ADVERTISEMENT:

 

 
 

81. Daisy se plafonne moet in die wolke wees (2)

Date: 18 June 2015 By: 

Daar is groot en lawaaierige vreugde toe die Koffiebaaiers op die plaas land. Daisy druk en soen elkeen soos lankverlore familie, terwyl Bernard hiperskepties wonder of die ‘hippies met die willewragtig hare’ (soos hy hulle noem) enigsins van nut sal wees. Maar hy handhaaf darem ‘n neutrale beskaafdheid.

“Daisy,” sê hy onderlangs toe die spulletjie hulle bagasie gaan aflaai, “hier kom moleste. Die geblomde rokkies en sokkies en allerhande krale en riempies in die rasta-lokke ... Jy moet hulle as-se-blief-tog weghou van die plaaslike gemeenskap! Hierdie Waterpoorters kry nie sommer vatplek aan vreemdelinge nie. En hierdie spul is VREEMD!”

Tot Bernard se konsternasie stem Daisy doodsedig met alles saam. “Dit is soos jy daar sê, Bernard. Mens moet maar versigtig wees vir die boere hier rond, hulle ken nie goed soos aaptwak nie. Ek gaan gou vir ons almal koffie maak; hierdie spul drink dit by die liter.” Bernard sien nie die groot glimlag op Daisy se gesig toe sy wegstap kombuis toe nie.

Op die bouterrein is Bernard aangenaam verras. Die Koffiebaaiers stem soos een man saam dat die gastehuis onder die bestes in Afrika sal tel. Hulle vra intelligente vrae, maak ‘n paar voorstelle oor hoe die projek moet verloop en stel opreg belang in die geskiedenis van die plaas.

“Ek is self van die plaas af,” vertel Koos vir Bernard. “My familie boer daar naby Harrismith. Perde. Poloponies, eintlik. Maar op die oomblik bou ek vir my ‘n huis op Koffiebaai. Gerrit hier, hy help my. Ek het nou die regte girl ontmoet, nou wil ek settle.” Gerrit knik net sy kop om als te beaam – hy is ‘n man van min woorde. Daisy, Nicoleen en Kia kwetter soos spreeus oor die interieurontwerp.

“Bernard, hierdie klompie is miskien te inkennig om jou self te vra. Maar hulle versoek spesiaal dat ons elke aand ‘n vuur aansteek en braai nadat ons die sonsondergang bekyk het. Hoe klink dit vir jou?” Daisy lag byvoorbaat. Die spulletjie het nou reguit in Bernard se groot lekkerte ingepraat.
“Solank julle nie fiemies het met pap en sous en brandewyn en Coke nie. Ek sal sorg dat daar genoeg T-bones is. Sorry vir die van julle wat vegetariese idees het. En wie se kitare het ons saamgebring? Julle gaan moet speel vir julle verblyf, manne!” grinnik Bernard heel in sy noppies om uit te vind almal is karnivore wat hou van hulle brannas en Coke voor die vuur. Die kwessie rondom unieke rookgoedjies word vir eers nie genoem nie.

Die res van die dag word die Koffiebaaiers gebrief oor presies wat Daisy in gedagte het vir die verf van die plafonne. Sy luister aandagtig na hulle entoesiastiese terugvoer. Bernard praat oor die logistieke aspek van die projek – hy is veral bekommerd oor hulle nekke! Maar die span is soos Daisy hulle onthou: ‘n oorvloed van kreatiwiteit met min fieterjasies en glad nie veeleisend nie. Laid back. Ge-chill. Altyd in ‘n goeie bui.

So twee weke later wens Bernard een aand vir Daisy geluk. “Ek weet jy is oulik en jy het oulike idees, my mooiste. Maar hierdie keer is ek besonder beïndruk met hierdie blink idee van jou. Hierdie Koffiebaaiers is talentvolle kunstenaars en uitmuntende vakmanne. En sulke regtige, regtige nice mense. Ek geniet elke oomblik daarvan dat hulle hier is – hulle oortref my stoutste verwagtinge!”

“Ja,” beaam Daisy. “Maar alle goeie dinge kom ook tot ‘n einde, nê? Hulle het hulleself oortref – die werk sal teen die naweek klaar wees. Ek dink jy sal hulle Maandag weer kan terugvlieg Lanseria toe.”

“Maar dan moet ons afskeid hou! Ons kan nie dat hulle sommer net weer wegglip terug Kof­fie­baai toe sonder om die locals te ontmoet nie. Ek is seker die spul hier sal hulle baie interessant vind.” Bernard vergeet skoon sy vrese dat Koffiebaaiers en Waterpoorters nie goed sal akkordeer nie.
Daisy probeer nog wal gooi, maar Bernard het klaar ‘n malperd opgesaal. Hy bel en nooi die hele geweste en reël self die skape en ‘n professionele skaapbraaier. Daar word ‘n markies­tent, ekstra stoele, tafels, eetgerei en personeel gehuur. Saterdagoggend lyk dit na voorberei­dings vir ‘n kerkbasaar; net die pannekoekgeure ontbreek. Daisy se mond hang oop. Die Koffie­baaiers kan nie glo wat hulle aanskou nie. En die Waterpoorters daag man en muis op – almal nuuskierig om Die Wolkverwers te ontmoet.

So ‘n maand later sit Daisy en Bernard weer en kyk hoe die son ondergaan teen die berg.
“Dit was darem lieflike blues wat daai ouens gespeel het by die afskeid van die Koffiebaaiers, Bernard. Ek verstaan hulle CD het hierdie week die winkels getref. Wegholsukses, glo.”
“Ja, ek wil juis vir ou Koos ook een koop. Miskien sommer vir almal van hulle. Ek mis die spul hippies.”

“En wie sou nou kon raai dat die boere glo in organiese papegaaislaai? Net een ou walmpie toe Gerrit en die girls ewe diskreet om die hoek gaan rook, toe staan die Waterpoorters saam en rook. Hulle eie, nogal. Met baie liefde en aandag verbou.”

“Volgens die Wolkverwers baie beter kwaliteit as dié in die Transkei. Hulle sal mos weet.”

 
 
 

Viewed: 144

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT