ADVERTISEMENT:

 

 
 

Philip Arnoldus Venter, 'n leraar van Makahdo (Louis Trichardt), wat onder meer teregstaan op 'n klag van bedrog.

Advokaat meen getuies wil dominee net sink

Date: 22 May 2014 By: Isabel Venter

“Daar word gepoog, in hierdie saak, om hierdie beskuldigde te sink - ten alle koste.”

Só het adv. Niel Duvenhage verlede Donderdag (15de) aan me. Zanette Wessels in die Louis Trichardt Distrikshof tydens kruisondervraging gesê. Wessels het vir die Staat getuig teen ‘n leraar van die dorp, dr. Philip Arnoldus Venter (57). Die kriminele verhoor teen Venter, met adv. Duvenhage as sy regsverteenwoordiger, het Donderdag hervat. Buiten Wessels se getuienis het die Staat nog twee getuies dié dag geroep.

Venter staan tereg op 'n klag van bedrog en drie klagte wat verband hou met oortredings van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000). Volgens die klagstaat hou die klag van bedrog verband met ‘n voorval in April 2006. Venter het na bewering onder valse voorwendsels besit geneem van drie vuurwapens van mev. Cecile Steyn, nadat hy glo voorgegee het dat hy die nodige magtiging gehad het om die wapens te neem. Die wapens het intussen vermis geraak.

Steyn het reeds by Venter se vorige hofverskyning getuig dat sy drie vuurwapens, twee .22-rewolvers en een 9mm-pistool, aan Venter oorhandig het gedurende April 2006, omdat sy hom vertrou het om al drie wapens te deaktiveer. Vir lank het Steyn en Venter nie weer oor die wapens gepraat nie.  Op 6 Februarie 2010 sou Venter egter na bewering skriftelik aan haar erken het dat hy nog die wapens het. Steyn het getuig dat sy in Maart 2013 geskok was om uit te vind dat die wapens nog steeds in haar naam geregistreer is. By navrae sou Venter haar toe telefonies meegedeel het dat hy die wapens aan ‘n vriend van hom, mnr. Tewie Wessels, oorhandig het om gedeaktiveer te word. Dit was toe dat sy die saak by die polisie aangemeld het.

Uit me.Wessels se getuienis sou dit egter blyk dat Tewie, haar broer, reeds ‘n jaar voordat Venter skriftelik sou erken het dat hy nog die wapens in sy besit gehad het, oorlede is. Sy het getuig dat sy haar broer, ‘n kwadrupleeg, se regterhand op die plaas was en dat sy hom feitlik daagliks bygestaan het met sy administrasie. Sy het getuig dat wapenveiligheid vir Tewie baie belangrik was. “Hy was baie puntenerig gewees,” het sy gesê. Volgens haar het Tewie altyd die regte prosedures gevolg wanneer daar met wapens gewerk is en dat hy selfs vir haar ‘n brief laat teken het in 2008 toe sy haar wapen by hom in sy kluis wou stoor vir veiligheid. Sy het ook getuig dat jagters wat soms op die plaas oornag het hul wapens vir veiligheid in Tewie se kluis gestoor het. By implikasie sou haar broer nooit die drie betrokke wapens sonder die nodige papierwerk in ontvangs geneem het nie.

Die hof het gehoor dat Tewie ‘n gemeentelid van Venter was, dat hy en Venter goed bevriend was en dat hulle gereeld oor wapens gepraat het.

Duvenhage het Wessels se getuienis, dat sy sou geweet het van die wapens aangesien sy feitlik daagliks by sy administrasie betrokke was, in twyfel getrek. Tydens kruisondervraging het Wessels erken dat sy nie altyd op die plaas was nie omdat sy soms vir ‘n dag of langer weg was vir besigheid ten opsigte van die uitvoer van vrugte.

“So, u is ‘n besigheidsvrou en u gaan van tyd tot tyd weg van die plaas af? ... Juffrou, ek wil dit nou aan u stel. U kan nou nie verslag gee van wat uur tot uur op daardie plaas gebeur het tussen u broer en die beskuldigde nie, reg?” het Duvenhage gesê.

Wat betref Tewie se “puntenerigheid” het Duvenhage daarop gewys dat ‘n blote brief tussen Wessels en haar broer oor die bewaring van haar vuurwapen nie genoeg was nie en dat ander amptelike dokumentasie nodig was.

“Juffrou, al wat ek aan u wil stel is dat u getuienis dat u broer presies was oor wapens nou nie heeltemal reg is nie,” het Duvenhage gesê. Hy het ook verwys na ‘n ander vuurwapen wat na bewering voorheen uit haar broer se kluis vermis geraak het. “Is dit so?” wou Duvenhage weet.  Wessels het egter geantwoord dat sy geen kennis dra van so ‘n voorval nie. Duvenhage het ook gesê dat sy kliënt sal kom getuig dat Tewie, in Venter se teenwoordigheid, by geleentheid een van sy werkers gevra het om ‘n wapen uit sy kluis te gaan haal, dat daar nie altyd beheer was oor die kluis se sleutel nie, dat ander familie en vriende toegang tot die kluis gehad het en dat Tewie se huis nie altyd gesluit was nie.

Duvenhage het ook verwys na 'n vorige hofverskyning, voor die saak 'n aanvang geneem het, waar al die staatsgetuies bymekaargeroep is. Duvenhage het daarop gesinspeel dat hulle tydens hierdie bymekaarkoms voorgesê is wat om te getuig. Wessels het dit ontken en gesê dat hulle bloot byeengeroep is sodat die hofprosedure aan hulle verduidelik kon word. Duvenhage het na aanleiding hiervan gesê dit wil voorkom asof daar met hierdie saak gepoog word om die beskuldigde [Venter] ten alle koste te sink.

Duvenhage het vir Wessels gepeper oor ‘n voorval gedurende Maart 2013 toe Venter van haar probeer uitvind het waar Steyn se wapens was wat Tewie by hom kom haal het. Wessels wou glo in ‘n SMS aan Venter weet wanneer Tewie die wapens by hom gekry het en wat hy daarmee moes maak. “U kon dit in daardie stadium nie betwis dat u broer wapens by die beskuldigde gaan haal het nie,” het Duvenhage gesê.

“Ek betwis dit nie. Ek wou die man help. Ek wou kyk of ek die wapens kry, want dit is wat hy [Venter] vir my gevra het. Ek kan nie die spesifieke SMS onthou nie ... maar ek het ‘n SMS gestuur, want die beskuldigde het my getreiter oor daai goed [wapens], en ek wou dit net afgehandel kry,” het sy getuig.

Die SMS wat Duvenhage aan die hof voorgehou het as dié van Wessels aan Venter was op ‘n blanko papier neergepen, soos wat Venter dit blykbaar kon onthou as die oorspronklike bewoording. Duvenhage se versoek dat dit as ‘n bewysstuk ingehandig word is egter van die hand gewys, nadat die hof bevind het dat Duvenhage nie wetlik kon bewys dat dit wel as ‘n amptelike dokument ingedien kon word nie.

Volgende in die getuiebank vir die Staat was Wessels en Tewie se swaer, mnr. Bertus Guillaume. Hy het getuig dat hy vanaf 2006 tot 2013 nooit enige handwapens in Tewie se kluis gesien het nie. Hy het getuig dat hy gereeld saam met Tewie in sy kluis gekom het.  “Daar was nooit handwapens in sy kluis nie, omdat hy dit nie kon gebruik nie,” het Guillaume getuig, met verwysing daarna dat Tewie van die nek af ondertoe verlam was en nie 'n handwapen kon hanteer nie. Guillaume het ook getuig dat Tewie nooit met hom gepraat het oor Steyn se wapens nie en dat hy ná Tewie se afsterwe net een jaggeweer, wat in sy swaer se kluis was, aan Venter teruggegee het. Dié geweer was ‘n wapen wat Tewie in die proses was om op te bou en aan te koop van Venter. Ten tye van sy afsterwe was die lisensiedokumente nog nie afgehandel nie. Guillaume het getuig dat Venter die wapen na Tewie se dood teruggevra het en dat hy [Guillaume] dit aan hom terugbesorg het. Hy het verder getuig dat hy op die polisie se versoek Tewie se wapens nagegaan het en nie Steyn se wapens kon vind in Tewie se kluis nie. “Al die wapens in Tewie se kluis is geregistreer op sy naam; daar was nie ander handwapens in die kluis nie,” het Guillaume gesê.

Duvenhage het ook vir Guillaume gevra of hy sou weet van wapens wat uit Tewie se kluis weggeraak het. Guillaume het dit ontken. Duvenhage het ook vir Guillaume, net soos vir Wessels, daarvan beskuldig dat hy nie altyd by die huis was nie en derhalwe ook nie kon verslag doen van Tewie se dag-tot-dag doen en late nie. Adv. Duvenhage het dit ook aan Guillaume gestel dat sy kliënt sal getuig dat hy nooit die wapen wat hy [Guillaume] beweer hy aan Venter terugbesorg het, ontvang het nie.

Die laaste getuie van die dag was mev. Thea Oosthuizen, saakgelastigde van die NG Kerk Soutpansberg.

Duvenhage het heftig beswaar gemaak dat Oosthuizen toegelaat word om te getuig. “Hierdie getuienis is tot nadeel van my kliënt en het glad nie betrekking op hierdie saak nie,” het hy gesê. Die hof het egter gesê dat daar kennis geneem word van die beswaar, maar dat die hof Oosthuizen se getuienis gaan toelaat. Die hof sal egter die beswaar ten opsigte van relevansie in ag neem by beslissing.

Verrigtinge is hierna vir ‘n paar minute onderbreek om vir adv. Duvenhage kans te gee om met sy kliënt te konsulteer. Toe die saak hervat het, het Oosthuizen getuig dat Venter eers vir haar en toe vir die kerk se koster sou gevra het om ‘n persoon se handtekening te vervals op ‘n amptelike vuurwapenvorm. Sy kon nie onthou wie die persoon was nie, behalwe dat dit ‘n vrou was. Nie Oosthuizen of die koster wou die vorm teken nie. By haar weiering om te teken het Venter gesê dit sou geen verskil maak nie, aangesien die persoon oorlede is. Oosthuizen het getuig dat Venter wel ‘n dag of wat later by die kerkkantoor aangekom het om die vorm te faks, en dat dit toe geteken was.

Duvenhage het tydens kruisondervraging dit aan Oosthuizen gestel dat sy teen Venter getuig omdat sy kwaad is vir hom. Hy het verwys na ‘n geval 'n paar jaar gelede waar Venter haar by die kerk se finansiële kommissie sou aangegee het nadat geld na bewering weggeraak het uit die kerkkantoor. Hierop het Oosthuizen gesê dat sy weet van die voorval, maar dat daar ‘n ondersoek was en dat die ondersoek niks teen haar kon vind nie en dat die saak laat vaar is.

Duvenhage het daarna ook verwys na ‘n voorval waar Oosthuizen se kind in ‘n ernstige ongeluk was en hulle dringend geld nodig gehad het om hul kind in die hospitaal te besoek. Duvenhage het beweer dat sy meer geld sou geneem het uit die kerk se noodfonds as waarvoor Venter vir haar toestemming gegee het. Oosthuizen het dit ontken en getuig dat sy kwitansies gelewer het van al hul onkoste, asook dat sy alle ekstra geld aan die kerk terugbetaal het. Sy het ook gesê dat daar nooit ‘n stryery hieroor was nie, behalwe dat Venter later sou ontken het dat hy haar toestemming gegee het om die geld te gebruik.

Nog ‘n rede waarom Oosthuizen teen Venter getuig, het Duvenhage aangevoer, is omdat Venter ook ‘n saak van bedrog teen haar aanhangig gemaak het. “…onthou u dit? Dat u sy handtekening sou vervals het?” Oosthuizen het hierop gesê dat sy daarvan weet, maar dat haar bewyse ingehandig is dat dit nie so is nie. Hierdie klag van bedrog het Venter sowat drie weke voor die begin van sy verhoor vroeër hierdie maand, teen Oosthuizen gaan lê. Oosthuizen het haar verklaring teen Venter op 19 Junie 2013 gelê.

Venter het ook by monde van Duvenhage erken dat hy in ‘n stadium aan Oosthuizen en die koster sou gevra het om 'n vorm te teken. “Hy sê hy het dit nie ernstig bedoel nie, want hy was bietjie in ‘n penarie gewees. Die vorm wat hy gehad het, was weg gewees en hy het grappies gemaak,” het Duvenhage gesê. Hierop het Oosthuizen geantwoord dat nie sy of haar kollega Venter se versoek as ‘n grap beskou het nie, en dat hy lieg as hy sê dit was as ‘n grap bedoel.

“U praat die waarheid - hy lieg. Hy sê dit weer andersom,” het Duvenhage gesê.

Ná Oosthuizen se getuienis is Venter se verhoor uitgestel na 26 Junie. Na verwagting sal die Staat die hele dag afstaan aan die getuienis van kol. Bez Bezuidenhout van die polisie se plaaslike vuurwapen-afdeling ten opsigte van die polisie se ondersoek teen Venter.

 
 
 

Viewed: 596

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT