ADVERTISEMENT:

 

 
 

111. Daisy boet vir haar weldadigheid (Deel 2)

Date: 18 February 2016 By: 

Twee dae later, net voor Bernard vir hom en Daisy hulle sundowners wil gooi, is daar chaos op die werf. 

Skielik lyk dit na spitsverkeer naby die Atterbury-afrit op die N1. Etlike 4x4-voertuie stop gelyk, daar is twee minibusse en ‘n Spaanse armada van kleiner Aviskarre. Die honde is so oorbluf dat hulle nie mooi daarin slaag om hulle misnoeë uit te druk nie en kom soek skuiling onder die tafel op die stoep.

Daisy se mond hang oop. Sy kyk verbys­terd na Bernard, maar hy maak dun lippies en probeer voorgee dat hy glad nie vir Daisy ken nie. Onderlangs grom hy vir haar: “Ek dink jy moet gaan orde skep, Daisy. Maak asseblief seker dat die koedoes en kameelperde veilig is en maak seker hierdie spul weet die leeukamp is VERBODE vir hulle.

“Of miskien moet ek hulle saamnooi teen voertyd, dit kan my ‘n bietjie geld spaar...” hoor Daisy hom mompel toe hy sy hoed opplak en geïrriteerd sommer afstap dam toe.

Dis min dat Daisy oorweldig voel. Maar die spul mediamense het gróót ego’s en hulle is uit hulle kassies om uit die stad uit weg te kom. Vir hulle is dit A-von-tuur en Daisy maak geen indruk op die geesdriftige chaos nie. Sy kyk rond vir hulp. Agter haar is net die Soutpansberg en dié lyk nie te gewillig om haar te ondersteun nie.

Volgende druk Daisy haar vingers in haar mond en gee een helse harde fluit. Nes haar pa haar geleer het. Met die tweede fluit daal daar ‘n verbaasde stilte neer. Dan stap ‘n groot, behaarde, bebaarde man met comics op sy arms en bene na Daisy toe.

“Ello. Are zjoe Daizy?” slaan ‘n Oos Europese aksent deur.

Daisy skiet haar blonde hare terug oor haar skouers en haar oë blits.

“I am Mrs Young,” sê sy dreigend. “We were expecting you in two days. Why are you here today and who exactly are you?”

Die hele entourage het laer getrek rondom Comics-met-Hare en Daisy.

“I am zee director. My name eez Nicolai, juzt like zee Tzar, he he he. Theez here eez my leetle produczion azeestant,” murmel hy terwyl hy met sy hand stroperig streel oor die sitvlak van ‘n klein swartkopmeisie. Ook sy is van de comics geklap. Sy kyk hom met stroperige kalfie-oë aan asof hy sopas oor die water van die plaasdam geloop het.

“She made all zee arrangements. Maybe she got ze dates a leetle wrong,” trek hy sy skouers op. “Where are zee porters to carry our finks? And we need somefink cold before we unpack ... In our rooms where ze aircondizioning eez. And somefink to zhnak on too. Healthy zhnacks.” Hy smaail dat jy net pearlie whites en goud sien.

Snaaks – dis toe juis die glimlag wat die laaste strooi vir Daisy is. Toe sy hom antwoord moet hy bietjie nader staan om te hoor wat sy sê. ‘n Gevaarteken so groot soos ‘n kremetartboom vir dié wat vir Daisy goed ken.

“Certainly sir, Mr Director Nicolai. All of this will be done as soon as your team have made the beds in the rooms. Come with me – I will issue the linen to everyone. When you are done, you can stock up the fridges in the bar with beers and I will also show you where you can find zee bread and zee peanut butter...”

Toe draai sy om, stap deur die doodstil gehoor en gaan klim in haar Landy. Sy trek in ‘n stofwolk weg en in die verbygaan skree sy vir die spulletjie: “Follow me!”

Die volgende paar dae is daar stilte in die Young huishouding. Bernard praat nie ‘n woord met Daisy nie. Partymaal mompel hy net onderlangs iets van leeus, maar verder is daar groot, klanklose spasies.

Vir ‘n volle week vreet Daisy haar oordeelsfout op. Tsaar Niek en sy onderdane is veeleisend, rumoerig en - die ergste van alles - nie-betalend. Tussen die bontstaan deur het Daisy gewens Raspoetin was ook daar om haar te help om die Hoog-edele se nek om te draai, of ten minste sy swartkop comic chickie te verlei – maar pure verniet.

Sy moes alleen boet vir haar oorentoesiastiese weldadigheid.

 
 
 

Viewed: 161

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT