ADVERTISEMENT:

 

 
 

101. Daisy en Bernard se seevakansie (Deel 1)

Date: 05 November 2015 By: 

“More, Mevrou Young. Kan ek vir jou lemoensap aanbied voordat jy gaan swem, of wil jy dalk ‘n sny waatlemoen eet?”

Daisy kyk die jong man in die wit uniform aan asof hy oornag van Pluto af geland het.
“Koffie,” grom sy. “Koffie en beskuit.” Sy skuif haar sonbril oor haar oë, steek ‘n sigaret aan en strek haar vollengte uit op ‘n dekstoel. “Wat laat hom dink dat ek dit nou in die water sal waag?” mompel sy onderlangs. “Ek sal beslis nie dryf nie...”

“Miskien is dit omdat jy daardie sexy bikini aanhet, Mevrou Young.” Bernard is hoogs geamuseerd.
Daisy draai om na hom toe. Haar glimlag is soos ‘n tropiese son wat opkom. Haar pas-wakker nukkerigheid verdwyn dadelik.

“More, my liefste bruidegom!” Sy gee hom ‘n soen wat sy ore laat tuit. “Waar kom jy nou vandaan? Jy weet op hierdie skippie kan jy weghol, maar jy kan nie wegkruip nie!”

Bernard lag lekker en kom sit langs Daisy op ‘n dekstoel. “Ek het gaan gym, my mooiste vrou. Nie dat ek gedink het jy sal saamkom as ek jou wakker maak nie! Wil jy ‘n glas vrugtesap drink?”
“Wat is dit met julle? Koffie! Mens begin die dag met koffie,” sug Daisy en loer rond vir die mannetjie in wit.

“Hierdie was die tweede beste idee wat jy nog ooit gehad het, ou Barries,” terg Daisy. “Die beste idee was natuurlik om met my te trou!

“Maar ernstig nou – enige ander sterfling sou doodeenvoudig vliegtuigkaartjies bespreek het Mauritius toe. Jou oorspronklikheid om soontoe te vaar met ‘n seiljag beïndruk my vreeslik! Ek sal tot saam met jou in die swembad inspring sodra ek wakker is...”

“Mmmm. Ja, dit is nogal luuks, nê? ‘n Hele span wit uniforms om net die twee van ons te bederf en satellietkommunikasie om in kontak te bly met besigheid. Maar net ons twee alleen. Dit is nogal nodig, nadat ons soveel ander dinge gehad het wat ons aandag geverg het voor die troue.”
Die bemanningslid bedien Daisy se koffie uit ‘n swierige silwer koffiepot. Die karring­melkbeskuit lyk heeltemal te nederig op die silwer bordjie.

“Ek wil nog die hele tyd vir jou sê dat ons troue die heel mooiste en aangrypendste funksie was wat ek al ooit bygewoon het. En dit sluit Buckinghampaleis in! Geen wonder jy was so oorweldig nie – jy het jou vrek gewerk. Ek het nooit besef dat jy soveel talent het daarvoor nie. My ma dink natuurlik dat jy die son, maan en sterre is. Well done, Daisy!”

Vir lank lê die twee en uitkyk oor die oseaan en praat nie. Die vroegoggend son en die deining laat hulle heel tevrede met hulle eie gedagtes.

“Daar is natuurlik nog ‘n verrassing of twee, Daisy. Soos die volledige spa wat aan boord is – mét ‘n masseur! Hy is ook ‘n joga-instrukteur en ‘n meditasie praktisyn. En nog so ‘n spul ander esoteriese goete wat jy van hou. En dan is daar ‘n klein teater vir movies en musiek en ‘n spesiaal toegeruste biblioteek – ek weet hoe maklik jy verveeld raak.”

“En wat gaan jy die hele tyd doen, Bernard? Spiere bou?” lag Daisy. Maar Bernard glimlag net geheimsinnig.

“Daar is genoeg om my besig te hou, mooiste. Glo my, ek het vir myself ook gesorg!” Hy trek vir Daisy aan die hand op.

“Kom ons gaan eet brêkfis. Ek het ‘n liederlike aptyt ontwikkel in die gym. ‘n Groot kaas- en sampioenomelet sal gedeeltelik help, maar eintlik sien ek uit na die siestatjie ná ontbyt...” Hy soen vir Daisy soos net ‘n bruidegom kan.

“Nee man, ek het dan nou net wakker geword, Bernard ... O. Ek sien. Oooo....” snap sy skielik wat Bernard bedoel. Sy giggel soos ‘n tiener.

Hulle trek formeel aan vir aandete. “Sommer net, Daisy,” het Bernard verduidelik. “Dis alles deel van die fairy tale.” Daar is reeds Franse sjampanje op ys en twee stoele wat reggeskuif is om die sonsondergang te aanskou.

“Jy lyk soos ‘n Bond-meisie, Daise. So pragtig gesofistikeerd in daai swart nommertjie en met jou hare so bo-op jou kop gedrapeer. Jy is alles wat ‘n man moontlik voor kan wens.”

“Ja, toe nou Bernard. Besef jy hoe corny dit klink? Reg uit ‘n ‘Handleiding vir Verleiding’ of so iets.” Daisy kriewel selfbewus rond en sluk haar sjampanje vinniger weg as wat ordentlikheid toelaat. Sy weet nooit hoe om komplimente met grasie te aanvaar nie.

“Bernard, daar is eintlik iets wat ek van my hart af moet kry. Ek het dit nou al so lank uitgestel, want ek het tot nou toe nie eintlik mooi geweet wat om daarvan te dink en hoe om daarop te reageer nie.”

“O jis, Daisy. Dit klink ernstig...”

“Dit is ja. Dit gaan oor jou trougeskenk aan my. Nee, wag. Moenie nou onderbreek nie; dit verg baie moed om daaroor te praat.” ‘n Seebriesie wikkel van haar hare los uit die drapeersels. Dit laat haar weerloos soos ‘n jong meisie lyk.

“Jy het natuurlik doodseker gemaak dat ek nie die trougeskenk kan weier nie, want die kontraktuele kant daarvan is reeds afgehandel. Daarom aanvaar ek dit. O hel, dit klink nie reg nie.” Daisy dink bietjie na en begin dan weer.

“Bernard, ek het nog nooit eiendom besit nie. Jy ken my nederige agtergrond en my gypsy-hart: dit was nog nooit moontlik vir my of ‘n prioriteit vir my nie. Dus weet ek nie eintlik hoe om jou daarvoor te bedank nie, want ek besef nie regtig die omvang daarvan nie.

“Al wat ek weet is dat dit die mees onbaatsugtige ding is wat iemand nog ooit vir my gedoen het. Baie dankie vir die gastehuis en die kollege en die tuinery en die kweekhuis. Baie dankie vir jou erfgrond wat jy vir my gee.” Sy kry trane in haar oë. Bernard vee dit met sy vingers af voordat dit haar grimering laat loop.

“Daisy, dit alles kom jou toe, want dit is wat jy van niks af opgebou het. Dit was nog altyd joune, net nie in naam nie. En die erfgrond ... Wel, dit is soos die ring aan jou vinger.

“Dis my belofte aan jou.”

 
 
 

Viewed: 156

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT