ADVERTISEMENT:

 

 
 

Klein Leo in die Unitas Hospitaal waar hy tans chemoterapie ontvang. Foto verskaf.

Dapper klein Leo

Date: 20 June 2016 By: Isabel Venter

Alhoewel kanker so te sê oornag ‘n Louis Trichardt-gesin se bestaan ingrypend verander het, sal hulle nie ingee en toelaat dat dit hulle onderkry nie.

Klein Leo Botha was maar net 14 maande oud toe hy met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is. Sy ouers, Cherise en Jaydee, sal dié dag, 13 April, nooit vergeet nie.

Hulle blou-oog kind was die week tevore siek en het baie naar geword en opgegooi. Ma Cherise, terwyl sy terugdink aan die tyd voor hul gesin se lewe verander het, vertel dat Leo nog nooit vantevore regtig siek was nie. Aanvanklik het sy gedink Leo sny tande. Hy het egter siek gebly en Cherise is met Leo dokter toe. Hy het antibiotika ontvang vir sy simptome, wat hulle voorgedoen het as ‘n verkoue gekoppel met oorontsteking.

Dit was kort voor die naweek gewees. Leo het egter steeds nie beter geword nie. Inteendeel, hy het sieker geword, was koorsig en het gehuil van die pyn as Cherise aan hom raak.

Cherise het die opvolgende Maandag vir Leo terug gevat dokter toe. Daar het toe al intussen blou kolle en blasies op Leo se beentjies uitgeslaan, wat sy dokter laat vermoed het dat sy wit bloedtelling laag kan wees. Die vermoede is bevestig, en Leo se bloed is toe oornag na Polokwane gestuur om die presiese oorsaak te bepaal.

Die volgende dag is Cherise in die dokter se kantoor meegedeel dat Leo kanker het en onmiddellik behandeling moet ontvang. “Ek moet eerlik wees, ek het nie onmiddellik geregistreer wat die dokter als gesê het ná kanker nie ... dit was alles onwerklik,” het Cherise gesê.

Sy en Jaydee moes dadelik met Leo deurjaag na Pretoria, waar hy opgeneem is in die Unitas Hospitaal vir intensiewe chemoterapie. Leo se ouer boetie, Alexander (5), moes noodgedwonge by die huis agterbly by familie. Akute limfoblastiese leukemie is ‘n baie aggressiewe kanker en kan vinnig versprei as dit nie dadelik behandel word nie. Boonop was Leo se witbloedtelling so laag dat daar nie langer gewag kon word met behandeling nie. “Ons het laat die middag by die hospitaal gekom, en al was al die dokters en personeel baie vriendelik, het dit steeds onwerklik gevoel,” het Cherise Dinsdag gesê tydens ‘n telefoniese onderhoud met die koerant.

‘n Baie emosionele tyd het vir hulle gesin gevolg. Ouboet Alexander en pa Jaydee kan nie altyd saamgaan as Leo chemo moet kry nie. “Dit is ‘n op en af ding ... party dae gaan dit goed, ander dae is my engel in soveel pyn. Laasweek was hy baie siek gewees en moes hy suurstofbehandeling ontvang ... hy is nog so klein, hy kan nog nie praat om te sê waar dit seer is nie,” het Cherise gesê.

Leo moet elke kort-kort, vir ten minste die volgende nege maande, nog behandeling ontvang. ‘n Beenmurgoorplanting is nog nie nodig nie, en Leo se dokters sal later daaroor besluit. “Ons is gedetermineerd dat Leo se kanker ons nie gaan onderkry nie, en glo en vertrou vas dat hy 100% gesond gaan word,” het Cherise gesê.

Cherise was ook diep geraak oor die belangstelling en ondersteuning wat hulle gesin ontvang van Louis Trichardt se inwoners. Leo se mediese onkoste en behandeling word grootliks gedek deur ‘n mediese fonds, maar skiet nog te kort as dit kom by die daaglikse lewenskoste.

Dit is juis om hierdie rede dat verskeie individue en besighede in die dorp begin het om geld in te samel om die gesin uit te help. Ladies Circle 4 in Louis Trichardt het verlede week ook tydens die jaarlikse bloedskenkdag van Laerskool Louis Trichardt help bloed insamel vir Leo.

Cherise het verduidelik dat daar pal ‘n tekort aan bloedplaatjies is vir kankerlyertjies net soos Leo. “Ons kom nog klaar, en kan Leo bystaan, maar hier is ander ouers wat dit baie slegter af het as ons en dan moet hulle kindertjies nog dae wag vir plaatjies want daar is net nie bloed nie,” het Cherise gesê. Haar wens is dat mense meer betrokke sal raak by die stryd teen kanker. “Daar is soveel maniere wat kankerpasiënte gehelp kan word – nie net ons nie – mense kan beenmurg of bloed skenk, geld gee aan hulle plaaslike kankerorganisasie of aan KANSA. Elke bydrae help en daar is gesinne wat dit beslis nodig het,” het Cherise gesê.

Intussen het Ouboet Alexander se skooltjie, KleuterKampus, ‘n fondsinsameling gereël vir Leo op Donderdag (16de), waartydens hulle pannekoek en ander lekkernye verkoop het in die Soutpansberg Spar se parkeerterrein. Die skooleienaar, Liezl Botha, kan gekontak word vir meer inligting by tel. 078 423 7778.

 

 
 
 

Viewed: 3664

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Klein Leo in die Unitas Hospitaal waar hy tans chemoterapie ontvang. Foto verskaf.

Klein Leo in die Unitas Hospitaal waar hy tans chemoterapie ontvang. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT