ADVERTISEMENT:

 

 
 

76. Daisy en die ghoeroe (1)

Date: 14 May 2015 By: News Correspondent

“Ek moet seker een of ander tyd begin dink aan ‘n trourok,” sug Daisy oor die telefoon.

“Hemel, Daisy, jy laat dit klink asof dit een of ander onplesierige plig is wat jy suu­tjies moet afhandel! Dis jou tróúrok, Daisy. Vir die mooiste dag van jou lewe!” Ousus is heeltemal ontgogel met Daisy.

“Weet jy, Ousus, dit voel vir my alles kry aandag: die gastehuis is amper klaar en word deur etlike professionele hande gepamperlang, al die plante met die wit blomme word daagliks vertroetel, gevoed en gewater, ek spandeer my nagte om al die projekte te bestuur en te skaaf en te skuur aan ons eie Oom Schalk Lourens storie ... En elke oggend as ek in die spieël kyk lyk ek vir myself slegter en slegter. Bernard help ook nie juis nie – hy rits die meeste van die tyd iewers rond. Annerdag het ek ‘n hele middag spandeer om my mooi te maak en ‘n spesiale ete te kook vir hom en dit het glád nie gewerk nie!

 “Miskien moet ek aanvaar ek is nie meer vandag se kind nie,” bekla sy haar lot verder.
“Daisy, jy moet nou nie dat ek my wip vir jou nie. Jy is jonk en skattig. Miskien is dit tyd dat jy bietjie professionele hulp kry. Jy weet, een van daardie make-overs wat hulle in al die vrouetydskrifte het. Hare, naels, tieties en tande. Dis juis nou die tyd wat mens al hierdie goed doen om seker te maak jy lyk op jou heel beste vir die groot dag.”

“Ousus, ander bruide sit kalm agteroor met ‘n funksiebeplanner en haar ma en swaai haar septertjie en maak haar begeertes bekend, en siedaar! ander mense doen al die werk en sy daag net gedress en gepress op vir die seremonie. Ek werk my alie af! Ek doen alles self. Daar is nie tyd vir allerhande prinses dinge nie.”

Maar Ousus het genadiglik ‘n beter insig in Daisy se psige as wat sy vermoed. Ousus weet presies wat haar kleinsus nodig het en steur haar glad nie aan Daisy se besware nie. Drie dae later stop Ousus onder die koelteboom.

“Toe, toe, Daisy – is die Earl Grey al gemaak? En het jy nog van daai lekker varkoor-koekies van jou? Ek het groot gesels vandag, en daarna gaan jy jou tassie pak.”

Daisy staar oopmond na haar suster. Gewoonlik is Ousus skoon menssku en gesels sy nie sommer oor ditjies en datjies nie. Sy is veral nie so vol orders nie.

“Ja, Daisy, jy kan my maar so aankyk, maar vandag vat ek nie nonsens van jou af nie. Mamma sou graag hier wou wees om jou by te staan en in al jou vreugdes en dramas te deel, maar nou moet jy maar vrede maak daarmee dat ek instaan vir haar. Kom sit dat ek jou kan vertel waarheen jy more op pad is.”

Stadig maar seker raak Daisy opgewonde oor wat haar ousus haar vertel. Van Die Ghoeroe. Die Een wat vrouens van grieselrig na glamorous toor. Wat nuwe lewe in selfs die vaalste ou vroutjie inblaas. Wonderwerke, elkeen van hulle. En Ousus het gedreig, omgekoop en mooi gepraat totdat sy ‘n afspraak vir die volgende dag gekry het.

Maar Daisy raak opstroppelis en steeks toe sy hoor dat sy alleen gaan. “Dan gaan ek nie Ousus. Jy kan maar die afspraak kanselleer. Dankie vir jou moeite, ek waardeer dit. Maar ek is nie lus om hierdie ding alleen te doen nie. As Mamma nog hier was, sou dit vir haar heerlik gewees het om saam te gaan sodat hierdie bomenslike wese haar ook onder hande kan neem.” Daisy loer skelm na Ousus – sy weet goed hoe om met haar ousus se kop te smokkel.

“Nou maar goed, Daisy. Ek sal verlof insit by die skool. Eintlik sal dit nogal interessant wees en ek het bietjie ‘n wegbreek nodig...” probeer Ousus dit nog rasionaliseer.

“Jippieeeee,” juig Daisy. “Ons ry vieruur more-oggend. Maak jy die padkos ... Nee toemaar, ek sal liewers. Jy kan vir ons van daai lekker filterkoffie in ‘n fles gooi en dan vat ons kondensmelk saam, net soos toe ons klein was!”

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 163

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT