ADVERTISEMENT:

 

 
 

104. Daisy speel verpleegster vir ‘n tarentaal

Date: 03 December 2015 By: 

Plore lê met net sy pt broek aan op Daisy se dubbelbed. Hy voel bitter jammer vir homself.
“Bietjie hoër, Daisy... Meer na my linkerskouer toe. Bietjie affer...,” gee hy instruksies. “Ja, net daar. O ja...”

“Ek kan sowaar nie glo dat jy op so ‘n gevorderde ouderdom so kinderlike siekte opgetel het nie Plore. En ek kan sowaar nie glo dat jy weier dat jou ma jou moet verpleeg nie.” Daisy vryf geduldig salf aan die rooi kolletjies om te keer dat Plore hom stukkend krap.

“Jou suster het nog nie opgehou lag vandat ek by die huis aangekom het met waterpokkies nie, Antie. Sy neem dit glad nie ernstig op nie. En ek voel beroerd!” bekla Plore sy lot. “Dis tog waarvoor mens ‘n peetma het, nie waar nie? Vryf nog so bietjie van daai salfgoed in die middel van my rug, asseblief. Ek gaan nog mal word van die gejeuk!”

Daisy giggel. “Jy is ook maar ‘n regte mansmens, Plore. Jy sal die grootste spinnekop of skerpioen vang en ‘n monster van ‘n slang aandurf, maar as dit kom by siekte is julle ook maar pieperig...” Sy duik vinnig uit die pad uit toe Plore ‘n kussing in haar rigting gooi.
“Ek gaan vir ons middagete maak, Plore. Is daar iets spesiaals waarvoor jy lus het?” Dis vir Daisy heerlik om haar peetkind te bederf.

“Uggh,” kreun Plore. “Net nie iets wat ek te veel hoef te kou nie, Daisy. En verkieslik ook nie iets wat groen is nie. Kan jy nie ‘n T-bone braai en in daai masjien van jou fynmaak nie?” Daisy vlug voor sy hardop uitbars van die lag.

Die volgende twee dae word Daisy se geduld met haar peetkind tot die uiterste beproef. Sy dra pille aan, maak spesiale kos, vryf salf in en maak elke dag sy bed op met vars linne. Dan praat sy moed in, herinner hom dat waterpokkies lelike littekens los as jy dit stukkend krap en vertel hom elke grappie in haar repertoire om hom op te beur. Sy lees tot vir hom stukke uit Herman Charles Bosman se boeke – enigiets om sy aandag af te lei.

Maar Plore is nie sy gewone gemaklike, laid-back studente-self nie. Hy is geïrriteerd, jak Daisy gereeld af en kritiseer haar kos. Toe Daisy hom vang dat hy haar hareborsel gebruik om skelm sy rug mee te krap, strip Daisy heeltemal. Sy bel sy ma.

“Jou oorgroeide kleuter wat ek hier versorg dryf my na rooi koeldrank en kompulsiewe shopping, Ousus! Ek is regtig al lus om hom oor my skoot te trek en sy waterpokkie-sitvlak met ‘n paplepel by te kom. Wat dink jy moet ek doen? Dit kan nie so aanhou nie.

Ousus lag lank en hartlik uit haar maag uit.

“Hy mag miskien jou peetkind wees, maar ek dink jy het vergeet hoe veeleisend hy kan raak. Onthou jy nie hoe hy as ‘n tjokkertjie nooit opgehou hardloop het nie? Selfs by Mamma en Pappa op die dorp het hy van een kant van die erf na die anderkant gehardloop en wou nooit luister vir my of Jacobus nie. Tóé al het jy gesê ek moet hom net ‘n goeie pak slae gee...”

“Maar jy moet nie sy nonsens vat nie. Kry hom terug! Wag, ek dink ek het ‘n plan.” Daisy en Ousus se telefoongesprek daal na onheilige dieptes soos hulle saamsweer. Toe Daisy die foon neersit, giggel sy onbedaarlik en haar oë blink van onnutsigheid.

Twaalfuur roep Plore vir Daisy. “Ag Daisy, ek voel al heeltemal swak omdat ek nie genoeg vleis eet nie. Jou soppies en pasta en slaaie en gesonde hoender doen dit regtig nie meer vir my nie. Asseblief kan jy vir my vir middagete ‘n steak of skaaptjops gaarmaak? En pap. En sous. Maar voor jy begin met my kos, kan jy asseblief weer van daai salf aansmeer en my voete bietjie masseer? Gister het dit sommer baie gehelp vir my hoofpyn...”

“Natuurlik, my liewe Plore. Geen probleem nie. Maar weet jy, ek het vreeslike goeie raad gekry om die waterpokkies uit te droog. Ek gaan haal net gou die botteltjie en oorpluisies. Lê solank op jou maag dan begin ek by jou rug...”

Dit was eers die aand toe Plore gaan stort en tande borsel dat hy homself die eerste keer in ‘n spieël sien. Hy kon sy oë nie glo nie. Toe brul hy allerhande dreigemente in hoogs industriële en kleurvolle taal en storm op sy laggende peetma af.

“Haai Plore, ek het nooit daaraan gedink om jou te sê dat dit Mercurochrome is wat waterpokkies so mooi uitdroog nie...”

 
 
 

Viewed: 214

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT