderhoud met die Zoutpansberger gesê.

Hy was Dinsdag druk besig om voor te berei vir ‘n volgende verhoogstuk, maar het ‘n paar minute afgeknyp om te gesels oor sy loopbaan en oor Stof. Vir Stof het hy self die klavier ook gespeel. Hy het homself al die basiese akkoorde geleer op ‘n klawerbord toe hy 19 jaar oud was. “Dis eers by M.A.D. (Michelle Ayden Dramatix) dat ‘n dosent my eendag gehoor speel het en gesê het ek moet klavierlesse ook neem – en dis baie lekker; ek ken nou nie net meer die basiese tegnieke nie,” vertel Cohen.

So tussen al die opnames en kleedrepetisies deur is Cohen ook nog ‘n derdejaar dramastudent aan die M.A.D. akademie in Centurion.

Dit is ook hoe lank terug hy van die plaas af stad toe verhuis het om sy drome na te jaag. “Die plaas is in my hart, dit is waar ek grootgeword het,” het SP vertel. Dit is ook hoe hy besluit het op sy verhoognaam, Cohen. Dié naam is ‘n stukkie familie geskiedenis wat hy saam met hom dra. Dit was sy oupa Jan Koen se troetelnaam vir sy ma en ouma – Missies Cohen – om hulle beter te laat voel. ‘n Bonus was dat die naam ook histories gegee is aan Joodse priesters. “Werkers in die geloof, standvastige mense,” sê SP. “Toe besluit ek op Cohen vir Koen en Miller om altwee my oupas se nalatenskap oor te dra.”

By M.A.D. het SP die kans gekry om sy dans-, drama- en sangtalent te slyp.

Oor sy musiek gesels SP net so lekker. Dit is sy manier om stories te vertel; al van kleintyd af. “Ek wil stories vertel – nie net myne nie maar ook ander s'n – en so mense inspireer. Ek wil vir mense sê daar is hoop, moenie opgee nie, jy is nie ‘n freak nie. Jy is nie gemaak om in te pas nie maar om uit te staan, en met die genade van God kan ek nou daai boodskap deur my liedjies uitleef,” sê SP.

Met SP se vergunning kan lesers na Stof se video gaan kyk op die Zoutpansberger se webblad op www.zoutpansberger.co.za.

 
 
 

Viewed: 363

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT