ADVERTISEMENT:

 

 
 

73. Daisy maak gereed vir ‘n vlot-ekspedisie (2)

Date: 23 April 2015 By: News Correspondent

“Daisy!” skree Kathy.

“Ek staan langs jou, Kathy. Dis nie nodig dat jy skree nie. Wat is dit?”

“Daisy!” skree Kathy weer. “Het jy al ooit in jou lewe ‘n buffel gesien?”

“Al baie, Kathy. Die meeste van hulle agter ‘n stuurwiel op die N1...”

“Dis niks om oor te lag nie, Daisy,” gil Kathy. “Hierdie blêddie buffel wat jy geverf het, lyk glad nie soos ‘n buffel nie! Buffels is swart en hulle het geskeurde ore en growwe, gekrulde horings. Hierdie ... hierdie ... KOEI van jou het fluffy ore en oop en vriendelike horings soos DStv skottels. Waar op aarde het jy verwysing gekry vir dié pragstuk van jou?” Kathy is lelik omgewoel.

“Landbouweekblad,” sê Daisy kalm. “Die internet is af.”

(Kathy se antwoord kan nie hier aangehaal word nie. Kortliks kom dit daarop neer dat Daisy haar Brahmaankoei moet vat en ver, ver weggaan en mag die son nooit weer op haar skyn nie. Of so iets.)

Daisy wag tot Kathy heeltemal uitgewoed is. Toe gaan maak sy vir Kathy rooibostee en laat haar in die son sit en ‘n sigaret saam met haar rook. “Niks meer kaffeïn vir jou nie, Kathy. Kom laat ons rustig gesels oor hoe dinge verder moet werk.”

‘n Uur later gryp Kathy vir Daisy om die nek en gee haar ‘n groot druk en klapsoen op die wang. “Ek het geweet jy sal sanity bring na hierdie gekheid toe, Daisy. En dis presies wat ek gehoop het jy sal doen – my hand vashou en sorg dat die mense met die verkeerdombaadjie my nie kom haal nie!”

“Okei, okei, Kathy, genoeg van die sentimentaliteit. Van nou af werk ons met ‘n plan. Ek sal projekbestuur doen vir jou en elke oggend almal se uitstaande take uitdeel, gaan aankope doen en beheer neem oor spyseniering. Gister was die eerste en laaste van pizzas en winkelpaais. Van nou af, gesonde huiskos drie keer per dag.

“En miskien kan iemand brutaliteit en wildheid inverf by my koei sodat dit ‘n buffel word? Ek is definitief nie aangelê in daardie rigting nie!”

Van toe af bring Daisy haar dae deur voor die stoof of in die kar en saans voor die rekenaar. Skielik vlot die projek, kom die klein deeltjies bymekaar sodat dit nie meer net na ‘n skrynwerkfabriek lyk nie. Elke nou en dan sien sy dele van ‘n groter geheel verby haar gaan – ‘n kameelperdkop, groot intimiderende engele, reusegroot klere vir Thor die superman, strydwaens met laeprofiel wiele (mens kan nooit ‘n humorsin heeltemal onderdruk nie!) en indrukwekkende goue panele. Daar is trone en krone, pilare en adelare, Bybelverse en etlike goue lampe. Viole, kitare, dromstelle en klawerborde – lewensgetrou gemaak en geverf – maar byna vier meter hoog. Dan is daar Noag se ark en die Verbondsark. ‘n Volledige aardbol – vyf meter in deursnit en waaroor die kunstenaar allerhan­de snedige kommentaar gelewer het omdat Australië ook daarop moes wees. Ook Nieu Zeeland – die man is ‘n ywerige Springbok ondersteuner!

Dit word een lang plesier vir Daisy. Vir die res van haar lewe sal sy fynproewer Blues assosieer met die geur van houtsaagsels, die geroep van poue met vars filterkoffie. Elke nou en dan is daar iewers ‘n riel wat met oorgawe gedans word voor die kreatiewe span weer fokus op die ongenadige spertye. Elkeen gee met oorgawe, volgens hulle individuele bioritmes. Party begin voor sonop werk, ander gaan dan eers slaap. Slaap is opsioneel en nie noodwendig te ver van jou werkstasie af nie.

Eet, aan die ander kant, het ‘n plesier geword. Geen kitskos nie, maar ook niks fieterjasies nie. Daisy kook kos soos haar ma dit sou maak – trooskos, boerekos, spierkos. Die manne trek net die streep by melkkos: “...dis nou nie eintlik rys, vleis en aartappels nie, Daisy!”

Toe gaan koop hulle maar pap en vleis by die take-aways.

 
 
 

Viewed: 218

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT