ADVERTISEMENT:

 

 
 

generiese foto

Skote klap tydens wilde SAPDjaagtog deur stil woonbuurt

Date: 25 July 2014 By: Isabel Venter

‘n Wilde polisiejaagtog en -skietery, amper direk uit ‘n Hollywood draaiboek, het verlede Donderdag die vrede in ‘n rustige woongebied van Makhado (Louis Trichardt) versteur.

Die Makhado Polisie het, volgens inwoners van Leeustraat, ‘n voertuig vol verdagtes gejaag en in ‘n stadium ook losgebrand op dié voertuig. Volgens wat die Zoutpansberger kon vasstel, het die polisie glo ses of sewe keer op die voertuig geskiet. “Ek het eers gedog daar word by ons ingebreek,” het een inwoner van Leeustraat  gesê.

Nog ‘n inwoner, mev. Inez Pohl, het die vlieënde koeëls net gemis. Sy het ongeveer 08:00 stilgehou voor Salon Anita, wat aan die heel noordelike deel van Leeustraat geleë is, vir ‘n haarafspraak. “Ek kan onthou dat ek gedink het die kar ry dalk te vinnig, maar het nie rêrig daarna opgelet nie,” het Pohl gesê. Sy was ook net deur die ingangshekkie toe sy die skote agter haar in die straat hoor klap. “Jong, ek kan nie veel vertel nie, ek het nie rêrig iets sien gebeur nie, maar Anita het vinnig vir my gesê om eerder in die salon te kom voordat ek raakgeskiet word.”

Volgens inligting verskaf deur die polisie het ‘n man in ‘n swart Chrysler teen ‘n hoë spoed van die polisie weggejaag, nadat hy afgetrek is vir ‘n roetine ondersoek. Die man het vanuit die Thohoyandou-pad opgedraai in Leeustraat, toe in Tshirululunistraat en daarna in die rigting van Roodewal gery.

Plaaslike polisiewoordvoerder A/O Takalani Madzhigili het Woensdag bevestig dat die Makhado SAPD se Openbare Orde Eenheid vyf waarskuwingskote in die lug afgetrek het om die man sover te kry om te stop.

Die verdagte het egter aanhou jaag. Sy voertuig het op die Roodewal-grondpad ‘n pap wiel gekry, waarna dit ‘n boom getref het. Nog voor die polisie egter kon stop, het die man uitgespring en te voet gevlug.

In sy voertuig het die polisie 2 237 pakkies onwettige sigarette gekry, met ‘n geskatte waarde van R180 000. Die polisie het ook beslag gelê op die voertuig. Madzhigili het bevestig dat die polisie seker gemaak het dat geen inwoners beseer is of hul eiendom beskadig word tydens die jaagtog nie.

Teen druktyd het niemand nog na vore gekom om die voertuig op te eis nie. Intussen duur die polisie se ondersoek voort.

 
 
 

Viewed: 286

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT