ADVERTISEMENT:

 

 
 

99. Daisy en Bernard se sprokiestroue (Deel 3)

Date: 22 October 2015 By: 

Daisy word benoud wakker. Sy is omring van lywe op die bed langs haar. Sy voel-voel vir die bedlampie se skakelaar.

“Die strooimeisies...” mompel sy saggies. Dan vlieg sy op en met een slag trek sy die lakens van die slapende girls af. Sy spring op en af op die bed en skop-skop liggies in Kathy en Carla se rigting.

“Sal julle asseblief wakker word en vir die bruid koffie en beskuit in die bed bring? En dan is ek reg vir ‘n glas sjampanje in die jacuzzi. Toe, toe. Julle het PLIGTE!

“En wie se flippen gatlike idee was dit nou weer om sesuur in die oggend te trou?” skreeu Daisy (wat steeds soos ‘n Jolly Jumper aandag-afleibare kleuter op die bed spring!) agterna toe hulle uiteindelik kombuis toe waggel. Al antwoord wat sy kry, is Kathy en Carla wat onderlangs mompel, gelyk antwoord: “Joune!” en toe uitbars van die lag.

Dis ongewoon om vir Daisy só vroeg in die oggend só wakker te sien. Nog voor koffie. Op, ja. Wakker? Nee. Maar vandag is daar geen teken van die rooigehuilde oë en angstigheid van gister nie. Toe haar strooimeisies met ‘n pragtig gedekte skinkbord instap, sit Daisy tussen al die geskenke wat sy vir haar kombuistee gekry het.

“Daai mooi stoute wit onderklere wat jy present gegee het, Kathy ... Dit ís mos bedoel om onder die trourok te wees vandag, nê? Net sodat mens nie te maagdelik voel onder al die wit nie ... Good thinking, vriendin!” Daisy lag uit haar maag uit.

“Ek is so bly Ousus het g’n nonsens gevat nie. Ek is só gelukkig, julle! Ek kan nie wag om vir Bernard te sien nie; dink julle ek kan hom gou bel?”

Die strooimeisies storm soos een vasberade lyfwag op haar af en gryp haar selfoon. “Nee! Jy hou vir jou mooi kuis soos ‘n bruid,” betig Kathy. “Jy kan hom eers sien of met hom praat wanneer jy hom nou-nou in jou volle glorie sien. Dis nou tyd vir hare en grimering vir ons almal.”

“Ja,” beaam Carla. “Die arme stiliste sit al van vroeg af en naels kou – hulle is beangs dat hulle nie genoeg tyd gaan hê om almal mooi te maak nie. Dit lyk my ons is die laastes om wakker te word...”

‘n Uur later is daar chaos in elke vertrek in die massiewe plaashuis. Orals sit vrouens wie se hare gedoen word en opgedressde bediendes met stralende gesigte dra koffie en beskuit aan. Daisy se gunstelingmusiek speel kliphard.

Daisy sit in die jacuzzi met ‘n bottel yskoue Dom Perignon. Sy rook rustig en sing saam met Chris de Burgh oor “...Patricia, or shall I say Delicia...” Kathy en Carla is raadop.

“Jy kan laat wees, Daise, maar nie só laat nie! Komaan – jy weet hoeveel dinge daar nog te doen is. Jy moet pragtig lyk, maar dit gebeur nie vanself nie. Asseblief, Daisy?” Kathy kan sommer die rebelsheid in Daisy se oë sien. Ongemerk knik sy met haar kop in Carla se rigting en beduie met haar oë huis-in.

Twee minute later storm Ousus op die jacuzzi af. Sy kyk nie links of regs nie, sê nie ‘n woord nie. Dan klim sy met japon en ingedraaide hare langs Daisy in die jacuzzi in. Sy waai vir Kathy en Carla weg.

“Wil jy ‘n slukkie sjampanje hê, Ousus? Dis van die heel beste en duurste. Spesiaal vir vandag. On tap.”

Ousus vat ‘n slukkie sommer so uit die bottel uit. “En dan wil mense my vertel duurder is beter ... Die goed is hondsleg, Daisy. Hoe kry jy dit in jou lyf in?”

“Ek forseer myself!” lag Daisy verleë. Daar is stilte terwyl Daisy verder drink aan die sjampanje.
“Jy mis haar baie, nê kleinsus?” Ousus vat Daisy se nat hand in hare en vryf liggies daaroor. “Is dit hoekom jy hierdie hele troue net verby wil kry? Hoekom jy vas van plan is om nie deel te wees daarvan nie? Mamma is hier, weet jy? Sy beleef dit deur jou oë. En ek is seker dat sy enigiets sou doen sodat jy alles net waardeer en elke oomblik geniet. Wil jy nie net probeer nie?”

Daisy kyk voor haar uit en sê niks. Daar is nie veel meer wat sy kan sê nie. Dis nou doen of dooi.
Dan staan sy statig op en klim uit die jacuzzi.

“Ek is reg vir hare en ‘n gesiggie,” verklaar sy tot almal se verflenterde senuwees se verligting. “Kom ons doen hierdie ding.

“En kan iemand asseblieftog vir Chris de Burgh stilmaak en vir Mendelsohn opsit?”

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 137

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT