ADVERTISEMENT:

 

 
 

74. Daisy word deel van ‘n vlot-avontuur (3)

Date: 29 April 2015 By: News Correspondent

Toe is die oggend van Die Groot Vragmotor skielik daar.

Die vorige aand het Daisy afgewyk van haar ouma-kos en mooi-kos gemaak;  vet mossels in wit wyn gestoom met hope knoffel en room, eksotiese kaasborde met sosaties van vars herfs­vrugte, heelvye konserf, handgemaakte brode. En vir nagereg ‘n romerige gebakte sagopoe­ding.  Almal is poegaai, daar is nie sprake van uitbundigheid nie. Maar dinge was vreedsaam (en hét hulle nie!) – die eerste groot spertyd is suksesvol afgehandel.

Vroegoggend ry die vragmotor die elektriese hek in sy kanon in. Toe skraap dit ‘n vertroe­telde koraalboom plat met die aarde. Laaiers en pakkers peul soos rysmiere na die vorige aand se reëntjie uit en begin aandra. Dis skisofrenies: al die vlotte is ontwerp om soos legkaarte in stukke vervoer te word. Vir ‘n toeskouer soos Daisy is alles buite verband – hier ‘n kameelperdkop wat waarskynlik op Noag se ark gemonteer moet word, daar ‘n paar bene of ‘n torso van die drieverdieping-hoë Thor, stukke van Bybelverse wat nie sin maak nie, ‘n nors leeu of twee, verbondsengele wat woedend rondhang, reuse blomme wat onrusbarend soos Venus vlieëvangers lyk, drapeersels van die troonkamer...

Niemand het Daisy se gelag waardeer nie.
Daar is gepak tot vieruur die middag.
En nes die kat, is Die Vragmotor die volgende dag weer daar. Tot vieruur. Tjok en blok vol.
Toe is daar net die aardbol en Noag se ark wat op sleepwaens gereed staan om die volgende dag ook Nasrec toe te gaan. Padlangs.

Die aarde dreig om te vergaan – die papiermâché het natgereën. Maar voor die planeet skewebek trek, is daar tien waaiers en haardroërs wat soos wafferse superheroes ‘n ramp voorkom. Ekstra versterkings word inderhaas gebou en siedaar! die aarde en die ark vergaan toe nie.

Klokslag vieruur is daar ‘n vreemde uittog - vreemder as die brandende braambos of manna in die woestyn. Die beskadigde hek gaan oop soos die Rooi See en die prosessie verlaat oplaas die fabriek. Stadig en baie, baie versigtig. Iemand bel JacarandaFM.

Daisy klim in die bed en slaap. Tot die hoen­ders en poue haar die volgende oggend wakker maak.
Toe begin die Groot Skoonmaak. En stukkie vir stukkie herrys die lieflikste gastehuis en trouplek. Die houtwerkfabriek word weer ‘n fraaie kapel – ‘n feëverhaal van liggies, kershouers, gekrulde stoele en ryk tekstiele. Die verfstudio se meubels word teruggedra, die tafels gedek met fluweel en organza en die oggendson deur die loodglasvensters verander dit in enige bruidzilla se droom venue.

Dit word weer Duck & Dine, die breinkind van ‘n kunstenaar en ‘n oogdokter. Pretoria se eie Owl House – net met engele en eende. Die mure geverf in vredige tonele van plomp cherubs misterieus toegerank met ivy, engeltjies ingemessel by deurkosyne, weerlose nekke van die mak eende tussen oordadige pers blomtrosse.

Kalmte en orde is herstel.

Die aand voordat Daisy teruggaan huis toe op ‘n morrende Bernard se aandrang, drink sy en Kathy rooiwyn by die swembad. Hulle trek die hele produksie uitmekaar, proe-proe aan die belewenis daarvan. Kathy sug behaaglik.

“Daisy, ek is só bly dis verby! En ek weet ons almal het die heel beste gedoen wat ons kon. Maar ek wil net dadelik byvoeg – ek sou dit wragtig nie kon doen sonder jou nie.” Kathy se oë raak wasemrig.

“Ag toe, toe vriendin. Ek het boggerol gedoen – net kos gemaak. En selfs dit was ook nie altyd betyds en na almal se smaak nie...”

“Nee, Daisy. Dit was nie net die kos nie. Dit was jý. Jy het my gehelp perspektief hou, selfs toe ek oortuig was daarvan dat ek nie opgewasse was vir so ‘n groot projek nie. Jy het in my geglo toe ek selfvertroue verloor het. Jy het almal positief gehou met jou lawwe humor en gelag...”

Kathy het haarself in ‘n huilbui ingepraat. Maar tipies Daisy, prop sy onseremonieel vir Kathy ‘n sigaret in die hand en skink nog wyn.

“Ag nee wat, Kathy. Ek het nie ‘n oomblik getwyfel aan jou nie. Jy is dan die een wat al daai stoute onderklere en speelgoed so suksesvol verkoop. Dis niks anders as om drome en fantasie te smous nie.

“Van daar af is dit net ‘n jump to the left om lugkastele te verbeel en te bou. Dis in jou aard – jy laat die onmoontlike waar word.”

En in die onvergeetlike, immergroen woorde van ‘n Graad Vier-opstel oor wat jy alles gedoen het die skoolvakansie: moeg maar tevrede het hulle huiswaarts gekeer!

(Die “Love World” internasionale gospel-karnaval het die afgelope naweek plaasgevind by Nasrec. Die vlotte het stunning gelyk!)

 
 
 

Viewed: 142

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT