ADVERTISEMENT:

 

 
 

110. Daisy se VIA-dadigheid planne

Date: 04 February 2016 By: 

“Bernard,” flikflooi Daisy en sy drapeer haarself op sy skoot. “Ons het mos ‘n bietjie publisiteit nodig vir die gastehuis ... Jy weet mos, lokale publisiteit. Ek weet ons spandeer baie tyd en geld aan internasionale bemarking want ek weet dis eintlik ons mark, maar die mense van die omgewing is vreeslik nuuskierig oor die plek. En jy weet mos – die pryse wat ons vra is eintlik bietjie rof op beursies wat net rande sien...” Daisy knibbel liggies aan Bernard se linkeroor.

“Jaaaaa, Daisy...” Bernard giggel sowaar soos ‘n skoolseun en slaan ene hoendervleis uit.

“En aangesien dit nou amper Valentynsdag is en ons op die oomblik geen besprekings het met hierdie vervlakste hittegolf nie...”

“Jaaaaa, Daisy...” ril Bernard van pure plesier.

“Wel, die ding is, daar is ‘n televisiemaatskappy wat my genader het...” Daisy draai Bernard se borshare wat bo by sy kakiehemp uitsteek liggies om haar vinger.

“Mmmmm...” Bernard is verlore. Presies net waar Daisy haar wonderlike man wil hê. Sy moet nou baie versigtig wees. Sy fluister by sy regteroor: “Hulle wil ‘n reeks hier kom skiet, vir daardie nuwe VIA netwerk...”

“Ekskuus?” sê Bernard luilekker. “Ek kon vir ‘n oomblik sweer jy praat van kameras en ‘n produksiespan en drama queens...”

“E...e... ja-a. Dis waarvan ek praat, my liefste, mooiste man!” Daisy wapper haar wimpers, maar sy weet dit help nie meer nie.

“Daisy, ek gaan vir ons ystee haal, en as ek terugkom vertel jy my watter mal bok jy aan die stert wil rondswaai. Jy weet hoe ek voel oor enige media.”

Right Daisy,” sê Bernard saaklik toe hy haar ystee aangee. “Jy het tog seker nie gedink ek gaan val vir jou flankeerdery nie, nê?”

“Ag toe, ou Barries,” skater Daisy. “Amper het jy. Jou oë was skoon toe soos ‘n verliefde pou s’n toe ek aan jou ore peusel!”  Bernard kyk haar half-verleë aan.

“Verliefde pou, nê? Ons sal vanaand weer verder daaroor praat, my mooiste. Toe nou – vertel verder van die gekkerny wat jy in gedagte het.”

“Hulle is besig om ‘n reeks te maak oor plekke in ons land wat die man op straat niks van weet nie omdat hulle dit nie kan bekostig nie. Jy weet – soos die spesiale anneksgedeelte by die Nellie in Kaapstad waar die Oprah’s van die wêreld tuisgaan en die spesiale lodge van die Virgin-baas ... Tot die Bloutrein ook. So, ons is in hogere geselskap, my geliefde man. Hulle wil sowaar ons gastehuis ook insluit omdat dit so gewild is by fotograwe.” Een kyk na Bernard se gesig en Daisy se vertoë verloor vinnig stoom.

“En hoe skakel dit nou skielik in by die locals, Daisy? Jy weet hoe hard ek probeer om ‘n lae profiel te handhaaf in die omgewing.”

“Dis maar net dat hulle die hulp van die plaaslike media ook inroep ... Okei, dis meer as net die Zoutpansberger, as ek eerlik wil wees. Dis ‘n nasionale koerant of twee ook.” Daisy vermy Bernard se oë.

“Uit daarmee, Daisy. Ek kan mos sien daar is meer.”

Daisy weet daar is nou geen uitkomkans nie. Haar metamorfose van verleidelike vroulief na gesoute sakevrou is verstommend vinnig.

“Die ding is so, Bernard. VIA is mos die nuwe televisiekanaal van Media24. Dis hoofsaaklik ‘n Afrikaanse leefstylkanaal. Jy weet, mode en kos en dinge. En ja – ons kan geëerd voel dat hulle ons genader het. Maar hulle het ook ‘n paar ander stories van die kontrei wat hulle graag wil verfilm. Toe het hulle gewonder ... um ... wel, of hulle kan tuisgaan in ons gastehuis terwyl hulle skiet.”

Daisy koes behoorlik toe sy Bernard se oë sien.

Haar man is nie gelukkig nie.

 
 
 

Viewed: 270

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT