ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Andorette Bonnema (46). Foto verskaf.

Gemeenskap treur saam met Bonnema-familie

Date: 19 January 2024 By: Andries van Zyl

Familie en vriende is stomgeslaan met die nuus van die skielike dood van die 46-jarige Andorette Bonnema, enigste dogter van oud-inwoners van Louis Trichardt Hannetjie en wyle ds. Harm Bonnema.

Ma Hannetjie het Dinsdag vertel hoe hulle verlede week pas teruggekeer het vanaf ‘n besoek aan die Kruger Nasionale Wildtuin. Andorette, wat altyd in goeie gesondheid was, het begin kla dat sy nie lekker voel nie. Hannetjie het haar toe dokter toe gevat op 10 Januarie.

“Hulle het vir ons gesê sy het ‘n keelinfeksie. Sy het vreeslik koors gekry en opgebring,” het Hannetjie gesê. Andorette is met medikasie huis toe gestuur. By die huis het sy op haar bed gaan lê en aan die slaap geraak. “Toe sy daar wakker word, kon ek sien sy was  ongelooflik gedisoriënteerd. Toe vat die seuns en ek haar hospitaal toe [die Cormed-privaathospitaal in Vanderbijlpark]. Sy het die nag daar oornag, en die volgende oggend vroeg het hulle my gebel en gesê ek moet hospitaal toe kom, Andorette het asemnood. Nog voordat ek daar kon kom, was sy weg gewees … Ek het nie woorde nie…” het Hannetjie Dinsdag aan die koerant gesê. Andorette is vroeg die oggend van 11 Januarie oorlede.

Volgens Hannetjie bestaan die vermoede dat Andorette se hart skade kon opgedoen het vanweë die keelinfeksie wat na haar longe toe versprei het. “Dit was maar ‘n sameloop van omstandighede,” het Hannetjie gesê.

Andorette,, en veral ma Hannetjie en oorlede pa Harm het min bekendstelling in Louis Trichardt nodig. Sy is op 31 Oktober 1977 in Vereeniging gebore en het op sesjarige ouderdom, in 1983,  saam met haar ouers na Louis Trichardt verhuis. Sy het skoolgegaan by Laerskool Louis Trichardt en daarna hoërskool voltooi by die Generaal Piet Joubert Skool in Polokwane. Ma Hannetjie was in die eiendomsbedryf en pa Harm vanaf 1983 tot 1990 ‘n leraar by die NG Kerk Soutpansberg en vanaf 1990 tot 2005 leraar by die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente.

Die jaar 2005 was ook die jaar wat die familie na Vanderbijlpark verhuis het, waar die Bonnemas betrokke was by die familie se granietbesigheid. Ds. Harm is in Augustus 2017 oorlede.

Andorette het voltyds by haar ouers gebly, en ná pa Harm se dood was sy letterlik Hannetjie se skaduwee gewees. “Dit is baie hartseer … Sy was maar net altyd daar gewees. Ons gaan haar so baie mis, want sy het saam met my gebly ook … dit is nie maklik nie, maar gelukkig is my twee seuns al twee hier in Vanderbijlpark,” het Hannetjie gesê. Sy het na haar oudste Hendrik en jongste Harm (junior) verwys.

“Ek het net vanoggend vir my kinders gesê Andorette het nou dalk nie die geluk gehad om baie talente te ontvang nie, maar sy het die talent gehad om gelukkig te wees. Sy was ‘n gelukkige, gelukkige kind. Sy het vir alles so baie dankie gesê. Ek en sy het nou twee keer, in 2018 en 2022, vir vyf weke saam in Europa getoer ... Sy het dit so geniet en was mal oor haar musiek!” het Hannetjie gesê en bygevoeg dat hulle tydens hul besoek talle konserte en volksdanse bygewoon het.

Sport was ook vir Andorette ‘n absolute passie gewees. “Sy was ons radio, want sy het geweet wie was wat in gholf, atletiek – enige ding. Rugby, krieket, sy het die ranglys in tennis geken …  Sy het ‘n verskriklike sportkennis gehad,” het Hannetjie gesê.

Vir ma Hannetjie en hele die Bonnema-familie was haar skielike dood ‘n groot skok gewees. “Sy was so ‘n blymoedige kind en haar grootste lekker was as sy saam met die familie kon wees. Ons was nou die vakansie saam met die Bonnema-familie Alldays toe en daarna wildtuin toe en ons het terug gekom, en minder as ‘n week later, toe is sy weg!” het Hannetjie gesê.

Wyle Andorette se troosdiens vind eerskomende Vrydag, 19 Januarie, vanuit die NG Vanderbijlpark Suid-gemeente plaas. Sy word oorleef deur haar ma, twee broers en skoonsusters Jackie en Lizel.

“My hart is regtig dankbaar teenoor al die ou gemeentelede wat in hierdie moeilike tyd aan ons gedink het. Dit is regtig ‘n riem onder die hart, en dit het ons regtig deur hierdie moeilike tyd help dra,” het Hannetjie gesê. Sy het bygevoeg dat haar dogter se dood vir haar moederhart maar swaar is, maar dat sy weet die liewe Vader is die heeltyd by haar.

 

 

 
 
 

Viewed: 1636

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT