ADVERTISEMENT:

 

 
 

71. Daisy ontmoet haar gypsy op Waterpoort (2)

Date: 09 April 2015 By: News Correspondent

“Daisy, jy is doodsbleek,” sê Mimi, die vreemde rooikopvrou wat met haar rooi kar en rooi karavaan onverwags op die plaas aangekom het.

“Laat ek jou vertel hoe dit is dat jou ma wat al vier jaar lank dood is my na jou toe gestuur het.”
Mimi skuif nader aan Daisy en hou haar koue hand vas. “Solank jy net ‘n oop gemoed het hier­oor my hartjie, sal alles vir jou duidelik word.

“Ek is ‘n gypsy. Nie die soort wat mens op televisie sien wat met groot trourokke trou en nie afgeneem wil word nie, maar wat in Suid-Afrika se platteland rondtoer en mense se palms of kaarte lees. Dis hoekom ek die rooi kar en rooi karavaan en rooi hare het. In die karavaan is daar selfs ‘n kristalbal! Dis wat mense graag wil sien. En in hulle beperkte insigte is dít wat mense wil sien voordat hulle van my ‘dienste’ gebruik maak. Daarmee saam gaan die kerse en wierook en die mistieke atmosfeer wat ek doel­bewus skep wanneer mense my konsulteer.

“Maar die waarheid is, Daisy, dat ek werklik ‘n gawe het. Ek het nou vir twee weke al die dorpe in die omgewing besoek en elke aand het ek dieselfde droom gehad van ‘n pragtige jong blonde kind wat na haar pop soek. Sy het my ‘n paar keer gevra om haar te help om haar pop te soek. Eers kon ek nie verstaan nie, het ek gedink daar is ‘n kind wat my hulp nodig het. Toe, een nag, begin ek met haar gesels, vra haar wat haar pop se naam is...”

Daar is min dinge in die lewe wat vir Daisy kan lamlê. Maar hierdie rooikopvrou met die lang sigaretkoker, lang rooi naels en onwaar­skyn­like verhaal wil Daisy terselfdertyd hardop laat lag en huil van verskrikking. Mimi, natuurlik, lyk asof sy elke dag besoeke bring in opdrag van die dooies. Nie ‘n enkele rooi haartjie uit plek wanneer sy vir haarself nog ‘n koppie Earl Grey skink nie.

“Toe antwoord die dogtertjie my sowaar in my droom: Haar naam is Daisy en sy het lang, lang blonde hare. Net soos ek. Ek het haar op die berg gelos en nou kry ek haar nie weer nie. Sal jy haar vir my soek?

“Dit was die begin van ‘n gesprek. Later het ons die gesprekke helder oordag gehad, veral wanneer ek ver paaie gery het. Meesal het sy gepraat en vertel – van haar ma se lewe, haar eie kinderlewe en dan van jou. En hoe vreeslik lief sy jou het en dat sy voel dat sy jou in die steek gelaat het toe sy dood is. Dis waar die aanvanklike “op die berg gelos” -idee van haar vandaan kom.”

Daisy vra suutjies: “Hoe op aarde het jy ge­weet waar om my te kry, Mimi?”

“Dis nou waar my gawe inkom, hartjie. Ek het brokkies en stukkies prentjies begin ‘sien’, wat sterker en sterker geword het soos ek nader aan jou gekom het. Dis die heel eerste keer dat ek Dendron om ry terug Johannesburg toe, maar ek moes doodeenvoudig na my intuïsie luister. En hier is ek nou.”

“Om te wat, Mimi? Hoekom is jy hier? Wat wil my ma vir my sê?”

“Daisy, Daisy ... Word wakker, Daisy!” roep Bernard.

Daisy sit vervaard regop en staar Bernard onbegrypend aan asof sy hom nog nooit vantevore gesien het nie.

“Waar is Mimi, Bernard? Sy was dan nou net hier...”

“Waarvan praat jy, Daisy? Hier was niemand hier nie. Jy het net langs jou rekenaar aan die slaap geraak, want jy werk nou al amper 48 uur sonder slaap!”

“Kan nie wees nie, Bernard. Ons het hier gesit en tee drink...” Toe besef Daisy dat sy haar naam sal Kimberley maak as sy aanhou praat oor Mimi. Niemand gaan haar glo nie, veral nie die deel wat gaan oor haar oorlede ma nie.

Daar is ‘n dreuning van ‘n kar en die gewone geblaf van die honde wanneer besoekers opdaag.

“Wie sou dit nou wees?” wonder Bernard hardop. “Verwag jy dalk iemand, Daisy?”

“Nou toe nou! Dit lyk sowaar na ‘n Studeba­ker hier uit die Fifties uit. Bloedrooi, met baie chroom.

En ‘n karavaan ook...”

Maar hy praat met homself. Daisy het die ketel gaan aanskakel en haar ma se fyn porseleinkoppies gaan uithaal.

 
 
 

Viewed: 185

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT