ADVERTISEMENT:

 

 
 

107. Daisy wil help met 2016 se emmerlyste

Date: 07 January 2016 By: 

Daisy se blonde hare is amper spierwit gebleik deur die son. Haar songebruinde vel lyk jonk en vleiend in die wit moeslin kortbroek en los toppie.

Maar Daisy is nie gelukkig nie. Haar blou oë lyk maar valerig en sy is sonder haar gewone sprankel.

“Dis die dermpie, Ousus. Ek dink hulle het my entoesiasme vir die nuwe jaar ook saam met die dermpie uitgesny. Of anders is dit hierdie ongenadige son. Die enigste plek waar ek soos ‘n mens voel is in die swembad. Het jy jou kostuum saamgebring of wil jy een van myne leen?”
Ousus knik haar kop half afwesig. “Ja,” sê sy.

“Anders moet ons dalk net op die bed gaan uitstrek vir ‘n kuier. Die lugversorging is heerlik koel daar. Ek sal vir ons suster in die kombuis vra om vir ons lekker tuisgemaakte iced tea te bring.”
Ousus volg vir Daisy gedweë kamer toe. Sy is duidelik nie heeltemal op dieselfde bladsy as Daisy nie.

“Hei Ousus... Gewoonlik is jy die een met baie planne aan die begin van die jaar. Maar jy is so suutjies en in jouself gekeer soos ‘n Switserse bankbestuurder. Wat gaan aan? Het jy nie moed vir hierdie jaar nie?”

Daisy skud ekstra kussings uit en druk dit agter Ousus se rug in om haar gemaklik te maak.
Ousus sug. “Ag Daise, jy sal dit nou nog nie voel nie. Daar is soveel nuwe dinge waarna jy kan uitsien saam met jou bruidegom. Maar ek voel die ouderdom peusel aan my soos ‘n rotplaag.

Almal wil iets van my hê – my kinders, my kleinkinders (al is hulle ver weg in Sydney). Jacobus. Die skool. Die plaas. Ek is nou wel besig met my doktersgraad, maar op die oomblik verskaf dit my geen vreugde nie – dit plaas net ekstra druk op my.”

“En iewers, so voel dit, het ek myself verloor. Die emmerlys loer vir my en spook by my in die nag wanneer dit te warm is om te slaap. Dan wonder ek wanneer ek by myself gaan uitkom...”
“Haai Ousus. Dis die heel eerste keer wat jy met my hieroor praat. En ek verkeer heeltyd onder die indruk dat jy vreeslik gelukkig en tevrede is. Vertel my dadelik meer van jou emmerlys! Toe – dis nou ‘n heerlike onderwerp om aan te roer so vroeg in die nuwe jaar. Miskien inspireer dit my om ook meer positief te wees. Aaaa, hier is ons ystee ook nou net.”

Ousus lê behaaglik agteroor teen die koel kussing en suig aan die lang glas verfrissende lafenis wat Daisy vir haar aangee.

“Ek weet dit gaan onmoontlik klink om aan ‘n lang staptog te dink in hierdie versengende hitte, maar ek wil só graag die Camino de Santiago gaan stap in Spanje. Jy weet mos – daardie pelgrimstog wat mens stap na die Katedraal van Santiago de Compostelo. Al die mede-pelgrims wat mens ontmoet en orals vertoef en oornag mens in hostelle ... Dit is al so lankal ‘n droom van my en een of ander tyd gaan mens te oud word om dit te kan doen.”

“Ja, jy het al so baie daaroor gepraat. Maar ek het nooit besef dit is so ‘n passie by jou nie... Miskien gesels ek en jy deesdae heeltemal te min. Vertel my van nog dinge op jou emmerlys?” Daisy kry skoon skaam om te dink dat sy haar enigste suster so afgeskeep het die laaste tyd – Ousus is maar altyd daar vir haar.

“Ek wil nog leer om loodglasvensters te maak. Sulke kunswerke wat stories uitbeeld en oggendson in duisende stukkies kleur opbreek. En ek wil dit maak net omdat dit mooi is en dit orals om my uitstal soos Helen haar glas en kunswerke by die Uilhuis uitgestal het! Ek wil ‘n hele tuin vol gekleurde glas hê om te pas by die nuwe tuin wat ek beplan ...”

Vir ‘n oomblik kan Daisy die wonderlik prentjie sien deur haar sus se oë – ‘n fantasie wat niks met die alledaagsheid van lewe te doen het nie. ‘n Mistieke tuin vol geheime hoekies waar enigiets moontlik is...
Daisy leun oor na Ousus toe en gee haar ‘n lang druk. Met haar kop op haar suster se skouer mymer sy:
“Dan wens ek vir jou so ‘n jaar toe my liefste sus. ‘n Jaar van verrassende paaie en uiterste mooi en passievolle kunswerke wat jou hart sal laat sweef bo al die politieke krisisse en veral vir jou koelte en lafenis sal gee van die ekono­miese vooruitsigte en die droogte.”

“Ek belowe jou – ek sal ‘n plan maak.”

 
 
 

Viewed: 272

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT