ADVERTISEMENT:

 

 
 

113. Daisy se ousus het die oplossing - ‘n kierie

Date: 03 March 2016 By: 

Ousus se reaksie is nie veel anders as Bernard s’n nie. Sy bars uit van die lag toe Bernard haar vertel van Daisy se jig.

Gout, Bernard? Daisy het gout?” giggel sy.

“Belowe net jy sal nie voor haar lag nie. Sy het ‘n onuitputlike bron van beskryflike naamwoorde wat mens nie in ordentlike geselskap gebruik nie,” skerts Bernard saam. “Nee, maar ernstig nou; wat kan mens doen vir haar? Ek is genooi na Jan de Lange toe daar naby Alldays vir ‘n mannebraai, maar ek kan haar nie so los nie.”

“Ek sal kom kyk en sommer bietjie kuier. En ek bring iets vir haar saam wat ek seker is sal help.” Ousus klink baie geheimsinnig.

Daisy begin al koes toe Ousus by die deur instap. “Wat jy ookal wou doen, nou is nie ‘n tyd om jou susterlike liefde met enige aanraking te betoon nie! En gepraat van toon – jy moet asseblief net stadig op die bed gaan sit en nie naby my voete nie. Ook nie naby my heupe of my skouers of my middelvinger nie!”

“Ja, toe, Daisy. Bernard het vertel jy is vol skete. Ek is hier om te help; hy is seker klaar weg om sy male bonding te gaan doen, nê?”

“Ook maar goed so. Die arme man se ore tuit al permanent. Het jy van Mamma se salf gebring? Het jy ander pille gebring?”

“Nee, Daisy. Ek het van Mamma se hoenderroomsop gemaak vir jou. Gewaarborg om al die suur uit jou lyf te kry. En ‘n pakkie jigpilletjies vir ‘n noodgeval soos hierdie. Maar die heel belangrikste hulp is hierdie ... trala!” en Ousus haal ‘n kierie agter haar rug uit.
“Is jy !@#$%&*#!! laf? ‘n Kierie? Wat moet ek met ‘n kierie maak?”

“Dis nie sommer enige kierie nie, my liewe kleinsus. Dis ons pa se ma se kierie. Formidabele Ouma Kate. Dit was haar stok en haar staf. Sy het huishoudings en ‘n hele plaas vrou-alleen regeer met hierdie kierie. Haar skoondogters het almal vrede moes maak dat Ouma Kate se kierie al die foute in hulle huise uitgewys het en die kleinkinders is met die haak nadergesleep.”

“Wat het dit alles met my uit te waai, hê Ousus? Ek kan haar nie eers onthou nie!”
“O, maar sy was mal oor jou, Daisy. Jy was die laaste kleinkind; die laatlammetjie. Sy het jou behoorlik ingestop – die mooiste poppe, lekkergoed, sakgeld. Jy het als gekry en ons moes maar droëbek toekyk. Maar dis nie al wat sy vir jou gegee het nie...”
“Wat bedoel jy?” vra Daisy.

“Jy sien, die rede hoekom sy so met die dêm kierie orals ingefoeter het, is dat sy jig gehad het. Gout. Vreeslik erg. Eintlik kan ek nou verstaan hoekom sy so ‘n ou korrelkop was – sy was natuurlik heeltyd in pyn! Jy sal mos nou daarvan kan getuig...”
Ousus se oë glinster onnutsig.

“Wel, slaat my met ‘n nat vis! Wil jy sê hierdie is alles te danke aan Ouma Kate se gene?”
“So op ‘n manier seker tog. Mmmm ... ja, ek dink so.”

“Maar die eintlike storie is dat sy met die kierie moes loop omdat sy dit ook nie net aan ‘n toon of ‘n vinger gekry het nie – sy het dit, nes jy, in die heupe gekry. Vandat sy jonk was, nes jy.”
Daisy se voorkop is vol fronse soos sy nadink oor die stukkie familiegeskiedenis.

“Kom Daisy ... Kom dan vryf ek bietjie jou heupe en skouers in met Mamma se salf. Ek sal versigtig wees. Onthou jy hoe Mamma altyd jou knieë ingevryf het toe jy klein was? Groeipyne, het sy gesê. En dan sal ek vir jou later van die sop gee.”

Na die moederlikheid, empatie en jigpilletjies sit Daisy regop teen die kussings en eet sop saam met Ousus.

“Hoe is dit dat jy nie heeltemal seker is of dit Ouma Kate se gene is wat my in hierdie vreeslike pyn gedompel het nie? Dit is mos doodlogies?”

“Nee, Daisy, ek is nie seker of jig geneties oordraagbaar is nie. Maar koppigheid is wel. Jy sien, sy wou ook niks weet daarvan om haar dieët aan te pas en gesonder te lewe nie. Sy het niemand se raad aanvaar nie en sy kon ook nie haar pruimtabak prysgee nie.

“Nes jy.”

 
 
 

Viewed: 195

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT