ADVERTISEMENT:

 

 
 

Gertien Viviers met ‘n handvol “trots” in haar makadamiaboorde. Sy is vir die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as naaswenner van die TLU SA se Jongboer van die Jaar kompetisie.

Boer van formaat

Date: 19 September 2016 By: Andries van Zyl

‘n Jong boervrou van die Soutpansberg, Gertien Viviers, het weereens gewys dat sy geensins hoef terug te staan vir enige iemand nie, nadat sy vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar aangewys is as naaswenner in die TLU SA se Mutual & Federal Agri en Manitou SA se Jongboer van die Jaar kompetisie.

Die 35-jarige Gertien was die enigste vroue-finalis in hierdie gesogte jaarlikse kompetisie, waarvan die prysuitdeling verlede Woensdag in Pretoria plaasgevind het tydens die TLU SA se jaarlikse kongres. “Mens wil altyd weet waar staan jy met jou boerdery en jy wil jouself meet teenoor ander in die bedryf. ‘n Mens wil mos maar altyd beter,” het Gertien Dinsdag gesê, tydens die koerant se besoek aan haar en haar pa, Doors le Roux, se boerdery op hulle plaas Rondommooi naby Levubu. Dit, het sy gesê, is die rede waarom sy glo dit is belangrik om vir kompetisies soos hierdie in te skryf.

Gertien, lid van TLU SA Noord se Levubu Boerevereniging, se hoofbedryf is die produksie van makadamianeute vir die mark. Hul plaas beslaan sowat 70ha, waarvan 50ha uit makadamiaboorde bestaan en 20ha uit koejawelboorde. In ‘n goeie jaar lewer hulle gemiddeld sowat 180 ton neute aan die fabrieke vir die uitvoermark. “Maar vanweë die afgelope jaar se knellende droogte was die oes heelwat kleiner,” sê Gertien.

Gertien spog met ‘n graad in finansiële bestuur en het eers op 28-jarige ouderdom begin boer. “My pa het vir ons as kinders gesê ons sal almal eers gaan studeer. Die graad was iets om op terug te val. Van kleins af wou ek egter nog altyd geboer het,” het Gertien gesê. Op 28-jarige ouderdom het sy en haar man, Fanus, toe reeds hul eie plaas in Levubu gehad. “Ons het gekoop met die idee om saam te boer. My pa hy my egter vinnig daar weggevat en gesê hy het iemand nodig op Rondommooi. Vanweë sy betrokkenheid by die TLU SA Noord en plaaslike boereverenigings moes hy baie vergaderings bywoon en kon nie by alles op die plaas uitkom nie,” het Gertien gesê.

Sedertdien het Gertien nog nooit weer teruggekyk nie. Fanus, wat ook ‘n makadamiaboer is, is volstoom aan die gang op hul plaas in Levubu, terwyl sy die leisels op Rondommooi oorgeneem het. “My pa is steeds hier en hou nog ‘n oog, maar ek het basies beheer op die plaas oorgeneem. Ons werk goed saam en dit is vir my lekker dat hy hier is vir raad en hulp,” het Gertien gesê. In dieselfde asem voeg sy by dat Fanus voorwaar haar steunpilaar is en dat hulle mekaar goed ondersteun met raad oor en weer. So deur hul besige boederyskedule is Gertien en Fanus ook volwaardig pa en ma vir twee jong dogtertjies, Jienie (9) en Steph-Mari (6).

Om die omvang van Gertien se tweede plek vir die tweede agtereenvolgende jaar in perspektief te plaas, is dit belangrik om te noem hoe straf die kriteria is waarvolgens jongboere jaarliks beoordeel word. Eerstens moet die boer 35 jaar of jonger wees. Daarna word daar na alle aspekte van sy of haar boerdery gekyk. Op teoretiese vlak word daar onder meer gekyk na die boerdery se finansiële stelsel, boekhouding, begroting, arbeidsbestuur en -kontrakte, risikobestuur en besigheids- en boerderybeplanning. Eers daarna word ‘n kortlys van finaliste opgestel, waarna die beoordelaars hulle boerderye vir ‘n praktiese evaluering besoek.

Gertien is geensins onseker oor haar plek as vroueboer in ‘n bedryf wat tradisioneel deur mans oorheers word. “Ek het nog van geen man die idee gekry van ‘Jy is ‘n vrou in ‘n manswêreld en ons respekteer jou nie’. Inteendeel, in Levubu is daar talle vroue wat boer en die mans in die streek ag hul opinies hoog,” het Gertien gesê.

Die opgewondenheid en entoesiasme waarmee Gertien praat oor haar boerdery, spreek van ‘n ware passie vir die bedryf. Sy is positief oor haar toekoms as boer in die land, ten spyte van talle onsekerhede, soos die alomteenwoordige dreigemente van grondhervorming en -onteiening. “Die uitdagings is daar. Mens voel maar benoud daaroor, maar tog gaan ‘n mens aan. Wat anders kan ons doen? Daar is nie vir ons iets anders nie, want ons wil nie iets anders doen nie,” het Gertien gesê.

Hierdie positiwiteit is ook duidelik te bespeur in haar toekomsvisie vir haar boerdery. Sy en haar pa wil weer begin fokus op koejawels, aanvullend tot die makadamia’s. Pa Doors se hoofbedryf was aanvanklik koejawels. Nadat hy die plaas in 1981 gekoop het, was sy plan om met avokado’s te boer. Hy is egter heel “onseremonieel” deur ‘n vriend meegedeel dat sy grond geensins geskik is vir avokado’s nie en dat koejawels die enigste ding is wat daar sal groei. “Jy kan dink hoe het ek gevoel toe hy my dit nou vertel. Net daar val my hele kaarthuisie inmekaar. Toe plant ek maar die koejawels en dit was die beste ding wat ek ooit gedoen het,” het Doors tydens die onderhoud gesê.

Teen die laat 1990’s het Doors egter besluit om bietjie te diversifiseer en sy risiko te versprei deur weer te begin met makadamia-aanplantings en -produksie. Dit was ‘n besluit wat later sy boerdery sou red. Sy koejawelbome het almal gevrek vanweë verwelk-siekte – ‘n swamsiekte waarvoor daar geen behandeling is nie.

Tans kyk Gertien en pa Doors na moontlikhede om weer hul koejawelboorde aan die gang te kry. “Die makadamia’s dra ons goed, maar alles wat jy hier om jou sien is: Dankie koejawels! Ek bly maar lief vir koejawels. Laat ek vir jou sê, daar is niks wat nie van ‘n koejawel hou nie, behalwe sommige mense,” het Doors met ‘n glimlag gesê.

Wat die onmiddellike toekoms betref, is Gertien eweneens optimisties. “Die bome is tans besig om te set en ons hou ons asems op. Hulle het goed geblom en ons hoop maar vir die beste en dat daar binnekort reën sal kom,” het Gertien gesê.

 
 
 

Viewed: 1360

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Om ‘n sukses van jou boerdery te maak, verg daaglikse harde werk. Dinsdag was Gertien en haar arbeiders in haar makadamiaboorde besig om die bome bietjie terug te snoei vir beter lug en bespuiting – alles ter voorbereiding vir hopelik ‘n goeie oesjaar.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT