ADVERTISEMENT:

 

 
 

105. Daisy maak gereed vir Kersfees kattekwaad

Date: 10 December 2015 By: 

Daisy en Bernard sit plat op die grond onder die groot kremetartboom en kyk hoe die sonsondergang se kleure verander oor die Soutpansberg. Woorde is onnodig. Elkeen se kop is vol eie gedagtes terwyl hulle luister hoe die voëls huis toe kom vir die nag. Daisy het op die ingewing van die oomblik ‘n piekniekmandjie gepak en ‘n bottel yskoue Pinot Noir wyn. Sonder enige woorde maak sy af en toe ‘n broodjie met bloukaas, biltong en ‘n stukkie heelvy konserf en gee dit vir Bernard aan.

“As ek geweet het dit is so lekker om getroud te wees, het ek dit al lankal gedoen,” sê Daisy en glimlag op in Bernard se Bloubulblou oë. “Vir die een of ander rede het ek altyd die idee gehad dat ‘n huwelik een lang struweling van twee ego’s is. Nie hierdie rustigheid en vredeliewendheid nie.

Dis seker ook maar omdat my ma en pa gewoonlik aan die stry was. En Kerstyd was dit erger.”
Bernard streel oor Daisy se hare. Sy kleintyd herinneringe van die feesgety is ook nie gelukkig nie.
“Nou is ons mekaar se familie, Daisy. Ons maak nuwe herinneringe, my mooi vrou. Wat wil jy graag hierdie Kersfees doen? Ons het nog glad nie daaroor gepraat nie.”

“Ek is baie bly ons is hierdie Kersfees op die plaas, Bernard. Onthou jy ons het verlede Kersfees al die ‘weeskinders’ tussen ons vriende oorgenooi vir ete? Hierdie jaar is ons tussen familie. Maar ek sou baie graag...” Daar is ‘n diep frons tussen Daisy se oë soos sy dink.

“Ja, Daisy?” vra hy.

“My vriendin Marinda doen sulke goeie werk op die dorp. Sy is mos betrokke by daardie projek om wilde katte te vang, te laat steriliseer en weer vry te laat. Weet jy daarvan?” Daisy raak skoon opgewonde. Duidelik is haar blonde koppie weer besig met ‘n plan.

“Ek het mos al vir Marinda ontmoet. Maar ek kan nie meer presies onthou waaroor haar projek gaan nie ... Vertel ‘n bietjie? Ek neem aan jy praat van gewone katte.”

“Duh, Bernard ... Nee, ek praat van al die leeus wat in die dorp se strate rondloop. Jy weet mos – nes die buitelandse toeriste glo?” Daisy kan nie die versoeking weerstaan om Bernard so ‘n bietjie te tart nie. Bernard lag en gryp na Daisy om haar kielieplekke by te kom.

“Okei, okei... Ek gee op. Jy is die grootbaas van die plaas en ek is jammer ek was so bekkig met jou...” gil Daisy, uitasem gelag van die karnuffel. “Hierso, ek maak vir jou nog ‘n broodjie om jammer te sê.”

“Vertel nou bietjie meer van Marinda se katte? Ek kry nooit eintlik nuus van die dorp af nie.” Bernard lyk of hy opreg belangstel.

“Dis nou al vier jaar wat sy besig is met die projek om straatkatte se lewens te verbeter. Sy is noual seepglad met die vang. Dan gaan die katte veearts toe waar hulle onder narkose gesteriliseer word. Dieselfde tyd sny hulle die puntjie van die linkeroor af om te wys die kat is reeds reggemaak en is deel van ‘n beheerde katkolonie. Hulle kry ook ‘n hondsdolheid inspuiting. Daarna word hulle weer op dieselfde plek losgelaat waar hulle gevang is.”

“Word al die katte net weer straatkatte daar­na?” vra Bernard. “Word hulle nie aange­neem nie?”
“Marinda sê die jong katjies word binne 24 uur mak en dan is dit maklik om vir hulle huise te kry. Die katte kan ook aangeneem word deur boere om in stalle en skure te bly...”

Voor Daisy ‘n woord verder kan sê, begin Bernard al stywe lippies kry.

“Hei – ek weet waarnatoe hierdie gesprek gaan! En die antwoord is nee. Nee. NEE!”

“Waarvan praat jy tog, Bernard? Ek het gedink ek wil haar gaan help met die katte vir my goeie daad vir Kersfees. En ek het gedink jy wil dalk graag help?” Daisy hou haar lag met groot moeite in. Vir ‘n pasgetroude het sy baie ondervinding om haar man om haar pinkie te draai.

“Ag nee dêmmit, Daisy! Dink jy nou vir ‘n oomblik ek het ENIGE begeerte om agter katte aan te hardloop? Jy maak seker ‘n ou grappie,” raak Bernard redelik onsteld.

“Nee, ou Barries. Ek kan jou sien leeus en luiperds en renostertjies en olifante vang. Al die hoë-testosteroon dinge. Maar cute klein katjies? Never.

“Maar daar is baie maniere om te help, my heer en meester! Jy het mos goeie kontakte met die besigheidsmanne op die dorp – jy kan hulle maklik vertel van Marinda se projek. Hulle ondersteuning vra. En nouja – daar is ook die kwessie van finansiële ondersteuning. Hierdie alles doen Marinda uit haar eie sak uit. Sy kan doen met ‘n skenker met ‘n goeie hart en ‘n oop beursie. Nes jy, Bernard...”

‘n Week later sit Marinda en Daisy en tee drink en wortelkoek eet.

“Daisy, baie dankie vir jou en Bernard se vrygewigheid. Ek was skoon tranerig om te dink hoeveel katte ek kan help met julle skenking. So baie dankie. En ‘n paar besighede het my al gekontak om te hoor hoe hulle my kan bystaan.

“Maar sê my bietjie, weet Bernard daarvan dat jy vyftig katte wil hê om by die pakhuise en die gastehuis los te laat?”

(Ondersteun asseblief Marinda van der Walt se projek. Vir verdere inligting, skakel haar gerus by 076 898 1994.)

 
 
 

Viewed: 173

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT