ADVERTISEMENT:

 

 
 

79. Daisy kort inspirasie en raak weg (Deel 2)

Date: 04 June 2015 By: News Correspondent

“Glo dit of nie, Daisy – ek was nie altyd so rof en onbeskof nie. Daar was ‘n tyd wat ek fyntjies en vroulik was. Maar dit is ook al ‘n leeftyd gelede,” lag Lolla. “Hierdie spulletjie kan dit genadiglik nie meer onthou nie!”

Daisy verstom haar aan die vrou se helder lag. Dis asof daar ‘n groot lig binne-in haar aangaan wat alle skaduwees verdryf en jou dwing om saam te lag. Met oorgawe. Sy skink nog borrels en lemoensap in Lolla se glas.

“Moet niks uitlaat nie, Lolla. Ek wil jou hele storie hoor. Ek het heeldag tyd, niemand weet eers waar om te begin soek na my nie en my selfoon is áf!”

“Ons het mekaar op universiteit ontmoet. Hy was van hierdie selfde Alldays geweste, ek het pas uit die kunsskool gekom. Musiek, jy weet? Klassieke kitaar. Hy het landbou geswot en ek het ambisie gehad om egte Suid-Afrikaanse blues te komponeer.”

“Lang storie kort: hy bring my plaas toe kort nadat ons teen sy ouers se wense getroud is. Daar was nie veel van ‘n keuse nie – sy pa is skielik dood en hy was die enigste seun. Die familiebelange was wyd en kompleks en sy pa het nooit iemand anders vertrou om hom by te staan nie. My skoonma was gewoond dat mans besigheid hanteer en vrouens na huise en families omsien. Sy het nie ‘n koeken kloe gehad hoe om met haar lewe aan te gaan nie.”

“In daardie jare was ek ‘n feëtjie. My kop was in die wolke, ek het lang romantiese rokke gedra, my hare gevleg met satynlinte en kant en al realiteite was my kitaar en my man. Hy was dolverlief op my, presies nes ek was. Hy het verstaan dat normale dinge soos eet en slaap en skottelgoedwas nie deel van my wentelbaan was nie. Hy het gesorg vir al die praktiese goed en my gelos met my musiek en om ons armgat blyplek mooi te maak.

“Ons het by my skoonma in die huis ingetrek. Dit was hel, elke liewe dag van my lewe. My man het elke beskikbare oomblik aan die plaas en besigheid spandeer; hy was heeldag weg. Skoonma het niks gedink van my musiekdrome nie – al wat saakgemaak het, was om ‘n goeie boervrou te wees. Kook, bak, naaldwerk, tuinmaak, kerkdinge. Onder haar skerp tong is my fyn siel bietjie vir bietjie afgebeitel. Daar was hope kritiek – nie net van haar nie, maar ook van familie en vriende. Die gemeenskap het my nooit laat vergeet dat ek ‘n ‘inkommer’ was nie – xenofobie by any other name.”

“Ag, en weet ek nie dáárvan nie,” sug Daisy en maak weer die glase vol.

“Bietjie meer as twee jaar later is my man in ‘n motorongeluk naby Dendron dood. Taxi op ‘n blinde hoogte. My man het te vinnig gery.” Lolla steek vir haarself en Daisy sigarette aan en strek lank uit op die stoel.

“Ek hoef jou seker nie te vertel hoeveel chaos sy dood veroorsaak het nie. My skoonma was buite haarself. En weer was daar niemand om na die plaas en besigheidsbelange om te sien nie. Vir ses weke na sy dood het ek my skoonma se treurmares en verwyte verduur; vir die een of ander gek rede het sy geglo dat ek verantwoordelik was vir haar seun se dood.”

“En een goeie Maandagoggend (ja, dis nou nogal toeval, nê?) het ek skielik genoeg gehad. Toe word die feëtjie ‘n feeks! My skoonma was in die middel van ‘n tirade – baie snot en trane en bitter woorde – toe ek vir haar baie kalm en bedaard sê, ‘STOP’. Net dit – stop. Sy wil nog diekant en daaikant toe, maar ek steur my glad nie aan haar nie.

“‘Sit jy nou op hierdie stoel en sit stil en bly stil. Nie ‘n woord nie. Nie ‘n snik nie. Niks. Ek gaan vir ons tee maak en dan gaan ek en jy ‘n gesprek hê. Intussen beweeg jy nie.’ Sy het nie geweet wat haar getref het nie; ek het nooit teruggepraat of my stem vir haar verhef nie. Toe gaan maak ek vir haar Earl Grey in haar beste erfkoppies en silwer teepot, ‘n antieke bakkie met varsgebakte pekanneut shortbread en steek vir die eerste keer ‘n sigaret voor haar aan.”

“‘Kyk, kom ons verstaan mekaar vandag baie mooi. Ons albei se harte is bitter seer en beide van ons se drome lê flenters. Maar al die tjanke­ry en bitterbekkigheid in die wêreld gaan ons nie uit hierdie penarie red nie. Daar is keuses wat ons moet maak. Die eerste keuse is dat ek jou net hier op hierdie godverlate plek los en te­­rug­gaan stad toe om verder musiek te studeer. En glo my, nadat Ma my lewe so hel gemaak het, sal ek dit in ‘n oogwink doen. Die alterna­tief is dat julle hele bloemen spul my uitlos om hierdie gemors op te ruim op mý manier, sodat ons lewens kan aangaan. Maar daar is de­­finitiewe voorwaardes wat nie onderhandelbaar is nie.’”
Lolla bly lank stil. Daisy weet sy dink diep die verlede in.

Skielik lag Lolla weer haar onblusbare lag.

“Toe, Daisy my ding, toe word ek die boer en die baas van die plaas. Weg is die linte en rokke en die klassieke kitaar. G’n koeke of terte meer nie – ek moes leer om trekkers en pompe reg te maak, ek moes respek afdwing by die plaasvolk en by die ander boere.

“Vandag is ek en my skoonma verknog aan mekaar, ons is skatryk en ek kan die meeste boere onder die tafel indrink!

“Dis net so af en toe op ‘n Sondag wat ek my kitaar afstof en stoksielsalig-alleen bietjie blues speel terwyl die son ondergaan.”

 
 
 

Viewed: 234

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT