ADVERTISEMENT:

 

 
 

generiese foto

Nog ‘n fietsryer ernstig beseer

Date: 05 June 2014 By: Isabel Venter

Nog ‘n fietsryer van Makhado (Louis Trichardt) is ernstig beseer en in die hospitaal ná ‘n ongeluk oor die afgelope naweek.

Oom Wim Botha (71) se ongeluk was darem nader aan die huis as dié van Ferreira Nel, ook van Makhado (Louis Trichardt), wat in Pontevedra, Spanje, behandel moes word nadat hy met sy padfiets geval het.

In werklikheid was oom Wim ‘n klipgooi van sy huis toe die ongeluk gebeur het. Hy was op pad om met sy padfiets te gaan oefen vir die naweek se 70km Kremetartwedren. Hy en ‘n vriend, Johan Fourie, het vanuit Impalastraat die Levubu-pad gekruis toe die ongeluk plaasgevind het. ‘n Minibus-taxi het vir oom Wim, wat agter Johan gery het, van sy fiets gestamp. “Iets het net verkeerd gaan; toe ek omdraai, was Wim af van sy fiets af. Hy kan ook nie onthou wat gebeur het nie,” het Johan Dinsdag vertel. 

Oom Wim, het Johan gesê, het sy heup en femurbeen by die potjie gebreek. Hy is Sondag in die Eugené Marais Hospitaal in Pretoria geopereer. 

Oom Wim se vrou, tannie Petro, het Woensdag bevestig dat haar man sedert Sondag in die hoësorgeenheid versorg is. Hy is Woensdagoggend oorgeplaas na ‘n gewone saal, waar hy hopelik net tot die einde van die week sal moet bly voor hy ontslaan kan word. “Hy is baie sterk en fiks en dit gaan goed met hom,” het tannie Petro aan die Zoutpansberger gesê.

Oom Wim sal ten minste vir nege maande op die krukkelys wees terwyl sy heup herstel. Sy dokters sal ná hierdie tyd weet of ‘n heupvervanging nodig sal wees.

Behalwe vir die Kremetart het oom Wim ook, volgens tannie Petro, al 'n paar keer die Cape Argus-fietswedren voltooi.

 
 
 

Viewed: 233

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT