ADVERTISEMENT:

 

 
 

103. Daisy en Bernard gaan op ‘n metaforiese dieët

Date: 19 November 2015 By: 

“More, my liefste man!”

Bernard kan sy ore nie glo nie. Dit is hulle eerste oggend terug op die plaas; die son is nog nie op nie en Daisy jubel soos ‘n douvars ... wel, daisy. Hy sit regop teen die kussings en maak ‘n gelykplekkie op die bed vir die skinkbord.

“Daisy ... Wat is verkeerd?”

“Ek bring vir my bruidegom koffie in die bed en hy wil weet wat is verkeerd? Tel jou seëninge, ou Barries. Twintig jaar van nou af gaan jy wens ek bring ‘n bietjie vir jou koffie en beskuit in die bed,” lag Daisy en kriewel teen Bernard vas vir ‘n druk.

“Ernstig vir ‘n oomblik, Bernard? Ek was die helfte van die nag op. Net sommer om te dink oor die troue en ons honeymoon en als waarmee ons ons besig gehou het die afgelope jaar of so...”
“En jou konklusie, my mooiste?”

“Ek dink dit was die heel wonderlikste jaar van my lewe. Die een fairy tale na die ander en die grand finale was ons troue en hemelse honey­moon. ‘n Regtige, egtige prinses kon dit nie beter hê nie. En niks sal dit ooit kan oortref nie.”

“Maar...?” wonder Bernard hardop.
“Ons moet op dieët gaan. Dadelik. Van vandag af.”
“Daisy, hoe de hel spring daai mooi blonde koppie van jou van troukoek tot by banting?” lag Bernard vir sy eie grappie.

Daisy gee hom ‘n vuishou op sy sonbruin bo-arm. “Ek is ernstig, Bernard. Dieët is net ‘n metafoor. Maar miskien is banting nie ‘n slegte idee nie. Al daai wonderlike kos en leeglê het aan my heupe en jou maag kom aanpak...

“Eintlik bedoel ek materieël, Bernard.” Daisy gryp ‘n sliert blonde hare wat oor haar gesig hang en prop dit terug in die bondel in. Haar blou oë is ernstig.

“Die afgelope tyd was soos ‘n oorryk orgie in antieke Rome. Lekker, maar verby. Jy weet ek het ‘n probleem daarmee om welvaart om jou nek te hang vir almal om te sien, en gelukkig weet ek jy voel die meeste van die tyd ook so. In elk geval is hierdie boswêreld nie vir frille­tjies en fraiings nie; net harde werklikhede. En eenvoud.”

“Ek is nie heeltemal by nie, Daisy...?”

“Dis ‘n bietjie soos Aspoestertjie, Bernard. Eintlik, as ek nou daaraan dink, is dit PRESIES soos Aspoestertjie. Behalwe dat die storie nooit vertel wat gebeur het ná die skoentjie gepas het nie. Ek wed dit was ‘n helse aanpassing vir die arme ding om van vloere skrop op haar knieë te gaan na dans op die gladde vloere van banketsale op haaipolvaais. Nie dat ek nou skielik wil vloere poets nie, maar ek wil ook nie heeldag voor die spieël deurbring om seker te maak my tiara is nog in plek nie!”

“Ok, Daisy,” sê Bernard en staan op uit die bed uit. “So wat wil jy nou eintlik sê? Moet ons voorgee dat ons armsalig is en skuldig voel omdat ons bevoorreg is?” Irritasie torring aan sy stemtoon.
“Nee, Bernard, dit sal oneerlik wees. Al wat ek wil bereik, is dat ons nie vir ‘n lang, lang tyd jou fortuin blootlê vir openbare insae nie. Ons troue het genoeg publisiteit ontlok en eintlik het jy net bedoel om dit spesiaal te maak. Maar dit is intimiderend vir die mense rondom ons. Kan ons dink aan ‘n manier om ‘n verskil aan hulle lewens te maak? Veral noudat Kersfees om die draai is?”
“Mmmm ... ek dink ek verstaan so effens, Daisy. Hierdie is nie ‘n nuwe ding vir jou nie, maar ek het gedink jy en my ma het ‘n goeie bespreking hieroor gehad?”

“Bernard,” sê Daisy geduldig. “Jou ma bly permanent in Monaco. Ons bly permanent naby Waterpoort ... Spot the difference. Alhoewel sy ‘n Suid-Afrikaner is met sterk patriotiese bande, het sy ‘n bietjie tred verloor met die realiteite. Al wat ek vra is dat ons vir ‘n rukkie op ‘n laevet gelddieët gaan en so ‘n bietjie terugkeer aarde toe.”

“Hei, wat ‘n wonderlike idee. Ons kan vanaand begin. Pap en sous en T-bones en weet jy, as dit reg is met jou, braaibroodjies ook. Ons het lanklaas braaibroodjies gehad by die braai.

“Ek bel die gewone suspects; laat weet jy vir Ousus en Jacobus. Brandewyn en Coke teen sononder op die stoep.”

En Bernard sit sy hoed op en stap uit na sy Landcruiser toe om te gaan boer.

 
 
 

Viewed: 265

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT