ADVERTISEMENT:

 

 
 

108. Daisy se belange is Daisy se belange!

Date: 21 January 2016 By: 

Dis lankal dat Daisy die ding sien aankom het. 

Oor die feesgety was daar ‘n oor en weer gekuier, soos dit maar die gewoonte is onder die boere van Waterpoort. Eintlik maar enige boer – gee hom ‘n halwe kans of verskoning dan maak hy ‘n vuur en draai die ysmasjien se produktiwiteit op hoog.

En natuurlik is daar alewig die familie en vriende wat onthou van die lekker plaas-hartlikheid net so voor die Desembervakansie. In daardie opsig het Bosveldboere en Seebewoners dit in gemeen. Kort voor Krismis is daar skielik ou vriende en verlangse familie wat nes romanspinnekoppe onder klippe uitkruip. Kort voor lank is daar ook huismoles en dik stiltes; selfs in huise waar daar nooit harde woorde val nie. 

“Mammie,” sal die plaas se baas uit die bloute sê. “Jy weet mos daai familie van my van Sannieskroon ... Jy onthou man, jy het hulle op ons troue ontmoet...” Die feit dat dit veertig jaar gelede was, laat Mammie dadelik snuf in die neus kry oor wat gaan volg. Veraf familie wat goedkoop vakansie kom hou. Pappie weet glad nie hoekom Mammie se mond skielik twee “bar” staan nie – hy is versot op kuiermense.

So is daar dan heelwat “familie en vriende” wat noodwendig saamkuier in die feesgety. Ook by Daisy en Bernard.

Willem Sous en sy vrou, Sus Sous, is gereeld by die Youngs. Hulle is maklike mense – sonder fieterjasies en kan heerlik lag en gesels. Hulle het vir Daisy met haar stadsmaniertjies heeltemal aanvaar omdat hulle vir lank ook stadsjapies was voor Willem die plaas kom oorneem het by sy pa. Oral in die wêreld met rugsakke rondgereis, dus baie in gemeen. 

Twee dae voor Nuwejaar kom die Souse op die plaas aan vir ‘n braai. Met die gewone Coleman vol vleis, drank, bottels brandsouse, piekels en blatjang (vandaar die Sous) en ... twee vriendinne. Móói meisies. Maar iewers in Daisy se diepte registreer sy dat die mooi meisies geskei is. En desperaat. Sy ken die tekens.

Sus Sous bevestig dit ook toe sy en Daisy in die kombuis staan en slaai maak. Die twee mooi meisies hou die manne geselskap by die vuur. “Hulle was saam met my en Willem op universiteit. Ons was nie eintlik goeie vriende nie, meer kennisse. ‘n Paar klasse saam gedraf. So, jy kan net dink hoe verbaas ek was toe hulle net voor Dingaansdag bel en Willem wragtag vir hulle sê hulle moet kom kuier sodat hy hulle kan voorstel aan die loslyfboere van die omgewing. Willem het daardie aand sommer op die bank voor die televisie geslaap so kwaad was ek. Ek was so bly toe julle ons nooi vir ‘n braai – ek het niks meer te sê vir die tweetjies nie. Maar elke oggend kry ek hulle net uit die bed as ek vir hulle koffie vat – anders slaap hulle tot middagete!” Sus se nek slaan sommer sulke rooi vlamme uit so opgewerk raak sy.

Daisy gooi vir haar en Sus nog ys by hulle Chenin Blanc. “Bedaar, vrou. Hulle bly darem seker nie te lank nie?”

“Tot net na Nuwejaar. Sal julle omgee as hulle saamkom na die Oujaarsgedoente hier by julle? Ek gaan definitief nie uitmis op ‘n gawe paartie net oor hulle hier is nie. Dis min genoeg dat iemand die verbeelding het om ‘n temapartytjie dié kant van die berg te reël!”

Toe Daisy en Sus hulle sit buite kry nadat kombuisdiens verby is, is Daisy krapperig. Iets is nie lekker nie. Dis soos ‘n klein rooi liggie wat flikker in die donker kamer waar jy wil slaap – al maak jy jou oë styf toe, wéét jy die vervlakste liggie is daar.

Bernard is in gesprek met Mooi Meisie nommer 2. Sy vra hom uit na sy besigheidsbelange en hoe gereeld hy oorsee gaan vir besigheid. Sy luister intens na hom, groot bruin oë vol bewondering. Daisy streel oor Bernard se skouer en dan sit sy haar hand besitlik op sy been. Bernard gee haar ‘n piksoen op die wang en gesels dan verder met MM2.

Skielik word die rooi flikkerlig in Daisy se kop ‘n reuse brandalarm. MM2 het sowaar haar hand op Bernard se voorarm om ‘n standpunt te benadruk. Daisy trek skrefies oë en maak haar lippies dun.
“Tot hiertoe en NIKS verder nie,” trek sy ‘n denkbeeldige streep in die grond.Isis en Boko Haram is niks in vergelyking met Daisy op die oorlogspad nie! (Lees volgende week Deel 2!)

 
 
 

Viewed: 164

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT