ADVERTISEMENT:
Date: 18 July 2014 By: Isabel Venter
‘n Jong plaaslike gholfer, Pieter Guillaume, het die afgelope naweek die gesogte Hanglip 54-trofee opgeraap.
Die 16-jarige Pieter, wat ‘n rapsie meer as ‘n jaar-en-‘n-half gelede by die Soutpansberg Gholfklub aangesluit het, het die Hanglip gewen met ‘n skaflike gesamentlike individuele Stableford-telling van 114 punte.
Vanjaar se Hanglip 54-toernooi is vanaf 10 tot 12 Julie vir die 21ste agtereenvolgende jaar deur die plaaslike gholfklub in Makhado (Louis Trichardt) aangebied. Dit het oudergewoonte ‘n vol veld spelers gelok van regoor die land. Die toernooi se fokus is sedert sy ontstaan op besoekende spelers en vanjaar was geen uitsondering nie. Bykans die helfte van die veld het bestaan uit besoekers van onder andere Pretoria, Klerksdorp en Lydenburg.
Hoe die toernooi werk is dat spelers in spanne van twee elke dag in ‘n beterbal Stableford-kompetisie meeding. Elke dag is daar dus twee wenners. Die algehele wenner is egter die speler wat die beste individuele Stableford-telling oor aldrie dae aanteken.
Deelnemers aan vanjaar se Hanglip 54 het dit beskryf as die koudste nog waaraan hulle deelgeneem het. Saterdag kon hulle egter nie gevra het vir beter weerstoestande nie. Gholfers bo en onder aan die punteleer was vol lof vir die perfekte sonskyn waarin hulle kon speel.
Guillaume, ‘n leerling van die Hoërskool Louis Trichardt, het die mees konstante gholf oor die drie dae gespeel om hom ‘n algehele oorwinning te besorg. Die res van die podium is ook deur plaaslike gholfers volgestaan. In die tweedeplek was Zagrys Nortjé met 108 punte, gevolg deur die Soutpansberg Gholfklub se kaptein, Marius Mostert, in die derdeplek met 107 punte. Die vierdeplek is gedeel deur Willie Kriel en Marnus Leeb, wat albei 106 punte aangeteken het, terwyl Maarten Venter (2011 se algehele wenner) en Jannie Serfontein vyfde was met 105 punte.
Wat die daaglikse beterbal Stableford-kompetisies betref, word die eerste dag se spel gewen deur Maarten Venter en Morné Grobler met 50 punte op ‘n uittel. Tweede was Pieter Guillaume en Luan Fogwell met 46 punte, met Marius Mostert en Kobus Barkhuizen (snr.) in die derdeplek met 45 punte, ook op 'n uittel.
Dag twee se spel word gewen deur Bennie Smit en Pierre Grobler met 45 punte. Tweede was Martin du Plessis en Zagrys Nortjé met 44 punte (uittel), gevolg deur Marius Mostert en Johan Fourie, ook met 44 punte op 'n uittel.
Saterdag, die derde dag, se spel is gewen deur Inus Steyn (2012 se toernooi wenner) en Morné Gouws met 46 punte (uittel). Tweede was Freddy Labuschagne en Tonie Pretorius, ook met 46 punte, met Zagrys Nortjé en Pierre Grobler in die derdeplek met 44 punte (uittel).
Klubkaptein Marius Mostert het die toernooi se sukses toegeskryf aan al die klub se borge en die lede wat die klub gereeld ondersteun. Imperial GM was vanjaar die hoofborg van die toernooi, met ondersteuningsborge Auto Pedigree, Makhado Munisipaliteit, Coca-Cola Fortune, SA Brouerye, Makhado Bierverspreiders en Khumo Plant Hire.
Viewed: 647
|
Tweet |
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.
More photos...
ADVERTISEMENT
ADVERTISEMENT:
ADVERTISEMENT