ADVERTISEMENT:

 

 
 

114. Daisy se deugsame man se optrede wek kommer

Date: 10 March 2016 By: 

Die ding van Bernard is dat hy nie sonder rede suksesvol en skatryk is nie.

Van kleintyd af is die verantwoordelikhede van sy erfenis by hom ingeprent. Hy het nie veel van ‘n sorgvrye kleintyd gehad nie; nog minder ‘n roekelose tienertyd. ‘n Kortstondige rebelsheid is geduldig en met diep insig deur sy ouers hanteer om nog ‘n les in verantwoordelikheid te wees. Die Young fortuin was nie anders as die Britse monargie nie en Bernard het van jongs af met Prins William – wat net ‘n paar weke jonger as hy is – geïdentifiseer.

Daisy was dus verstaanbaar ontstig toe Bernard vroegoggend van Jan de Lange se mannebraai af terugkom en besluit om ‘n dag af te vat. Sommer netso. Slegwees, leeglê, televisie-rondswerf, afvat. En te oordeel aan die ietwat kakiekleur rondom sy mond toe Daisy van ‘n lekker olierige ontbyt beduie, vermoed sy sterk dat hy sy gewone kwota alkohol die vorige aand oorskry het.

“En toe, my geliefde ... Het die manne lekker gekuier? Wat was die okkasie nou weer?” vis sy opgeruimd.

Bernard brom net onderlangs. “Is daar dalk nog lemoensap in die huis, Daise? En miskien een van daai groen pille van jou ... Nee, liewers twee.” Hy beweeg net om die afstandbeheer op te tel.

Daisy herken ‘n babelaas as sy een sien. En uit eie ondervinding weet sy sy moenie te veel krap nie en doen toe maar die deugsame vrou ding:  sy maak ‘n koelsak vol yskoue water, lemoensap en Coke en sit dit binne reikafstand op die vloer langs Bernard neer. Volgende maak sy Tupperware bakkies vol smulgoed – biltong, tjips, kasies, gerookte oesters en beskuitjies. Al sy gunstelinge. Ook binne bereik. Sy soen haar man liefdevol en versigtig op die voorkop en verkas om die res van die dag by die gastehuis te werk - ekstra lang ure om Bernard die Brombeer spasie te gee vir herstel.

Maar soos gewoonlik verras haar man haar. Iewers in die loop van die dag het hy herstel. Sy agterstallige lewenskrag herwin en sommer ekstra ook. Geen teken meer van die patetiese grommende bondeltjie op die bank voor die televisie nie. In sy plek is daar heerlike reuke uit die kombuis en ‘n tafel wat gedek is vir twee; die heel beste kristal en silwer en ‘n see van kerse.

“En nou Bernard?” vra Daisy versigtig. “Wat het jy verkeerd gedoen?”
“Niks nie, my allerliefste. Ek het net heeldag gedink hoe oulik jy vir my is en toe besluit ek om aandete te kook. Maar jy kan mos nie meer ‘n tjoppie of T-bone op die vuur eet nie. Oor jou jig. Toe kook ek maar vir jou gesonde kos. En ek het vir jou ‘n bad ook ingetap...”

“Nonsens, Bernard. Hou nou op met jou ... met jou ... Goeie Gawie-gatgeit!. Ek sien dwars­deur als. Wat het jy verkeerd gedoen? Wat het daar by die braai gebeur?”

Bernard lyk skielik soos ‘n kruis tussen ‘n ballon wat afblaas en ‘n babahond wat op die mat gepiepie het.

“Okei, okei Daisy. Laat ek nou maar vertel. Maar ek gooi eers vir jou ‘n dop in – ‘n glas wyn gaan nie help nie...”

Daisy trek haar werkstewels uit en strek lank uit op die sitkamerbank. “Dis reg. Ek wag.”
“Jy weet mos dat die De Langes trek, nê Daisy? Nou gister het Jan nog die laaste dinge gepak en skoongemaak, maar sy familie is reeds in Pretoria. Hy gaan weer praktiseer. Hy sê hy is ‘n beter prokureur as ‘n boer en hy was nie eintlik ‘n goeie prokureur om te begin nie!” Bernard lag.

“Maar, o hel, Daisy. Die drank het gevloei en die manne het uitgehaak. Erg. Baie erg. Toe begin Jan vertel dat sy vrou so bly is om terug te trek stad toe – oor sushi. En daar trek ‘n gesamentlike gril deur al die manne. Duidelik voel hulle nie soos Jan se vrou oor sushi nie.
“Toe rook en drink en braai ons verder en is Jan ewig dankbaar vir ‘n oorslaapplek, al was daar nie juis sprake van bedlinne nie. Dis eers vanoggend wat die pôpô toe die fan tref ... Ons sit almal en koffie en beskuit eet in die sitkamer toe Freek Fritz vir Jan vra wat hy gaan maak met al sy vistenks”

“Nee, vertel Jan, hy het dit verkoop aan ‘n ou van Tshipise. Die ou kom sy visse vandag haal. Duisende rande klaar daarvoor betaal. Freek loer toe so bietjie nader aan die vistenks met al hulle duur apparate en ligte en termometers en dinge. Blykbaar het Jan ‘n vreeslike duur en eksotiese versameling tropiese visse, jy sien, Daisy. Toe blaker ou Freek dit uit: ‘Maar hier is dan nie een vis in hierdie tenks nie, Jan! Waar is al jou visse heen?’

“Een na die ander kom daar ‘n stukkie van die storie uit. Dat die gesprek vir ‘n tweede keer, na Jan de Lange gaan slaap het, in die nanag gaan draai het by sushi. Dat almal weer gegril het. Dat iemand iemand ge-dare het om rou vis te eet. Dat ‘n paar probeer het. Dat daar een wenner was; ’n man onder die manne.”

“En toe Bernard? Wie was so totaal en al onvergeeflik sotlik?”
“Wel Daisy ... Miskien kan ek net sê dat daardie gerookte oesters wat jy vir my uitgesit het vir ‘n snack ... Wel, dit het nie eintlik aftrek gekry nie.”

 

 
 
 

Viewed: 228

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT