ADVERTISEMENT:

 

 
 

102. Daisy en Bernard se seevakansie (Deel 2)

Date: 12 November 2015 By: 

“Het jy al ooit gewonder wat die doel is van ‘n honeymoon, my geliefde brui­degom?” vra Daisy uit die bloute terwyl sy en Bernard in die swembad op lugmatrasse dryf.

Bernard skuif sy sonbril halfpad af en knipoog tergend en stout oor die bril vir Daisy.
“Ja toe ... nie dáái deel nie,” giggel sy. “Ek wonder eintlik of ‘n wittebrood nog relevant is in hierdie dae waar mense eers saambly en mekaar so beter leer ken. Dis ‘n duur affêre. Veral ná ‘n troue wat die meeste paartjies deesdae self voor betaal. Seker maar deel van tradisie en die samelewing se persepsies.”

Sy vat ‘n slukkie sjampanje en sit die glas weer terug in die drywende kroegtafeltjie. “Oulike kontrêpsie hierdie, nê Bernard? Dit sal goed werk vir ons swembad...

“Ek het jou nooit vertel van my vriendin Carla se troue nie. Haar pa het voorbehoude gehad oor die man met wie sy getroud was. Niks van hom gehou voor die troue nie. Maar die finale strooi was toe die man nie ‘n poging aangewend het om sy dogter op ‘n honeymoon te vat nie. Hy het dit gesien as ‘n gebrek aan respek vir Carla. En drie jaar later toe is die huwelik ook in sy kanon in – nes haar pa voorspel het. Arme ding. Getrou en geskei sonder om ooit ‘n honeymoon te beleef. Ek voel eintlik skuldig...”

“Daar is nog baie tyd vir haar eie wittebrood, Daise. Moenie jou pragtige koppie daaroor breek nie. Is jy reg vir middagete? Ek het die sjef gevra om vir ons kreef te maak. Lekker gesond, saam met slaai. En natuurlik nog sjampanje vir jou.

“Later vanmiddag kan ons Maputo verken. Ek wil graag gaan kyk of die Polana Hotel nog ‘n high tea bedien. My ma het my soveel nostalgie­se stories vertel oor hulle gereelde kuiers daar. Maar ons slaap weer aan boord, want ons vaar môreoggend baie vroeg.”

Daisy spat vir Bernard nat. “Jy kan darem ‘n ding ordentlik reël as dit moet, nê ou Barries,” terg sy. Dit vang haar heeltemal onkant toe Bernard skielik haar matras omkeer. Proesend en laggend probeer sy Bernard se kop onder die water indruk. “En om te dink ek het eintlik beplan om jou liefderik te soen en baie dankie te sê...”

Dis net na sonop toe hulle vasmeer by die hawe in Mauritius. Ná die formaliteite afgehandel is, kry Bernard ‘n huurmotor. Een van die matrose word afgevaardig as bestuurder. “Ek is met vakansie,” verduidelik Bernard. “Laat hy liewers sukkel met die GPS en bagasie. Ek wil NIKS doen behalwe saam met jou kuier nie!”

Daisy moes noodgedwonge gewoond raak aan luuksheid in die tyd wat sy saam met Bernard die wêreld vol rondgerits het. Partymaal het dit vir Daisy gevoel soos ‘n wafel met room, roomys, versiersuiker en sjokoladesous – heeltemal te ryk en lekker. Maar niks het haar voorberei vir die Paradise Cove Boetiekhotel nie. Smaakvol, oorwegend wit, subtiel. Net soos sy dit verkies. Die trane stroom oor Daisy se wange.

“Hokaai nou, Daisy. Waar kom die trane vandaan?” Daisy skud net haar kop. Sy vertrou nie haar stem voor al die mense in ontvangs nie.

“Kom ons gaan eet ontbyt dan kan jy my vertel wat knyp jou.” Bernard gryp Daisy se hand en volg die man in livrei na die konserwatorium wat uitkyk op die see. Daisy vroetel met ‘n tissue om te keer dat maskara oor haar wange smeer. Sy kom niks agter nie, totdat daar ‘n baldadige en luidrugtige “Surprise!” geskree word.

Daisy kyk rond. Haar mond hang oop. Dan kyk sy na die laggende Bernard en omhels hom snikkend. “Hoe kan ek OOIT vir jou dankie sê as jy net aanhou om die een verrassing na die ander in my skoot neer te plak,” raas sy.

Maar dan is sy omring van die gaste wat almal op die troue was. Haar strooimeisies, die strooijonkers, Plore, Ousus, Jacobus, haar skoon­ma ... Daar is chaotiese gelag en drukke van almal. Daisy kan steeds nie haar oë glo nie.

Toe staan Carla voor haar. Haar maatjie van laerskooldae af wat nooit die voorreg van ‘n wittebrood gehad het nie.

“Nooit, ooit gedink ek sal jou wittebrood met jou deel nie, Daisy. Hierdie is die mees opwindende ding wat nog ooit met my gebeur het.” Twee bloesende wange en ‘n oor-tot-oor glimlag bevestig dit. “Wie weet – dalk ontmoet ek selfs my aanstaande man hier!”

Oor die mense se koppe vang Daisy Bernard se oog. Sy lig haar glas sjampanje en maak almal stil.

“Kan ons almal ‘n heildronk drink op die agtste wonder van die wêreld ... my man, Bernard. Maar net voor hy ‘n reuse kop aan hom kry, wil ek my vriend Dronk Dawie aanhaal oor die liefde: ‘Mens sê nooit vir iemand jy is lief vir hom nie. Jy sê net he has his moments’.

“My man het net meer moments as almal in die hele wêreld saam!”

 
 
 

Viewed: 175

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT