ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die BVS-sekuriteitsvoertuig waarmee Esterhuizen en Viljoen in die botsing teen ‘n boom by die rugbylapa in Desember betrokke was. Foto verskaf.

Twee wat sekuriteitsbakkie vat Maandag weer in hof

Date: 16 February 2024 By: Andries van Zyl

Twee jong mans van Louis Trichardt sal Maandag, 19 Februarie, hulle lot uitvind nadat hulle die oggend van 23 Desember 2023 ‘n sekuriteitsvoertuig buite die Grasdak sonder die eienaar se toestemming gevat het, rugbylapa toe gejaag het en onderweg teen ‘n boom gebots het.

Volgens mnr. Martin van Rensburg van BVS Sekuriteit en eienaar van die voertuig, het een van sy beheerbeamptes net ná middernag na die Grasdak gery. Hy moes ‘n bord kos gaan haal wat vir hom gereël is. Daar aangekom het hy uitgeklim en die Grasdak ingestap. Kort daarna het hy gehoor hoe sy bakkie aangeskakel word. Die fout wat hy gemaak het, was om die voertuig se sleutel in die aansitter te los. “Hy het seker gedink niemand sou so onnosel wees om ‘n sekuriteitsvoertuig te steel nie,” het Van Rensburg gesê.

Die beampte het teruggehardloop na sy voertuig, waar hy gesien het hoe twee mans, wat later geïdentifiseer sou word as die 24-jarige Werner Esterhuizen en 22-jarige Tiaan Viljoen, daarmee wegjaag. Die beampte het saam met die nagbestuurder in haar voertuig gespring en die bakkie agterna gesit.

“Toe bel hulle my. Ek het my voertuig via ‘n opsporingstelsel in Eltivillas opgetel. Hulle het ingedraai lapa toe. Kort daarna het ons die voertuig gekry waar hulle in ‘n boom vasgery het. My skoonseun JJ het net agter hulle gestop, want ek het hom ook geskakel,” het Van Rensburg gesê.

Esterhuizen en Viljoen is op die toneel gearresteer. “Nog vol bloed van die ongeluk,” het Van Rensburg gesê. Tydens hulle eerste hofverskyning is hulle saak na 18 Januarie uitgestel. Hul saak is toe weer na 19 Februarie uitgestel. Beide verskyn op ‘n klag van die gebruik van ‘n voertuig sonder die eienaar te toestemming.

Buiten die verlies van sy voertuig, wat weens die ongeluk afgeskryf moes word, het Van Rensburg verlede week die koerant kom sien met ‘n klagte oor die manier waarop die polisie tot op hede die saak hanteer het. Sy eerste vraag was waarom die polisie nie ‘n saak van voertuigdiefstal ondersoek nie. “Hulle het tog die voertuig gesteel,” het Van Rensburg gesê. Hy het ook vrae gehad oor waarom die polisie tot en met verlede week nog nie eens die nagbestuurder en sy skoonseun se verklaring kom afneem het nie. Daarbenewens het hy ook gesê dat hy verstaan nie waarom die polisie nie Esterhuizen en Viljoen se bloed getrek het op die toneel nie aangesien hulle blykbaar onder die invloed van alkohol was. Volgens Van Rensburg is hulle kort voor die voorval uit die Grasdak uitgeskop.

Vrae oor die polisie se hantering van die saak is aan plaaslike polisiewoordvoerder sers. Irene Radzilane gestuur.

Volgens Radzilane volg die polisie sekere kriteria wanneer hulle ‘n klag formuleer. Dit sluit in om ‘n klag te formuleer wat die grootste kanse het op ‘n suksesvolle skuldigbevinding in ‘n hof. Wat hierdie saak betref, is Esterhuizen en Viljoen van die gebruik van ‘n voertuig sonder die eienaar se toestemming aangekla, weens die klaer (die beheerbeampte) in die saak se aksies. “Dit is nie diefstal nie. Die bestuurder het sy voertuig onbewaak met die sleutel in die aansitter gelos,” het Radzilane gesê en verduidelik dat dit eerder voldoen aan die kriteria vir genoemde klag. Sy het verder genoem dat die beampte moes kon voorsien wat moontlik sou kon gebeur indien hy sy voertuig met die sleutels in die aansitter onbewaak buite ‘n kuierplek met moontlike dronk mense in ‘n openbare area sou los.

Wat Van Rensburg se vraag betref oor waarom geen verklarings van die nagbestuurder en sy skoonseun geneem is nie, het Radzilane gesê dat die klaer in sy A1-verklaring bloot gesê het dat hy haar van die voorval ingelig het en dat sy nie fisies ‘n getuie van die voorval was nie. Die klaer het ook nie eers in sy verklaring melding gemaak van die skoonseun nie. “Die ondersoekbeampte word gelei deur die inhoud van die verklaring wat jy as klaer maak,” het Radzilane gesê. Derhalwe is die nagbestuurder se verklaring nie geneem nie want sy is bloot ingelig aangaande die voorval, en net so ook die skoonseun, want hy word nie eers in die verklaring genoem nie.

Oor Van Rensburg se vraag oor waarom geen bloed getrek is om te bepaal of Esterhuizen en Viljoen onder die invloed was nie, het Radzilane gesê dat nêrens in die verklaring of in die dossier melding gemaak word dat hulle onder die invloed kon wees nie. “Navrae hieroor moes op die toneel gemaak word. Jy kan nie wag dat die saak vir weke aangaan en dan kom sê ‘maar die mense was dronk nie’. As jy op die toneel was, moes jy dit opgeneem het met die polisie,” het Radzilane gesê.

Wat klagte aangaande die polisieondersoek van hierdie saak betref, maar ook enige ander klagte oor ander ondersoeke, het Radzilane gesê dat hulle nog nooit onwillig was om hulle top drie bevelvoerders (speurtak, VISPOL en stasiebevelvoerder) se nommers aan die publiek beskikbaar te stel nie. Sy het derhalwe vir Van Rensburg, maar ook enige ander lid van die publiek wat ‘n klagte oor ‘n ondersoek het, uitgenooi om die plaaslike bevelvoerder van die speurtak, lt.kol. Ronald Tinyani, te skakel by tel. 076 813 0378. “As mense ongelukkig is met enige iets - ons deur is altyd oop vir hulle. Dit help ons om jou te help,” het Radzilane gesê.

Wat Esterhuizen en Viljoen se hofverskyning op 19 Februarie betref, het Radzilane bevestig dat dit sal wees ten opsigte van ‘n skikkingsooreenkoms tussen die partye.

 

 
 
 

Viewed: 1114

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT