ADVERTISEMENT:

 

 
 

Triegies was tops in Saterdag se 50 km-afdeling van die Powerade Akkedis bergfietswedren. Van links na regs is Gerhart Meyer (derde), Kombo Bere (eerste) en Marno van Zyl (tweede).

Akkedis weereens strawwe trap

Date: 11 August 2016 By: Isabel Venter

Oudergewoonte het die jaarlikse Akkedis Bergfietsuitdaag sy reputasie gestand gedoen as een van die mees uitdagende wedrenne op die plaaslike wedrenkalender.

Selfs met die afstande wat dramaties verkort is, was dit ‘n uitmergelende en warm trap gewees tot by die eindstreep. Drie wedrenne is beslis oor afstande van onderskeidelik 50, 25 en 10 km.

Hierdie jaar het Hoërskool Louis Trichardt se ryers hulle vaardighede ten toon gestel en hulle stempel afgedruk op die wedrenne. Die top drie plekke in die 50 km is almal gewen deur Triegie fietsryers.

In die 50km-wedren het Kombo Bere eerste geëindig in ‘n tyd van 01:50:42 - ten spyte van ‘n val - en ‘n goeie 13 minute voor sy naaste opponent. Nadat professionele fietsryer Alan Gordon weens ‘n tegniese probleem vroeg in die 50 km-wedren moes onttrek, in daardie stadium in die tweede plek, het hy die tweede en derde podium plekke oopgelos. Gerhardt Meyer het toe in die tweede plek ingeskuif en kon vir ‘n groot deel van die wedren net-net daarin slaag om ‘n voorsprong te hou oor Marno van Zyl, wat in die derde plek geplaas was. Van Zyl het egter op kenmerkende styl verby Meyer geglip in ‘n enkelbaanseksie van die wedren in die laaste kilometers van die wedren. Meyer kon hom nie weer inhaal nie, met Van Zyl (02:04:26) wat twee minute voor Meyer in die tweede posisie die wedren voltooi, en Meyer (02:06:17) in die derde plek. “Ek kon hom net nie afskud nie – Marno is besig om op vorm te kom en ‘n ryer om mee rekening te hou,” het Gerhart na die tyd opgemerk.


Advertisement


“Ons het eintlik by Kombo probeer bly, maar hy het net onder ons uitgery,” het Van Zyl ná die wedren gesê. Hy was ‘n bietjie teleurgesteld dat hy nie ‘n nuwe spoedrekord kon opstel by die sementpad (die pad na die Telkom-toring op Hanglip) waar die roete teruggedraai het na die eindstreep nie. Nie een van die top drie kon hier ‘n rekord opstel nie. Die vinnigste man was Benjamin Muller, wat teen dié afdraande afgeseil het teen ‘n blitsige 88km per uur. Die vinnigste vrou was Shirley Scriven, wat 82km per uur teen die berg afgekom het. (Interessant genoeg, volgens die plaaslike fietsryers, is dit nie die vinnigste tye wat al op die pad aangeteken is nie).

In die 25km-wedren het Triegies weer hul staal gewys. Richard Lambert het loshande en sonder veel sweet ‘n yslike 22 minute en 3 sekondes voor sy naaste opponent klaargemaak in ‘n tyd van 01:23:50. David Mureri van Ridgeway College in Louis Trichardt het die tweede plek ingeneem in ‘n tyd van 01:45:53, gevolg deur James Raper van Hoërskool Louis Trichardt in ‘n tyd van 01:53:54.

Nog ‘n Triegie, Christelle Coetzer, was nie net die eerste meisie oor die wenstreep nie, maar het ook sommer onder die top 10 saam met die ander seuns klaargemaak. Sy het die 25 km in ‘n tyd van 01:57:12 voltooi, ‘n indrukwekkende tyd vir ‘n O/16-fietsryer. Jadie McLeod van Ridgeway College was die tweede meisie in ‘n tyd van 02:12:51, gevolg deur Caren Foord in ‘n tyd van 02:25:05.

In die 10 km-pretrit was Jarred Watridge die vinnigste ryer in ‘n tyd van 00:24:46, gevolg deur De Wet du Toit in ‘n tyd van 00:25:46 in die tweede plek en Owen Venter derde in ‘n tyd van 00:26:27.

Die Soutpansberg Fietsryklub van Louis Trichardt, wat vanjaar die Powerade Akkedis gereël het, het al hul borge bedank en in besonder vir Coca-Cola Fortune in Louis Trichardt. “Die Soutpansberg Fietsryklub is verheug om die opkoms van plaaslike jongmense te sien by die Akkedis. Afgesien van die feit dat Ridgeway College nou ook inkoop in die skole bergfietsliga en 'n span gereed kry, was ons veral bly om die span van Laerskool Louis Trichardt te sien deelneem. Hulle het per slot van sake die fietsryers wat in die nabye toekoms by die Kombo's, Marno's en Gerhart's gaan moet oorneem," het mnr. Stanley Thompson namens die klub gesê.

 

 
 
 

Viewed: 961

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die podium by vanjaar se Powerade Akkedis was oorwegend getooi in die kleure van Hoërskool Louis Trichardt. Richard Lambert en Christelle Coetzer, albei van Triegies, was die eerste seun en meisie in die 25km-afdeling van die Powerade Akkedis Saterdag.

Marno van Zyl trap oor heartbreak hill op pad na die eindstreep in die 50km Powerade Akkedis, terwyl ma Ria hom aanmoedig van die kantlyn af. 

'n Verheugde David Mureri van Ridgeway College was tweede in die 25km van die Powerade Akkedis Saterdag. 

Kombo Bere het in sy kenmerkende styl op een wiel die wenstreep oorgesteek. Hy het die uitmergelende 50 km van die Powerade Akkedis gewen wat Saterdag in die Hanglip Bosbouplantasie gehou is.

Dit is nie die Akkedis as daar nie 'n deelnemer of twee is wat verkies om eerder hul fietse teen die steiltes uit te stoot nie. Sune Reyneke stoot haar fiets uit teen een van die steil enkelbaanpaadjies, gevolg deur Caren Foord kort op haar hakke. 

Christell Coetzer van Hoërskool Louis Trichardt in aksie. Sy het die 25km in ‘n tyd van 01:57:12 voltooi - ‘n indrukwekkende tyd vir ‘n O/16-fietsryer. 

Richard Lambert.

Richard Lambert.

Marno van Zyl afgeneem na 'n kort, maar besonderse styl, klim oor die klippe by Luiperd Koppie. 

Richard Lambert het die 25 km Powerade Akkedis gewen in 'n blitsige tyd van 01:23:50.

Christell Coetzer van Hoërskool Louis Trichardt in aksie. Sy het die 25km in ‘n tyd van 01:57:12 voltooi - ‘n indrukwekkende tyd vir ‘n O/16-fietsryer. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT