ADVERTISEMENT

 
 

 

So het 2014 tot ‘n einde gekom. Wat vir talle mense ‘n tyd was met kosbare herinneringe, het egter vir ons in ‘n nagmerrie ontaard.

Die parkie oorkant die skou­gronde is Oujaarsnag gebruik deur selfsugtige mense om vuurwerke te skiet. Dit was net klappers en rockets wat geen einde gekry het nie. Selfs in ons oprit was daar later mense wat vuurwerke geskiet het.

Ons sit in die huis en hoor hoe die stukke vuurwerke op ons huis se dak val, spuit noodgedwonge ons lapa nat sodat hy nie dalk moet begin brand nie, want almal wat daar klappers skiet sal net hulle skouers optrek. 

Soos bo genoem is sulke mense selfsugtig en gee nie ‘n flenter om wie skade ly as gevolg van hul optrede nie.

Ons het die polisie gekontak en daar is spoedig ‘n voertuig uitge­stuur na Rooibokstraat, maar tot ons ontnugtering het die polisiebeampte ons soos volg geantwoord toe ons om hulp vra: “But what can I do?”

Ons troeteldiere was vreesbe­vange en ons het talle papegaaie verloor, insluitend sewe African Greys, drie Amazons, een Electus wyfie en 18 budgies. 

Van die voëls was deel van broeipare wat die skade onvervangbaar maak.

Wie gaan ons vergoed vir die skade, om nie eers te praat van die trauma wat ervaar is deur ons honde en res van die voëls nie!? Is daar enige iets wat ons kan doen om te voorkom dat mense vuurwerke skiet in die woongebied, en so naby aan ons huise? Kan die DBV dalk help om sulke situasies in die toekoms te verhoed?

Mag ons as gemeenskap ‘n oplossing vind vir die probleem en dit sodoende voorkom.

- Petro Taute (Louis Trichardt)

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT