ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Gustavus Trichardt, ‘n agter-agterkleinkind van Voortrekkerleier Louis Tregardt, het die dorp in Desember besoek.

Louis Trichardt kom kuier op Louis Trichardt

Date: 13 January 2024 By: Anton van Zyl

Die dorp Louis Trichardt het gedurende die Desember-vakansie besoek gekry van ‘n “naamgenoot”, naamlik Louis Gustavus Trichardt. Hy is ‘n agter-agterkleinkind van Voortrekkerleier Louis Tregardt, wat in 1836 tot 1837 deur die Soutpansberg-gebied getrek het en vir ‘n tyd lank hier gewoon het.

Die spelwyse van Tregardt of Trigardt het deur die jare heelwat verwarring veroorsaak. Die Voortrekkerleier het sy van op verskeie maniere gespel, maar die konsensus is dat dit teruggaan na die Sweedse woord trädgard, wat tuin beteken. Louis Tregardt is op 10 Augustus 1783 in die Swellendam distrik gebore in die wyk Kango, vandag bekend as Oudtshoorn. Sy vader was Carolus (Karel) Johannes Tregard en sy moeder Anna Elisabeth Nel. Louis was 'n kleinseun van Carolus Gustav Tregard wat in 1742 uit Swede as seeman in diens van die VOC na die Kaapkolonie geïmmigreer het.

Die spelling van die van is ná 1881 na Trichardt verander weens 'n misgissing dat die familie van Franse afkoms was.

Toe Tregardt in 1835 besluit het om die Kaapkolonie te verlaat en die lang trek na die noorde aan te pak, was al vyf sy kinders reeds gebore. Louis is getroud met Martha Elizabeth Susanna Bouwer en hul eerste seun, Carolus Johannes Trichardt (Karel), is in 1811 gebore. Die derde kind, Petrus Frederik Trichardt (Pieta) is op 30 Oktober 1819 in Uitenhage gebore. Die twee seuns asook hul jonger broer, Louis Gustaaf, het die trek meegemaak.

Die Tregardt-trek het vanaf Mei tot Augustus 1836 by die soutpanne aan die westelike kant van die Soutpansberg uitgespan. Tussen September 1836 en Mei 1837 het Tregardt en sy geselskap in die omgewing van die latere Schoemansdal gewoon en toe op die terrein van die huidige Louis Trichardt. Hierna het hulle vir ‘n kort tydperk by Brakspruit en later by die sameloop van die Brakspruit en die Dorpsrivier gewoon. Die trekgeselskap is toe vort na die destydse Delagoabaai (vandag Maputobaai in Mosambiek) waar Louis Tregardt in 1838 oorlede is nadat hy malaria opgedoen het. Sy vrou en sy oudste seun, Karel, se vrou en een kind het ook gesterf in die hawestad.

Karel het in Junie 1838 saam met ’n Portugese kusvaarder noordwaarts vertrek en ‘n groot deel van Oos-Afrika gaan verken. Hy was die vader van kolonel Stephanus Petrus Erasmus (S.P.E.) Trichard wat onder meer betrokke was tydens die Mphephu oorlog in 1898. Hy was bevelvoerder van die staatsartillerie-eenheid wat die tydelike staalforte hier opgerig het. Fort Hendrina, wat as nasionale monument verklaar is en tans langs die dorpsbiblioteek gehuisves word, is die enigste oorblywende fort.

Die aandag skuif egter na Pieta Trichardt, wat hom eers in Middelburg (Transvaal) gevestig het en later jare na Rustenburg verhuis het. Hy is getroud met Susanna Sophia Erasmus en hulle het vier kinders gehad. Hul oudste seun, Jakob Laurens Carolus (Jaap) is die oupa van bekende akteur Karel Trichardt. Hul derde kind, Louis Gustavus (Lewies), is op 8 Junie 1845 gebore. Pieta Trichardt is in 1836 op die rype ouderdom van 91 oorlede.

Lewies Trichardt is getroud met Catharina Sophia Petronella Smit. Die egpaar het drie dogters en ses seuns gehad. Die tweede jongste seun, Jan, is op 15 Februarie 1890 in Rustenburg gebore. ‘n Interessante brokkie inligting is dat Jan, tesame met sy ouers en ses van sy broers en susters, gevange geneem is in 1901 tydens die Anglo-Boereoorlog en in die konsentrasiekamp op Irene aangehou. Jan is in Maart 1981, ook op die ryke ouderdom van 91, oorlede.

Jan was getroud met Anna Susanna Enslin en hulle het net een seun gehad, Louis Gustavus. Hy is op 10 Oktober 1935 gebore. Dit is dan ook dié Louis Gustavus Trichardt wat gedurende Desember by vriende in Louis Trichardt kom kuier het.

Buiten dat hy bietjie sukkel met sy gehoor, is “Oom Louis” nog baie gesond en stap graag. Hy was baie jare verbonde aan die destydse Yskor op Thabazimbi, waar hy as personeelbestuurder gewerk het. Een van sy groot liefdes was egter nog altyd sy Brahmaanboerdery.

Hy is steeds betrokke by die boerdery, Eltricha Brahmane, en baie trots op die beeskudde. In November verlede jaar het een van hul stoetbulle die beste prys by die Au Albidus-veiling opgelewer toe dit vir R170,000 verkoop is.

Oom Louis is ook ‘n baie entoesiastiese geskiedenis navorser en het onder meer ‘n boek geskryf oor die Jerusalem-trek. Dit handel oor die klein groep Voortrekkers wat rondom 1860 die Kaapkolonie verlaat het op soek na die Heilige Land. Hulle het ‘n rivier gevind wat noordwaarts vloei (naby wat vandag as Modimolle bekendstaan) en besluit dit is die Nyl. Die dorp, wat Nylstroom gedoop is, is in 1866 hier gevestig.

 

 
 
 

Viewed: 1252

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT