ADVERTISEMENT:

 

 
 

100. Daisy en Bernard se sprokiestroue (Deel 4)

Date: 29 October 2015 By: 

Daisy stap die sitkamer binne. Daar is niemand nie; net die senuweeagtige mannetjie wat haar hare gedoen het sweef met slap polse agter haar aan. Hy vroetel aan haar hare, haar rok en haar sluier.

“Waar de duiwel is almal, Pietertjie?” tree sy die mannetjie aan. “En waar is my ruiker en my strooimeisies en my troukar? Ek soek TERUG­VOER, dêmmit, en ‘n audience...”
Net toe stap Kathy, Carla en Ousus in. Kathy het ‘n imposante wit koevert in haar hand.
“Waar was julle? Het julle al klaar vergeet...”

Die strooimeisies en die bruid se suster steek dramaties vas en bekyk Daisy van kop tot tone. Sprakeloos. Toe pik Ousus ‘n traan weg.

“Daisy ... Daisy ... Jy lyk soos iets uit ‘n sprokiesboek. Daar is nie woorde om...” begin Ousus. Kathy en Carla is doodstil. Vir ‘n oom­blik hou selfs Pietertjie op met faff.

“Okei, okei ... sê net iets, julle. Is alles reg? Die pêrels en kristalle saam met die blomme in my hare - nie te veel vir die vroegoggend nie?” Daisy draai om sodat hulle haar van agter af ook kan bekyk. “Wáár is my ruiker? En laat net één van julle nou aan die grens raak...”

Dis eers toe hulle op pad is na die gastehuis toe wat Kathy die koevert vir Daisy gee. “Skuus, skoon vergeet. Dis van Bernard af.”

Dis met bewerige hande wat Daisy haar perfek gemanikuurde nael onder die flappie laat ingly om die koevert oop te maak. Sy haal ‘n brief uit en begin lees. Hulle kyk beangs toe hoe Daisy al hoe bleker word.

“Wat gaan aan, Daisy? Is dit die ergste – wil Bernard nie meer trou nie? Het hy weggeloop saam met die kroegmeisie?” probeer Carla ‘n grappie maak.

“Nee. Niks sulke goed nie. Dis blykbaar my trougeskenk van Bernard af...” Daisy moet haar beste doen om nie te huil nie, al het Pietertjie vooraf plan gemaak met traanvaste maskara.

“Hy gee vir my die grond met die gastehuis, die opleidingsentrum en die kweekhuise present.”

Daar is nie tyd vir enigiemand om te reageer nie – hulle stop by die kapel. Plore staan senuweeagtig nader en maak die deur van die spierwit, daklose Mercedes oop. Sy mond hang oop toe hy vir Daisy sien. “O hel, antie ... Ek het jou wragtig nog nooit so mooi gesien nie,” sê hy onbeskaamd en baie ernstig vir ‘n veran­dering. “Jy lyk asemrowend...”

“Ja, toe-toe, Plore. Help bietjie hier met hierdie lang sluier. Vandag maak ek my naam gat as my skoene in al hierdie net vasknoop ... Kyk, die son gaan nou begin opkom en dan is my hele beplanning daarmee heen!”

By die deur van die kapel kom die prosessie tot stilstand. Ousus glip gou in en gaan sit by Jacobus, wat klaar reg is met ‘n hoop snesies. Pietertjie stres en Kathy en Carla maak vir oulaas seker dat die lang netsluier wat fyntjies met kristalle en pêrels geborduur is, stewig en reguit onder Daisy se hare uitloop. Dit is die enigste oordadigheid wat Daisy toegelaat het. Haar skouerlose rok is van swaar satyn, maar eenvoudig en noupassend. (“Ek soos ‘n wafferse roompoffer lyk? Jy snuif kerrie!” het sy haar uitgelaat elke keer wat iemand iets meer indrukwekkend voorgestel het. “Ek hou van plein. Dis goeie smaak.” Niemand kon haar anders oorreed nie.)

Daisy haak by Plore in en klou senuweeagtig aan haar ruiker van wit lelies en rose. Sy kyk oor haar skouer en knipoog vir Kathy en Carla. “Julle lyk awesome, girls! En in my gunsteling­kleur ook – daar kan vandag net nie genoeg wit wees nie!” Toe speel die kwartet die eerste klanke van Mendelsohn se troumars en iemand maak die kapeldeure oop.

Daar is soveel wat gelyktydig Daisy se sintuie aanval, dat sy min inneem van die see gesigte rondom haar. Sy is bewus van die massas wit blomme en ‘n see van kerse, maar haar enigste behoefte is om by Bernard uit te kom. Dan staan hy aan die einde van die paadjie wat met wit roosblare bedek is. Trane loop oor sy wange. Skielik maak die hele wêreld weer vir Daisy sin en sy pluk aan Plore om bietjie vinniger te loop – in Bernard se arms in.

Van daar af is die dag perfek. Die tydsbere­ke­ning perfek. Met die eerste strale van die son wat die kapel tref, sing die nuutste sangsensasie, Hannah, Morning has broken begelei met ‘n klassieke kitaar. Bernard se troubelofte is so hartroerend dat een of twee van die macho boere van Waterpoort stilletjies ‘n traan wegvee. Daisy s’n is diep en opreg, maar tipies - vreksnaaks en komies aan die einde.

“Kom ons gaan drink sjampanje, asseblief mense! Dis hoog tyd dat ons hierdie gastehuis behoorlik inwy!” sê Daisy en gryp vir Bernard aan die hand om die formaliteite so gou moontlik af te handel.
In die koerante het hulle gepraat van die duurste, privaatste troue van die jaar. Niemand kon uitvind hoe die media die storie in die hande gekry het nie. (Daar is nie veel geskryf nie; daarvoor was daar te min celebrities teenwoordig - maar vir maande daarna het troufoto’s nog die rondte gedoen in die gedrukte media en op sosiale netwerke. Skielik het dit ‘n nuwe tendens begin en elke voornemende bruid het ‘n detail daarvan vir haar eie troue gegaps.)

Dit was ‘n lang viering met genoeg tyd om saam met elkeen van die gaste te spandeer. Teen sononder het Bernard en Daisy gemakliker klere gaan aantrek en opdrag gegee vir die vure om aangesteek te word. Daar was musiekma­kers – klassiek, Afrika, blues, jazz. Daar was dansers om die vure en storievertellers. Daar was oorvloediglik kos en drank.

Vir Daisy en Bernard was daar diep dankbaarheid om in die oë van hulle geliefdes nou formeel bymekaar te hoort. Hulle het gestraal by die vooruitsig.

“Vir altyd saam, of hoe, Mevrou Young?” het Bernard gelukkig in haar hare gefluister.

 
 
 

Viewed: 74

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT