ADVERTISEMENT:

 

 
 

82. Daisy smee planne rondom ‘n boereworsresep

82. Daisy smee planne rondom ‘n boereworsresep

Date: 25 June 2015 By: 

“Plore,” roer Daisy die onderwerp aan met haar peetkind. “Wil jy nie dalk ‘n parmantige bakkie wen en ‘n spul kontant nie?”
“Mmmm ... Ek vertrou nie altyd jou lightbulb oomblikke nie. Maar ek moet erken, die meeste van die tyd is dit darem groot pret,” terg hy.
“Nee, man. Dis nie ‘n airy fairy idee nie. Kyk hier in die Huisgenoot – dis weer tyd vir die jaarlikse Boereworskompetisie. En ek het nou gedink...”
“O hel, Antie. As jy eers begin dink, word ek bang!”
“Plore, wil jy nou hoor of nie? Daar is baie op die spel!
“Jy sien, “ verduidelik Daisy verder, “my pa het nooit eintlik kos gemaak van wat ek kan onthou nie, maar hy kon een ding vrek goed doen. Wors maak. Hy het nog sy ma se resep gebruik, nes hulle dit daar op die plaas langs die Vaalrivier gemaak het. Maar niks daarvan was neergeskryf nie.
“Ek wonder of jou ma dalk die resep het? Of nee wag, miskien eerder jou pa. Jou ma weet meer van letterkunde en skrywers en boeke en goed. Wil jy hom nie bel en bietjie uitvind nie?”
Plore rapporteer later terug: niemand het ‘n resep nie.
“Maar my pa sê hy het al vir Oupa gehelp wors maak en hy is seker hy sal onthou hoe om dit te maak. En Daisy, ek het die kompetisie ge-Google en met my pêlle ge-WhatsApp. Hulle dink dit is die koelste idee ooit om deel te neem aan die kompetisie! Lyk my al wat ‘n mens doen is om te braai, braai en braai en hulle het onmiddellik die nodige morele en gebottel­de ondersteu­ning aangebied. So, hallo, liewe bakkie!”


Plore se hele gesig verhelder by die vooruitsig van ‘n luukse voertuig.
“Hei, dis nie heeltemal so eenvoudig nie ... Jy besef natuurlik dat jy die wors moet máák ook? Dis die reëls van die kompetisie! Of het jy daardie deel gerieflik misgekyk en gedink jou pa gaan die wors maak?”
Daisy lag toe Plore se entoesiasme skielik soos mis by die tonnels verdwyn.
“Nee regtig, Daisy? En dit so gou nadat ons daai hele koedoebul moes verwerk vir die spul fietsryers? Dit klink nie meer na pret nie!”
Daisy is hoogs geamuseerd. “Dis amper universiteitsvakansie. Miskien moet jy al jou pelle kry om te kom help wors maak? Daai spul stadsjapies sal mos die Bosveld geniet in die winter.”
Wat Plore nie weet nie, is dat daar ‘n heulery was tussen Daisy en Plore se ma en pa. ‘n Week of wat gelede het Jacobus en Ousus vir Daisy kom sien en hulp gevra – Plore moet die vakansie besig gehou word en Jacobus het ‘n yslike bestelling in Alldays vir boerewors gekry.
“Maar as ek nou die knaap vir hulp vra, gaan dit op ‘n hele dikbekpetalje afloop, Daisy. Jy en hy is mos kop in een mus; hy sal jou tot in die vagevuur volg sonder om vrae te vra,” het Jacobus gelag. “Kom, help ons uit – jy sal wel aan ‘n plan dink. Jy moet tog net nie uitlap van die boe­reworsbestelling nie. En daar is ‘n paar jagters wat vir hulp gevra het met die slag en verkoeling van die vleis in ons koelkamers. Daai spul Tukkies sal nie weet wat hulle getref het nie.”
“Nou maar reg, Jacobus,” gee Daisy teesinnig vir haar swaer toe. “Gooi vir ons nog ‘n dop, dan drink ons op jou onheilige planne vir my arme peetkind.
“En jy weet natuurlik jy skuld my groot. Gróót! Intussen kan ons darem ‘n paar T-bones uitkry en dan braai ons rustig en in vrede saam voor die arme Plore ons onderduimse planne ontdek!”

 
 
 

Viewed: 125

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT