ADVERTISEMENT:

 

 
 

24. Daisy en Miss Soft Serve keer terug plaas toe

Date: 28 March 2014 By: News Correspondent

Dit was ‘n jakarandaboom wat vir Daisy op haar voete gebring het.

Net voor sy Pretoria verlaat het vir die groener weivelde van ‘agterieberg’ het Daisy se nukkerige Duitse motor selfmoord gepleeg. Gelukkig sonder dat Daisy binne-in was, het die stadskar spontaan aan die loop gegaan en in ‘n jubelende wolk van pers blommetjies teen ‘n boom op ‘n sypaadjie in Menlopark gebots.

Daisy was net dankbaar dat haar kar ander karre, katte en kinders gemis het, al het sy soos ‘n spiritsvrou straataf gehardloop, altwee hande in haar blonde hare en gillend vir die kar om dadelik te stop.

Die kar het geweier. Die kar is afgeskryf. Die kar was nie verseker nie. Maar genadiglik het die kar haar bose planne uitgevoer twee weke nadat sy ten volle afbetaal is.

Sug. Van toe af is dit Driving Miss Daisy – per bakkie, bus of baaisiekel. Tot die dag toe die pêrelpoorte van vervoer voor haar oopgaan, baie naby aan die plek waar haar moedswillige mädchen selfmoord gepleeg het.

Dit was ‘n oomblik uit die beste van Hollywood – die hele wêreld vervaag, ‘n bonatuurlike lig wat net op haar gepoleerde kurwes skyn, tyd gaan staan stil en daar is dit;  net Daisy en Miss Soft Serve op die hele wye groen planeet. Net die klanke van romerige, soet, pienk en wit engele wat hemelse koorwerk sing...

Anders gestel: dit was op ‘n sypaadjie in Menlopark waar die Big Boy scooter geparkeer was. In al haar pienk en wit retro-glorie, ‘n bruin saal soos ‘n roomyshoring en ‘n Te Koop teken onder haar chroom hooflig. Liefde met die eerste oogopslag. Begeerte om te besit as ‘n tweede irrasionele emosie; die eerste ‘n belustiging vir ‘n reuse pienk-en-wit gedraaide Soft Serve met al die trimmings.
Daisy sien onmiddellik die wit valhelm wat soos ‘n Franse polisiekeps haar gesig bedek sonder om dit weg te steek. Sy sien die retro sonbril in pienk en wit. Sy sien die pienk reënjas met die wit polkadots, die wit en pienk Wellingtons, die pienk naels en lippe...

Sy bel vir Baardman wat, wonder bo wonder, binne bereik is. Voor Baardman antwoord, begin Daisy al haar oogwimpers fladder.

“Liefste engelman,” flikflooi sy, “onthou jy dat ek vir jou gesê het dat ek so graag vir my iets vrouliks wil koop? Jy weet mos – net sodat ek nie verval in die gemaklike kakieklere en boetse nie?”
Daar is ‘n suspisieuse stilte.

“Ag, Baardman,” probeer sy weer, “dit is die oulikste ding wat jy al ooit in jou lewe gesien het! Pienk en plesierig, mooier as ‘n wit babakatjie, lekkerder as ‘n pienk milkshake en baie retro bling orals...”
“En waarnatoe wil jy nogal gaan met so ‘n ball gown, Daisy? Daar is nie eers ‘n Spur op Louis Trichardt nie!”

“Orals, Baardman, orals!” tel Daisy spoed op. “Ek is nou nie so seker van die bergpas nie, maar ek is seker Miss Soft Serve sal die gelyktes kan hanteer...”
Weer ‘n lang stilte.
Toe knor Baardman: “Wat op aarde praat jy van Daisy? Ek het jou iewers tussen ‘n rok en die N1 verloor...”
“Sy is ‘n Big Boy, Baardman; 150cc van pure vrouwees, en mens kan met jou knieë styf teen mekaar sit,” verduidelik sy. “Baardman, ek sal vir jou al die geld terugbetaal en jy hoef nie vir my verjaarsdae, Kersfeese of Valentynsdae vir die volgende tien jaar persente te koop nie!  Toe ‘seblief, Baardman?”
“!@#$%&*!!! Daisy! Dink jy nou regtig ek gaan vir jou ‘n TWEEwiel gevaarte koop? En dan vir die volgende tien jaar wakker lê oor wanneer ‘n trok jou en die Soft Serve tot ‘n pappery vertrap?”

“Baardman, kom ek stiek jou vir ‘n pizza vanaand by Tony’s. Dan vertel ek jou oor ‘n bottel Shiraz presies hoe mooi en prakties Miss Soft Serve is en hoeveel ek haar nodig het. Amper soos jy, maar jy bly natuurlik die ridder in my lewe! En as jy binne die volgende halfuur hier kan wees, dan kan ek jou sommer aan haar voorstel ook!”
Die man weet wanneer hy verloor het.

En dit is hoe Daisy vanoggend wakker word op die plaas met daardie vae voorgevoel van die wonderlikheid van die Kersfees of verjaarsdag van kinderjare. Voor sy haar oë oopmaak, glimlag Daisy met oorgawe en rek haar laaaank uit.
Sy steek haar hand uit.
Onder haar vingers voel sy die gepoleerde pienk en wit kurwes, die chroomafwerkings.
En sy kan sweer sy hoor tussen die hanekraai deur die sagte gegiggel van ‘n duisend geluk­­-
ki­ge engeltjies.

 
 
 

Viewed: 454

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT