ADVERTISEMENT:

 

 
 

72. Daisy maak gereed vir ‘n vlot-ekspedisie

Date: 16 April 2015 By: 

Woensdagoggend vieruur lui Daisy se selfoon.

Sy grom onvriendelik, “Dit beter baie goed wees!”

“Daisy, jy moet asseblief kom help! Ons kan nie ‘n dag verder sonder jou nie en ek kan nie nog ‘n hele nag gaan sonder slaap nie!”

Dis Kathy. Daisy se vriendin van baie jare en baie avonture. Sy bly in Pretoria. Sy verkoop allerhande stoute klere en speelgoed.

“Kathy, wanneer het die skuinsheid jou getref dat ek dit nie agtergekom het nie? In elk geval, jy is te laat – ek staan op trou...” Daisy is nie gelukkig nie. Sy het nog geen koffie in haar lyf nie, niks maak sin nie.

“Daisy, word wakker!” skree Kathy in haar oor. “Ek het jou nodig. Vandag nog. Pak jou tasse!”
“Ag, Kathy, moenie die cheek hê om my voor sonop te bel en dan boonop ‘n spul twak te praat nie. Bel my op ‘n beskaafde tyd,” baklei Daisy en druk summier die oproep dood.

Deur die blare gaan maak Daisy vir haar en Bernard koffie. Terug in die kamer kom sy agter dat Bernard nie eers die goeie maniere het om saam met haar wakker te word van die vermetele oproep nie. Toe drink Daisy sy koffie ook en eet al vier beskuite. Haar foon lui weer.

“Oukei Kathy, ek is nou wakker. Nou kan jy verduidelik. Maar ek waarsku jou weer – dit beter goed wees!”

“Right. Ek het ook nou logies geword, so ek sal van die begin af verduidelik. Ek het verlede jaar al op ‘n projek getender om vlotte te bou vir een of ander kerk se karnaval. Dertien van die goed. Twee weke gelede laat weet hulle my ek het die tender gekry, maar dinge lyk nou so ‘n bietjie anders. Daar is nou twíntig vlotte en net vier weke waarin ons die vlotte kan bou.

“Ek het al die sleutelmense in die projek laat kom – die vakmanne en konstruksiespul – en ywerig aan die werk gespring. Maar nou is daar chaos hier. Daar is doodeenvoudig nie genoeg hande nie en die gewillige hande is nie so kreatief soos dit behoort te wees nie. Ons werk nagte en nagte deur – bad skaars, eet skaars en oorleef op sigarette en koffie. Dis tóé dat ek die inspirasie kry om jou te bel; jy sal weet wat om te doen!”

“Foeitog, Kathy, ek voel vir jou. Deadlines is duiwels. En ek is so jammer jy slaap nie en eet nie. But look on the bright side – al die stres en koffie en sigarette en fisieke werk, en daai spekkies om jou middellyf gaan sommer vinnig verdwyn.” Daisy giggel suutjies.

“Maar alle grappies op ’n stokkie. Ek verstaan jou dilemma en ek het groot empatie. Maar ek sit in dieselfde bootjie as jy – ek het ‘n helse spertyd met die gastehuis wat moet klaar, die opening daarvan en dan nog die stuitige dêm troue. Dit kon ook nie op ‘n slegter tyd gebeur het nie...”

“Nee, o hel, Daisy. Nee, jy verstaan nie – dis ‘n saak van lewe en dood. Groot asseblief, jy moet kom help. Asseblief, asseblief, asseblief! Ek weet ek kan jou nie omkoop met geld vandat jy met jou alie in die botter beland het met daai verloofde van jou nie. Maar doen dit vir ons vriendskap, vir my persoonlik. Dis vrekken baie geld vir my, my vriendin. En met hierdie onmoontlike spertyd het my prys natuurlik ook opgegaan. Ek het jou nodig.” Kathy se stemme­tjie raak al hoe dunner; Daisy kan hoor haar boesemvriendin sit nie aan nie.

“Vertel eers vir my, Kathy – wat presies verwag jy van my? Wat wil jy hê ek moet daar doen?”
Kathy snik. “Ek weet nie regtig nie, Daisy. Jy moet asseblief my hand kom vashou, sodat ek kan dink en beplan. Jy moet kom verf. Die Groot Vyf. Jy kom mos daar van die Groot Vyf se wêreld af. En engele wat bid. Nes ek moet bid vir genade vir hierdie projek. Kom net asseblief, ons sal iets uitfigure.”

Daisy sug.

“Nou goed. Bernard lê nog oopmond en slaap ... Dis darem onregverdig om die liefde van jou lewe so weerloos en skroffie te sien en as die son skyn, is hy weer meester van sy eie heelal...”
“Fokus, Daisy, fokus. Jy wou sê van wanneer Bernard wakker is?”
“O ja, ek sal by hom hoor of hy dalk in daai rigting vlieg vandag. Ek pak solank my tasse.”

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 157

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT