ADVERTISEMENT:

 

 
 

Volgens plaaslike slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen is daar beslis ‘n afname in die voorkoms van slange wat betref interaksie met mense. Dit beteken egter nie dat die slange nie daar is nie. Jan meen die “skaarste” in slange te danke is aan veranderende weertoestande en minder reën. Daar is tans ook genoeg skuiling vir slange weens ruie bosse en lang gras. Afgeneem is een van die slange wat Jan wel die afgelope paar weke kon vang. Foto’s verskaf.

Skaarste van slange beteken nie hulle is nie daar nie

Date: 17 February 2024 By: Andries van Zyl

Meer oplettende inwoners het seker al agtergekom dat heelwat minder slange in die dorp opgemerk word in vergelyking met vorige jare. Maar wat sou die rede daarvoor wees?

Hierdie waarneming is Dinsdag beaam deur plaaslike slangvanger en -kenner Jan “Slang” van Rooyen. “Van ons slangvangers vang omtrent glad nie meer slange nie,” het Jan gesê. Dit gesê, is LMB Makhado se “slangvangers” bietjie meer bedrywig. “Maar hulle is letterlik in die bos,” het Jan gesê.

Volgens Jan speel veranderende weerpatrone heel moontlik ‘n groot rol daarin om die afname in die voorkoms van slange te verduidelik. “Die weer is baie deurmekaar. Dit krap die hele natuur omver,” het Jan gesê.

Laer reënval syfers in vergelyking met vorige jare en veral ‘n droër Februarie blyk die rede te wees. Inwoners sal onthou dat Jan en sy kollegas in die ooreenstemmende tyd verlede jaar heel bedrywig was. Jan het verduidelik dat dit was as gevolg van die baie reën, met slange wat uit hulle skuilings geforseer is weens die water.

Vanjaar is minder nat, maar dit beteken nie dat die wêreld nie groen en oorgroei is nie. Veral in die dorp staan die gras omtrent orals heup hoogte. Dit, het Jan gesê, is nog ‘n rede waarom mense baie minder slange gewaar, alhoewel dit nie beteken dat hulle nie daar is nie. “Hulle het genoeg skuiling en het nie nodig om baie rond te beweeg, soos om strate oor te steek nie,” het Jan gesê. Wat laasgenoemde betref het Jan gesê dat dit ook weereens bewys dat slange interaksie met mense eerder sal probeer vermy. Hy het weer inwoners versoek om nie voor die voet slange dood te maak nie.

Jan meen ook dat die beskikbaarheid van kos vir die slange ‘n rol speel. Met ‘n droër reënvalseisoen kom baie minder paddas in die omgewing voor, ‘n gunsteling maaltyd vir ‘n slang. “Wanneer laas het jy paddas of rysmiere gesien? Hulle is net die daar nie,” het Jan gesê.

Die afgelope Saterdag het Jan ‘n Mosambiekse spoegkobra by die tonnels gevang, en later die dag twee kleiner luislange. Voor dit het hy hier en daar ‘n slang gaan vang. Vir Jan is die verminderde voorkoms van slange goeie nuus. “Solank die mense hulle net nie doodmaak nie,” het Jan gesê.

Jan voorspel dat die voorkoms van slange vanaf Maart/April gaan toeneem, met die slange wat hulle begin gereed maak vir die winter. “Dan eet hulle woes, want in die koue tye [winter] eet hulle nie regtig so baie nie. Dit is ook hoekom jy nie sommer ‘n slang in die winter sal opmerk nie,” het Jan gesê. Dit beteken egter nie dat hulle glad nie opgemerk word nie. “Hier by ons hiberneer slange nie regtig oor die winter nie, want dit word nie so koud nie,” het Jan gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1054

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT