ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die skade aan 'n gedeelte van me. Cora Claassens se heining. Foto verskaf.

Bestuurder hardloop weg na hy deur heining bars

Date: 25 April 2024 By: Karla van Zyl

Saterdag, 20 April, het groot 'n verrassing ingehou vir die 65-jarige me. Cora Claassens van Louis Trichardt, maar ‘n lekker verrassing was dit beslis nie!

Omstreeks 20:30 het Claassens begin gereed maak om te gaan slaap. Haar aand sou egter glad nie rustig verloop nie. Skielik het ‘n harde slag weerklink, die huis het geruk en die krag was af.

Claassens is uit die bed uit om te gaan kyk wat gebeur het. Buite het sy gesien dat net haar huis se krag af was. Terselfdertyd het sy ‘n motor, ‘n Mercedes Benz, gesien wat deur haar heining gebars, 'n groot struik ontwortel en in haar erf gestaan het.

Claassens, wat op die hoek van Jeppe- en Kleynhansstraat bly, se bure was toe ook reeds buite op die toneel. Beide die polisie en die ambulans is geskakel. Van die bestuurder van die voertuig, wat later as ‘n Zimbabwiese burger geïdentifiseer sou word, kon geen teken gevind word nie. Hy het vanaf die toneel weggehardloop. Die vermoede bestaan dat hy waarskynlik onder die invloed van alkohol was.

Weens die skade aan haar hek en palissade-heining het Claassens die polisie op die toneel genader. Sy wou ‘n saak maak om ‘n saaknommer te kry vir haar versekering. Groot was haar ontnugtering, volgens Claassens, toe die polisiebeampte vir haar sê dat sy nie ‘n saak kon oopmaak nie, omdat die verdagte gevlug het.

By nadere ondersoek is vasgestel dat die motor waarmee die verdagte gery het in die sorg geplaas is van ‘n plaaslike paneelklopper, mnr. Wilson Bwanali (48), wat ‘n klein besigheid bedryf. Die voertuig is blykbaar sonder toestemming vanaf sy perseel verwyder, waar die verdagte ook gebly het. Bwanali het Sondag gaan kyk of al die voertuie nog op sy perseel staan, waarna hy opgemerk het die een is weg. Hy het dadelik die eienaar van die voertuig geskakel en gevra of hy dit kom haal het. Die eienaar het dit ontken. Net daarna het Bwanali ‘n oproep ontvang van ʼn kollega aangaande die ongeluk. Bwanali en die eienaar van die voertuig is daarna saam na Claassens se huis toe, waar die voertuig steeds gestaan het.

Bwanali het bevestig dat die 23-jarige verdagte toegang tot die motors gehad het. Die sleutels van die Mercedes Benz was op die perseel gewees, aangesien hulle nog besig was met herstelwerk. Twee 750 ml drankbottels is in die voertuig gevind, waarvan een leeg was, het Bwanali gesê.

By navraag oor waarom Claassens na bewering gesê is dat sy nie ‘n saak kon maak nie, het plaaslike polisiewoordvoerder sersant Irene Radzilane Dinsdag die bewering ontken. Sy het Claassens versoek om na die aanklagkantoor te gaan en te vra om ‘n saak van saakbeskadiging te open.

Intussen het Claassens haar dank uitgespreek teenoor haar bure wat so behulpsaam was tydens die voorval. Sy het ook dankie gesê aan Lance en Susara Venter, wat saam met haar gebly het tot die einde. Die motor is Sondagoggend verwyder, waarna herstelwerk aan die heining kon begin.

 

 
 
 

Viewed: 1321

 

 
 

Karla van Zyl

Karla van Zyl joined the newspaper team in February 2021 as a junior intern.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT