ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die span van Louis Trichardt Academy het Saterdag die Louis Trichardt Krieketklub se tweede T20-liga van die jaar ingepalm met ‘n 31-lopie  oorwinning oor die NTT Toyota Vikings. Afgeneem is die span en van hulle jong ondersteuners. Foto verskaf.

Vikings struikel in finaal teen Academy

Date: 24 August 2023 By: Andries van Zyl

Die finaal van die Louis Trichardt Krieketklub se tweede T20-liga van die jaar is Saterdag, 19 Augustus, tussen Louis Trichardt Academy en die NTT Toyota Vikings beslis, met Academy wat met ‘n 31-lopie oorwinning geseëvier het.

Academy het ingegaan om eerste te kolf en ‘n skaflike 178 lopies aangeteken vir die verlies van agt paaltjies in hulle 20 beurte. Openingskolwer en kaptein van Academy Nimesh Watekar het die leiding geneem met ‘n redelike vinnige 43 lopies vanaf 26 balle, wat ses viere en een ses ingesluit het. Aan die ander kant van die kolfkampie het die paaltjies bly val, maar danksy Viral Patel (in op nommer ses) se 45 lopies vanaf 33 balle (wat ingesluit het vyf viere en twee sesse), Shahir Patel (in op nommer sewe) se 17 lopies en Preteesh Patel se 26 lopies (in op nommer agt), kon Academy se kolwers ‘n redelik kompeterende telling op die telbord plaas. Die ander kolwer wat dubbelsyfers kon behaal was Parth Patel (11).

Vir die NTT Toyota Vikings het Morné Olwage uitgestaan met die bal en hy het drie paaltjies vir die verlies van 27 lopies in sy vier beurte laat val (3/27/4). Bielie van den Berg het 2/39/4 geneem, terwyl Gysbert Guillaume en Leon Furstenburg onderskeidelik geëindig het met ‘n boulontleding van 1/25/4 en 1/11/2. Die Vikings se boulers het 23 ekstras afgestaan, wat 18 wydlopers ingesluit het.

Die Vikings kolwers het goed gelyk aan die begin van hulle kolfbeurt, met goeie beginne en dubbelsyferbydraes deur Gysbert Guillaume (23 van 16), Leon Furstenburg (29 van 25) en Bielie van den Berg (16 van 15). ‘n Vinnige twee paaltjies daarna het ernstig druk op die kolwers gesit, met Christo Gerber (20 van 21), Louis van Jaarsveld (29 van 21) en Marius Meintjies (16 van 13) wat hard moes veg vir lopies, in op onderskeidelik nommers ses, sewe en agt. Hulle kon egter net 147 lopies vir die verlies van agt paaltjies bymekaar maak toe die laaste bal geboul is.

Academy se boulers het skitterend geboul en slegs 10 ekstras in hulle boulbeurt afgestaan. Die top bouler was Muavaz Patel, met ‘n boulontleding van 3/22/4. Vimal Patel het op sy beurt 3/28/4 platgetrek, terwyl Mehul Patel 2/26/3 geneem het.

Direk ná die wedstryd is die topkolwers en -boulers in die reeks aangewys. Die topkolwer was Limpopo Melkery se Leon Olwage, wat ‘n ongelooflike 597 lopies in die liga gemoker het. Die topbouler was die Vikings se Bielie van den Berg, wat 14 paaltjies laat kantel het.

 

 
 
 

Viewed: 1459

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT