ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ferreira Nel in die hospitaal ná ‘n ernstige val met sy fiets tydens sy deelname aan die 2014 ITU Duathlon World Championships wat die afgelope naweek in Pontevedra, Spanje, beslis is. Foto verskaf.

Val bring sy deelname aan Wêreldkampioenskap tot end

Date: 06 June 2014 By: Andries van Zyl

Ferreira Nel van Makhado (Louis Trichardt) se deelname aan die 2014 ITU Duathlon World Championships in Spanje het Sondag tot ‘n skielike einde gekom ná ‘n harde val met sy padfiets hom in die hoësorg eenheid van ‘n hospitaal in Pontevedra besorg het.

Ferreira en nog ‘n plaaslike langasem, Amanda Kruger, is beide in April vanjaar gekies vir dié Wêreld-tweekampkampioenskappe op 31 Mei en 1 Junie in Pontevedra, Spanje. Dit volg ná hul goeie prestasies tydens die Suid-Afrikaanse en Afrika Tweekampkampioenskappe in Maart waar hulle vir Gauteng-Noord deelgeneem het.

“Ons het groot geskrik. Dit was ‘n lelike een,” het Ferreira se ma, Renette, hierdie week aan die Zoutpansberger gesê. In ‘n stadium is daar gevrees dat Ferreira sy sig totaal kon verloor het. Hy het reeds jare geen sig in sy linkeroog nie en sy regteroog is erg in die val beskadig. Daar was ook vrese dat hy sy elmboog kon gebreek het.

Ferreira het Sondag saam met net meer as 60 deelnemers van regoor die wêreld in die 45 tot 49 jaar groep weggespring. Die tweekamp het bestaan uit ‘n 10 km draf, 'n 40 km padfietswedren en weer 5 km draf. Ná die eerste van sy twee hardloopitems, het hy op sy fiets gespring. “Kort voor die tweekamp het Madeleine [sy vrou] laat weet dat ons hard moet bid, want die baan is baie uitdagend. Daar was baie draaie en donker areas,” het Renette gesê.

Ferreira het byna by die eindstreep van die fietswedren geval. Hy is dadelik na die hoësorg eenheid van ‘n plaaslike hospitaal geneem. Daar moes hy onder meer steke aan sy regteroogbank kry. Teen Maandag was familie bly om te hoor dat hy nie die sig in sy regteroog verloor het nie, en ook nie sy elmboog gebreek het nie.

Ferreira het teen Dinsdag so goed herstel dat hy self, nadat hy ontslaan is, die drie straatblokke van die hospitaal na die hotel gestap het waar sy vrou, asook suster Elsabé, deur die organiseerders van die kampioenskap verblyf gegee is. “Uit die aard van die saak is hy maar teleurgesteld,” het Renette gesê.

Niemand weet presies wat gebeur het nie, selfs nie eens Ferreira nie. Volgens Renette is al wat hy kan onthou dat hy besig was om naby die einde van die fietsren sy skoene uit sy pedale te klik. Baie deelnemers klik net voor die einde van die fietsren hulle voete uit hul pedale, sodat hulle vinniger van die fiets af kan kom en weer kan begin hardloop. Sy linkervoet was reeds los, toe hy skielik neergeslaan het.

Te midde van die teleurstelling is Ferreira-hulle se besoek aan Spanje darem nie heeltemal verniet nie. “Nou gaan hulle verder toer. Hulle [Ferreira, Madeleine en Elsabé] het in elk geval hul besoek so beplan,” het Renette gesê. Teen Dinsdagaand was die driemanskap reeds per trein op pad na Parys, Frankryk.

Amanda was ook teen Dinsdag in die lug, maar sy was reeds op pad huis toe. In teenstelling met Ferreira het sy het ‘n baie goeie naweek ervaar. Amanda was Saterdag een van 22 deelnemers wat weggespring het in die 50 tot 54 jaar afdeling van die tweekamp (dieselfde baan as Ferreira). Sy het algeheel 15de geëindig in ‘n tyd van 02:44:19 – haar persoonlike beste tyd ooit. In haar ouderdomklas was Julia Matheson van Brittanje die algehele wenner in ‘n tyd van 02:12:28. Ferreira se ouderdomsklas is gewen deur Jorge Lopez De la Puente van Spanje in ‘n tyd van 01:57:11.

 
 
 

Viewed: 292

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT