ADVERTISEMENT

 
 

 

Ná aanleiding van u berig oor die dorp se stortingsterreine (Zoutpansberger van 10 Oktober), is dit dalk nou die aangewese geleentheid om bietjie die Makhado Munisipali­teit-prentjie in oënskou te neem en terselfdertyd ook sommerso ‘n stukkie van die breër Suid-Afrikaanse prentjie aan te haak.

Wat regering op provinsiale en plaaslike vlak aanbetref, lyk dit of die Wes-Kaap die enigste dowwe liggie is wat nog in die donker skyn, ten spyte van uiterste pogings en felle aanslae deur die ANC en georganiseerde arbeid om ook dié bietjie stabiliteit in die land te vernietig. Die konstante stroom verskuiwing van veral blankes uit Louis Trichardt, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng is stil getuienis van die Wes-Kaap se stabiliteit teenoor die vroeë  “Kersfees” rooftogte wat hier alreeds aan die orde van die dag is.

Wat het gebeur in Louis Trichardt sedert “UHURU” in 1994?

Heel eerste het watervoorsie­ning ‘n brandpunt geword wat sedert 1994 nog nie opgelos is nie en as jy nie ‘n opgaartenk op jou perseel het om water in te berg wanneer daar wel water is nie, trek jy aan die kortste ent van wan-munisipale-effektiwiteit.

Die dorp se rioolstelsel het vir menige inwoners en besighede ‘n stinkende doring in die vlees ge­word, soveel so dat ‘n groot deel van die dorp water drink uit boorgate waar gestorte riool ‘n deel van die aanvullingsbron van die gate is. Gaan kyk maar, die rioolwerke is grootliks buite werking. Dit was tot enkele jare gelede nog beskou as een van die mees effektiewe verwerkingstelsels in die land.

Die dorp se strate het op enkele uitsonderings na ‘n toestand van spoedige totale verval gevorder. Plek-plek is die slaggate so groot dat jy jou ouma daarin kan begrawe.

Wat kan nog gesê word oor die begraafplaas? Een van die duidelikste getuigskrifte van onbevoegd­heid, ongevoeligheid en disrespek teenoor die gestorwenes en die oorwegend blanke inwoners wie se naasbestaandes daar ter ruste gelê is. Maar as dit gaan oor ‘n grondeis is ‘n kruiwa klippe wat in dekades nooit besoek is genoeg om aanspraak te maak op die grond.

Munisipale finansies en menige inwoner se rekening verkeer in ‘n totale chaotiese toestand. Nog die plaaslike DA-lid, nog AfriForum of die Belastingbetalersvereniging is/was in staat om byvoorbeeld my waterrekeningprobleem van die afgelope twee jaar op te los. Mnr. Ronnie Rambau van die munisipaliteit doen nie eens die moeite om na ‘n gesprek oor die probleem te luister nie of die ontvangs van e-posse te erken of te beantwoord nie. Die uitgesproke houding van die munisipaliteit oor dienslewe­ring is dan ook, “as die inwoners nie tevrede is daarmee nie, vat jou goed en gee pad”.

Ongetwyfeld die kersie op die koek is dat die swakste munisipale bestuurder ooit, vandag as minister in die land se parlement die gemors verder voortsit. Spreek boekdele van die hoogste gesag.

Chaos heers al baie lank by die dorp se stortingsterrein. Klagtes oor die Vondelingterrein is legio. Beheer daar is so doeltreffend dat die inwoners van die dorp veral in die warm maande te kampe het met ‘n groot brommer-probleem in hul huise. Lekker resep vir vlieg-gedraagde siektes. Uit die berig kan afgelei word dat Rietvly alreeds ‘n probleem is. Daar is natuurlik geen ordentlike beplanning oor ‘n geskikte terrein gedoen nie en vermoedelik ook geen omgewings­impakstudie nie.
Korrupsie en bedrog vier hoogty onder die ANC-kaders vanaf die laagste vlak van regering tot in die hoogste kantoor van die nasiona­le regering. Dink maar net aan die kostes van die ongevraagde naams­verandering, en die korrupsie met betrekking tot die onlangse eiendomswaardasie debakel. (Wonder of die munisipaliteit pa sal staan vir die verskil in die verkoopsom as jy jou eiendom nie teen munisipale waardasie verkoop kan kry nie? Dit is dan mos die wettige markwaarde van die eiendom waarop jy geregtig is?)

Wat beteken dit alles? Terugbetaaltyd aan Beijing en Moskou vir hulle ondersteuning tydens die “struggle”? Elke moontlike en onmoontlike kommoditeit kom deesdae van China af waar goedkoop arbeid uitgebuit word en die regering sê niks, maar betaal arbeid ter plaatse net meer en meer om minder en minder te doen. Wat het geword van “Koop trots Suid-Afrikaans”.  Dit is verruil vir ‘n pot lensiesop.

Vergelyk Zuma se Nkandla met Mugabe se paleis, die aanslag teen blanke SA -boere met die van Zimbabwe. Hou in gedagte die belaglike manipulering van die nasionale regering deur die georganiseerde arbeidsektor en die gepaardgaande toegewings net om die stem te behou. Die wettige marginalisering van die blanke op alle vlakke van die samelewing. Die toenemende wurggreep op alle aspekte van die land se finansies met die gepaardgaande geleidelike onttrekking van buitelandse kapitaal en beleggings wat al hoe minder realiseer.

Gaan kyk gerus die huidige “Voetspore” program op televisie van die manne se reis al op die ewenaar langs. Wat u daar sien is Suid-Afrika se finale lot so 15 tot 20 jaar van nou af. ‘n Ernstige siek land met ‘n terminaal siek regering waarvan die eerste simptome reeds sigbaar wys.

- Carel Breytenbach (Makhado / Louis Trichardt)

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT