ADVERTISEMENT

 
 

 

Ons vader, oupa en grootoupa, Hendrik Willem Johannes Senekal, het vir ons kom kuier en tydens sy besoek het sy toestand ernstig versleg. Hy het op 3 November baie rustig heengegaan.

Oupa is veras en die roudiens was in Ventersdorp gehou op 7 November, wat ook sy 86ste verjaardag sou wees. Coenie en Amelia de Lange en ouma Annetjie Senekal wil baie graag ‘n paar wonderlike mense bedank vir hulle diepe sorg en liefde. 

Baie dankie aan dr. Fred Badenhorst wat met soveel sorg omgesien het na die korrekte medikasie en raad, al was Oupa onbekend aan hom. Dr. Fred, jou teenwoordigheid onmiddellik tydens sy afsterwe word hoog op prys gestel. Baie dankie vir wie jy is vir ons.

Ds. Jan Pretorius, wat onbewus was van ons ouers se besoek, het nie ‘n oomblik uitgestel toe hy van oupa se siekte en afsterwe gehoor het nie. Hy het dadelik ‘n besoek aan ons gebring. Ds. Jan, jou teenwoordigheid en ondersteuning aan ons en in besonder ouma Annetjie word baie waardeer. Baie dankie daarvoor.

Aan elke persoon by Martin’s Begrafnisondernemers - baie dankie vir julle simpatie en sorgsame ondersteuning. Baie dankie dat ons nie net nog ‘n kliënt was nie. Julle is ware staatmakers. 

Seëngroete aan elke ander persoon wat ons met julle liefde en ondersteuning omvou het. Die SMS boodskappe, oproepe en e-posse het ons baie ondersteuning gebied.

Mag elkeen vandag en elke dag hierna opreg waardeer en die Lewe met Jesus kies. Ons Skepper en Onderhouer, bo alles en almal is dit net U wat ons kan troos. U oor is nooit te doof om te hoor nie en U arm nie te kort om te help nie. Aan U al die eer.
Seëngroete.

- Coenie, Amelia, tannie Annetjie en die hele klompie kinders en
kleinkinders in die De Lange familie

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT