ADVERTISEMENT:

 

 
 

109. Daisy se belange is Daisy se belange (deel 2)

Date: 28 January 2016 By: 

Daisy is nie jaloers nie. Maar sy het ook nie illusies as dit kom by slinkse vrouens nie. Sy weet dat manne nie altyd die dieper (en gewoonlik duistere!) motiewe van ‘n mooi vrou insien nie. “Genadiglik kan mans ook die voordele van vroulike intuïsie beleef, al is dit ook sonder dat hulle dit ooit agterkom,” dink Daisy. Sy wroeg oor die prentjie van die Mooi Meisie se hand op háár man se arm...

Intussen hou die reëlings vir Oujaarsaand se temapartytjie haar besig. Sus Sous is ‘n staatmaker en haar entoesiasme vir die buitengewone vermaak laat Daisy se gebruiklike humorsin seëvier. “Daisy, jy het nou seker gemaak dat almal presies weet wat hulle moet aantrek en wat hulle moet saambring? En dink jy almal gaan deelneem?” wil Sus Sous vroeg op Oujaar weet.

Daisy giggel in die selfoon. “Ek weet die boere is nie te vinde vir ‘n temapaartie nie, Sus. Maar ek het dit vir hulle onweerstaanbaar gemaak! Daar is gawe pryse wat hulle kan wen – GPS apparate, iPads, ‘n lekker elektriese koel­boks vir die bakkie ... Die vrouens en kinders het gewoonlik nie sulke aansporing nodig nie – hulle sien die pret sommer maklik in! Jy weet nou wat jy moet doen, nê?”

“Alles in Wit, Daisy. Almal in Wit en die kos ook.” Sus Sous se stem is vrolik. “Gelukkig is aartappelslaai en boerebrood nie onmoontlik nie ... Ek voel bietjie jammer vir die mense wat Blou as ‘n tema gekry het!”

Teen laatmiddag is die werf op die Youngs se plaas getooi in feestelikheid. Bernard het elke moontlike boom en struik met gekleurde liggies behang. Waar daar ‘n spasie was in die lapa en op die ruim stoep, is daar gekleurde vlaggies gespan. Die tafels is gedek in al die kleure van die reënboog, die stoele oorgetrek met dieselfde lewenslus en aan elke rugkant is heliumballonne vasgeknoop.

Net voor die eerste gaste opdaag, staan Daisy styf teen Bernard vasgevou en kyk na die uitspattigheid. Sy lag onbevange oor die resultaat en Bernard lyk self baie tevrede met die eindproduk. “Dit was alweer een van jou skitterende idees, Daisy. Ek kan my nie ‘n mooier en meer opwindende begin vir ‘n nuwe jaar indink nie,” glimlag Bernard breed.

Dit was kort duskant middernag toe Daisy vir die eerste maal weer herinner word aan die Mooi Meisies. Sus Sous storm die kombuis binne, vlamme van verontwaardiging wat rooi teen haar keel uitslaan.

“Daisy, ek het nou net mooi genoeg gehad van daai twee flerriemerries! Hulle is vol tequila en elke liewe man is kroonwild op die oomblik. Asof dit nie genoeg is dat hulle altwee skaars meer as ... as ... teeservetjies aanhet by hulle wit sarongs nie! Al die vrouens kyk my skeef aan omdat hulle kastig my gaste is.” Sus struikel skoon oor haar woorde, so kwaad is sy.

“Mmm...,” dink Daisy hardop. “Ons kan hulle nie daarmee laat wegkom nie. Maar ons kan ook nie dat die manne skielik simpatie met hulle kry nie. Ons moet dink, Sus.” Daisy maak Sus se glas vol en prop ‘n handvol NikNaks (te danke aan die Geel gaste) in haar mond. Toe stap sy buitekant toe. Oomblikke later is sy terug met mevrou Blou, mevrou Rooi en mevrou Groen – aldrie hoogs geïrriteerd met die toedrag van sake by die braaivleisvuur.

“Ek dink ek het ‘n oplossing,” paai Daisy met oë wat blink. “Wat dink julle hiervan...” en die vyf vrouens heul suutjies verder.

Soos baie ander staaltjies en skinders oor Daisy en Bernard, was wat volgende gebeur het een vir die annale van Waterpoort. Kleurvol, baie kleurvol, en só keurig uitgevoer dat g’n man ooit snuf in die neus gekry het dat dit so ‘n klein bietjie met vroulike vernuf aangehelp is nie.

Mooi Meisies is deur Sus Sous aangekeer om te kom help met kombuisdiens. Baie diskreet, natuurlik. Met hulle tequilalywe was dit nie moeilik om hulle balans so ‘n klein bietjie te beproef nie – net op die regte oomblik en op die regte plek. Dit was nie heeltemal toevallig dat mevrou Rooi op hulle hakke was met ‘n bak beetslaai nie, en dit was ook nie heel toevallig dat hulle grasgroen guacamole oor hulle koppe gekry het toe hulle langs die opskeptafel probeer het om hulle balans te herwin nie. En dit was pure ongeluk dat mevrou Blou te vinnig omgedraai het nadat sy vir hulle van die potblou skemerkelkies aangedra het om hulle te troos.

Die Mooi Meisies en hulle flentertjieklere het 2016 helderkleurig en taai ingegaan - met gedoende hare in flertsies plat op die kop en Alice Cooper maskara oë.

Die Waterpoort boere kon nie glo dat hulle vrouens soveel aandag aan hulle gee die res van die aand nie, en kon ook nie verstaan dat hulle kort-kort in lagbuie vir hulle mans stywe drukke gee nie...

 
 
 

Viewed: 135

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT