ADVERTISEMENT

 
 

 

Eerstens wil ek baie geluk sê aan Stefan en Chané vir hul besluit om hulle lewens voort te sit sonder dwelms.

“Dwelms” behels “any mind-altering substance” en dit sluit alkohol in, in enige vorm.
Met my 13 jaar nugter en skoon, ondervinding en assessering van alkoholiste en dwelmverslaafdes, het ek gevind dat 99% van dwelmverslaafdes ook alkoholiste is. Aan die einde van die dag gaan dit oor “the drug of choice”, en dit maak nie saak of dit brandewyn, bier, dagga, heroïne of “cat” is wat  gesnuif, gespuit of gesuip word nie.

Daar is baie verwarring oor wat presies ‘n alkoholis is. Dit is nie iemand wat op die parkbankie sit met ‘n bruin papiersakkie met ‘n dop in nie. Alkoholiste het geen kleur, kerkverband of status nie.
Alkoholisme en/of dwelmverslawing is ‘n sertifiseerbare siekte en mediese fondse betaal vir rehabilitasie.

Alkoholisme kan met suikersiekte en kanker vergelyk word. Mense wat nog nooit gerook het nie, kry longkanker, mense wat gesond lewe kry suikersiekte. Jy kry die siekte of nie, jy is gebore daarmee of nie. Sommige mense kan alkohol suksesvol gebruik, maar mense soos ek kan nie.
Een dop, een glasie wyn, een glasie “beer shandy” of een sluk medikasie of kos wat alkohol bevat kan my weer laat drink. So ook met die meeste ander “alkies” of “druggies”. Een dop of “hit” is te veel en ‘n 100 is nie genoeg nie. Dan volg - nog net een dop of nog net een “hit”.

Al die “druggies” wat ek ken drink gewoonlik eers ‘n dop alkohol, en dan gebruik hulle dwelms. Dit bevestig my stelling en ondervinding dat 99% “druggies” ook “alkies” is. Jy hoef nie dronk te word nie, die dop sit die hele nagmerrie “in motion”.

Lesers van die Zoutpansberger sal elke week in die kalenderblad opmerk dat daar ‘n berig is oor die AA se vergaderings. Dit vind elke Maandag­aand te Munnikstraat 79 plaas. Daar is ook deurlopend advertensies met die kontak­nommers in die koerant.

Die AA vergadering is vir enige persoon met ‘n drank- of dwelmprobleem. Meeste “alkies” het een of ander tyd dwelms ook gebruik.

NA “ Narcotics Anonymous” is direk van AA “Alcoholics Anonymous” afkomstig en dieselfde 12-stap program word  gevolg.

Neem asseblief kennis, bogenoemde is my persoonlike mening en nie die van AA as geheel nie.
Groete

- Jannie (Die “nugter dronkgat” van Limpopo en omgewing)

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT