ADVERTISEMENT:

 

 
 

Beide mens en dier is dankbaar vir Desember se goeie reënval oor die streek. Veral noord van die Soutpansberg wys die aarde haar dankbaarheid met elke veldblommetjie in volle blom.

Bosveld en boere baie dankbaar vir lekker nat Kersfees

Date: 11 January 2024 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt en omstreke was lekker nat oor Desember, veral vanaf Kersdag tot Nuwejaar, met inwoners van Louis Trichardt wat tot 360 mm reën gemeet het vir die maand. Alhoewel hierdie ‘n bogemiddelde reënval vir die dorp was, het ander areas om die dorp heelwat minder reën gemeet en in gevalle was die reënval ondergemiddeld.

Mnr Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, het Dinsdag gesê dat hy op Levubu maar sowat 171 mm gemeet het, minder as gemiddeld. Dit stem ooreen met voorspellings dat Suid-Afrika (soos baie ander lande ook) minder as normale reën kan verwag vanweë die La Niña effek, wat droëer toestande tot gevolg kan hê.

Einde verlede jaar het Havinga ‘n voorspelling gewaag dat die streeks se eerste “goeie” reën eers nader aan Kersfees sou begin val, en wat dit betref was hy in die kol. “Dit was wonderlike reën gewees en ek was bly dat my voorspelling reg was dat ons so bietjie kon afkry tussen Kersfees en Nuwejaar,” het Havinga gesê.

Alhoewel dit heelwat minder om Louis Trichardt gereën het, het reën oral geval. “Rondom Louis Trichardt, noord van die berg, Vivo en Bandelierkop het ook reën gehad, so die hele streek het mooi reën gehad,” het Havinga gesê.

Havinga het egter genoem dat, wat vorige jare betref, hulle ‘n klein bietjie onder die gemiddelde reënval vir Desember ontvang het. “Maar dit is steeds dankbare reën wat ons gehad het. Dit was mooi, sagte en deurdringende reën gewees wat nie net weggespoel het nie. Alles het mooi in die grond ingegaan en dit was fantasties gewees!”

Wat watervlakke betref, het Havinga gesê hy het beslis ‘n styging gesien. “Ek sien die Albasinidam is amper vol. Toe dit so lekker gereën het, het ek met hulle [Departement van Waterwese] gepraat om te hoor of hulle gaan oopmaak, maar hulle het glad nie gedagtes gehad om enige water uit te laat nie. Wat ander opvangdamme betref, het al die ander damme ook water gekry. Ek weet selfs die damme noord van die berg het almal bietjie water bygekry. Die damme is nog nie vol nie, maar ons reënseisoen is darem nog tot Maart/April as ons gelukkig is dat ons reën kan kry,” het Havinga gesê. Hy het bygevoeg dat die streek se ondergrondse watertafels vir seker gebaat het by Desember se mooi reën.

Wat Havinga se verwagting vir reën in Januarie en Februarie betref, het hy gesê hy is baie versigtig. “Ek dink nie ons moet baie reën verwag nie. As ons weer reën gaan kry, gaan dit later in die jaar wees, teen Maart/April, wanneer ons weer goeie reën gaan kry. Ons kan Januarie nog kry, so bietjie-bietjie, maar my voorspelling gaan wees dat ons ondergemiddeld reën gaan kry,” het hy gesê. Hy skoei sy voorspelling op wat hy glo die korrelasie tussen November en Februarie se reënval is. Sy ervaring is dat as dit November nie goed gereën het nie, wat verlede jaar die geval was, gaan dit die opvolgende Februarie ook nie goed reën nie.

Alhoewel die neerslae dalk bietjie ondergemiddeld was, het Havinga gesê dat alle gewasse goed gebaat het by die lekker nat weer. “Daar is nie een plant wat nie dankbaar is vir die reën nie. Selfs die kleinste veldblommetjie was dankbaar vir hierdie goeie Kersfees wat ons gehad het. Net ná Kersfees was ons op Mopanie gewees en dit was net wonderlik om te sien tot die kleinste blommetjies op die grond was almal vol in blom gewees,” het Havinga afgesluit.

 

 
 
 

Viewed: 720

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT