ADVERTISEMENT:

 

 
 

106. Daisy knoop ‘n geveg aan met ‘n dermpie

Date: 17 December 2015 By: 

“Mevrou Young, Mevrou Young ... Koe­wieeeee, Mevrou Young, wakker word, mevroutjie!”
Van ver af hoor Daisy die vreemde stem. ‘n Irriterende hoë stemmetjie, suikersoet en sonder substansie. Nes laevet jogurt, dink Daisy. Pers laevet jogurt.

“Mevroutjie, kom nou. Maak die ogies oop dan meet ek jou bloeddruk en dan kan jy lekker gaan slapies in die saal. Mevrou Young, Mevrou Young...”

Daisy is oneindig bly sy is nie Mevrou Young nie. Want sy wil nie nou wakker word nie. Sy wil net ‘n paar slukkies yskoue water hê en dan wil sy verder slaap. Sy maak haar een oog oop om te kyk vir water.

“Ag, daar is jy, Mevrou Young. Nee, nee ... lê net stil,” skril die pers jogurtstemmetjie voort.
Daisy probeer omdraai om regop te sit. Daar is oorweldigende, bloedrooi pyn. En soos ge­woonlik wanneer sy seerkry, is Daisy dadelik kwaad. “Water,” vra sy. “En ek is nie mevroutjie nie!” Haar stemmetjie is flou en skaars hoorbaar.

“Hierso, my skatjie. Moet asseblief nie pro­beer regop sit nie, hier is ‘n strooitjie in die glas, hoor.”
Daisy drink ‘n halwe glas water en stadig maar seker begin sy onthou waar sy is en hoekom.
Twee dae gelede het Bernard haar ongenadiglik gespot toe sy wakker word en sy is naar.

Honeymoon bybie, my mooiste. Well done.” Hy het net harder gelag toe haar lyf die koffie en beskuit wat hy vir haar in die bed gebring het, dadelik verwerp. Teen middagete was hy maar redelik bekaf toe hy vir homself moes eiers bak. Daisy was steeds in die bed – bleek, sweterig, bewerig en met minder as niks in haar maag nie.

“Dis seker maar ‘n maagvirus of iets,” het Bernard gediagnoseer. “Ons sal binne nege maande weet as dit ‘iets’ is.” Hy lag alleen vir sy eie grappie. Daisy kyk nie eers op nie.
“Niks wat flat Coke nie kan regmaak nie, Daisy. Ek bring gou vir jou.”

Gedurende die nag word Daisy al hoe sieker. Sy kan niks inhou nie. Sy het ‘n intense hoofpyn en maagkrampe. Bernard is raadop. Vyfuur, toe dit lig word, bel hy vir Ousus vir advies.
“Gits, Bernard, ek sal gou ‘n draai kom maak voor skool. Klink nie vir my goed nie.”
Ousus se oë rek toe sy vir Daisy sien.

“Nee, o hel, Bernard. Hierdie is nie ‘n maagvirus nie. Dis iets anders en dit lyk nie vir my goed nie. Sy het glad nie diarree nie, maar hewige maagkrampe. Ek weet nie, jong, ek dink jy moet haar dringend by ‘n dokter of ‘n hospitaal kry.”

“Dan vat ek haar sommer nou Pretoria toe, Ousus. My neef is ‘n spesialis. Hy sal haar dadelik kan sien. Ek ken nie die dokters op die dorp nie, maar ek vermoed dit mag dalk langer vat om vanoggend nog by een ‘n afspraak te kry.” Bernard begin in benoude sirkels rondtrippel.

“Bedaar, Bernard, en kalmeer. Sit jy vir ‘n oomblik by Daisy en vertel haar wat die plan van aksie is. Ek sal gou vir haar en vir jou tasse pak.”

Van die vlieg kan Daisy niks onthou nie. Vaagweg kan sy onthou van ‘n ambulans en rooi ligte. Vreemde gesigte. Inspuitings. Intraveneu­se lyne. Bloedtoetse. En nou toe sy wakker word en jammer voel vir Mevrou Young, voor sy besef dat Pers Stemmetjie met haar, Daisy, praat.
“Wat het met my gebeur?” wil sy by die ver­pleegster weet.

“Ag toemaar, skatjie, moet nou nie jou mooi blonde koppie bekommer nie. Ek gaan jou nou terugvat na die saal toe.”

“Perse,” sê Daisy met ‘n wankelrige stem en sy gryp die verskrikte nurse se uniform vas. “Wat de hel het hulle uit my lyf uitgesny?” Die inspanning om kwaad te wees is vir Daisy te veel. Sy sluimer in. Ver, ver agter hoor sy die Pers Stemmetjie vertel dat die arme meisietjie hallusineer en vreeslik bakleierig is.

Toe sy weer wakker word, is daar wit lelies en wit irisse en wit rose orals in haar kamer. En digby haar gesig is daar die Bloubulblou oë vol liefde. Bernard streel oor haar wange.

“Hoe voel jy, ou kwaaie? Het jy baie seer?” Daisy begin huil. Verdrietig en verlore. Sy weet nie regtig hoekom nie.

“Wat het hulle aan my gedoen, Bernard? Niemand wil my iets vertel nie en ek kan niks self onthou nie. Dis net flippen seer! Wat het gebeur? Het hulle ‘n histerektomie gedoen? Was dit ‘n buisswangerskap?”

Bernard lag lank en lekker en hou vir Daisy styf vas.

“Jou verbeelding is partymaal jou ondergang, Daisy. Dit was net ‘n dermpie.

’n Blinde dermpie.”

 
 
 

Viewed: 144

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT