ADVERTISEMENT:

 

 
 

Boesemvriende, Jacques Jordaan (voor) en Raymond Pieterse op die viswaters. Foto verskaf.

Sy plek is leeg

Date: 08 February 2016 By: Isabel Venter

Die een oomblik was die twee boesemvriende nog op pad huis toe ná ‘n visvanguitstappie - iets waarvoor albei baie lief was – maar die volgende oomblik kom die skoknuus dat hulle in ‘n gru-ongeluk betrokke was.

Familie en vriende het verslae gestaan met die nuus dat die 20-jarige Raymond Pieterse op slag dood is in die ongeluk, terwyl sy boesemvriend, die 20-jarige Jacques Jordaan, ernstig beseer is.

Jacques het blykbaar bietjie in die bakkie gedut, terwyl Raymond terugbestuur het Louis Trichardt toe. Hulle het gaan visvang by die Nandoni Dam. Niemand weet wat presies gebeur het nie, maar daar word vermoed dat Raymond ‘n botsing probeer vermy het met ‘n ander voertuig. In die proses het sy bakkie die pad verlaat, teen ‘n wal uitgeploeg en omgeslaan.

Raymond is uit die bakkie geslinger en het noodlottige kopbeserings opgedoen. ‘n Erg beseerde Jacques het tevergeefs Raymond probeer help en bybring. “Ons kon hoor hoe Jacques vir Raymond bly skreeu het om by te kom in die ambulans... maar Raymond was klaar weg toe ons op die toneel gekom het,” het bewoë pa Rhyno Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

“Hy was so ‘n saggeaarde kind gewees … altyd behulpsaam. Sy hartjie was maar klein gewees ... hy het mense altyd gehelp, partykeer ten koste van homself,” het Raymond se stiefma Corna bygevoeg. “Ek wil dit net duidelik maak dat alkohol nie die oorsaak van die ongeluk was nie, die stories en gerugte in die dorp is vreeslik ontstellend,” het Corna gesê.

Rhyno en Corna is platgeslaan. Hulle was reeds besig om ‘n spesiale partytjie te beplan vir Raymond se 21ste verjaarsdag wat in Maart sou gewees het.

Raymond was ‘n Triegie in murg en been. Hy het beide sy laer- en hoërskoolloopbaan hier in Louis Trichardt voltooi. Hy was op skool ook ‘n kranige rugbyspeler en is selfs gekies vir die Cravenweek-span. Ná skool het hy by Bridge Motors, saam met pa Rhyno in ‘n span gewerk, om sy ambag as meester tegnikus te voltooi. Raymond sou juis in Oktober vanjaar sy diploma hierin ontvang. “Nou is sy plekkie in ons span leeg,” het Rhyno gesê.

Raymond was hardwerkend en was besig om sy eie bakkie en boot af te betaal. “Hy was mal oor visvang en jag ... hy het geleef daarvoor,” het Rhyno gesê. “My seun was ook besig om hard te oefen, hy wou weer hierdie jaar vir die dorp se eerste rugbyspan speel ... hy was altyd so op en wakker en vol lus vir die lewe.”

Jacques was teen druktyd nog in die Zoutpansberg Privaathospitaal vir behandeling. Hy verwerk sy vriend se dood baie moeilik. Volgens Rhyno is dit Jacques se hoop dat hy genoegsaam sal kan herstel om sy vriend se begrafnis by te woon. “Hy het klaar gesê dat hy graag Raymond se boot wil koop, omdat hulle soveel special memories en goeie tye gehad het op die boot,” het Rhyno gesê.  

‘n Begrafnisdiens was Vrydag, 5 Februarie, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt vir Raymond gehou. Hy word oorleef deur pa Rhyno, ma Corna, suster Chantel, broer Ian en oupa en ouma Raymond en Hyla. Die familie het hul dank uitgespreek teenoor almal wat hulle bygestaan het tydens en ná die ongeluk, met spesiale dank aan Johan en André Gilfillan, ds. Corné Burger, Maartin’s Funerals en Border Motors wat Raymond se hondjie, Russel, opgespoor het, nadat hy weggehardloop het vanaf die ongelukstoneel.

 
 
 

Viewed: 6351

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Langs en op die viswaters was waar wyle Raymond Pieterse die gelukkigste was. Foto verskaf.

Wyle Raymond Pieterse (20). Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT