ADVERTISEMENT:

 

 
 

115. Daisy moet help om mense weg te steek

Date: 17 March 2016 By: 

Daisy sit haarself en jammer kry by die werk.

Daar is nie ‘n siel in sig nie; haar laaste gaste het vanoggend hulle ry gekry. Die sjef en sy kombuismense verwelkom ‘n kans om behoorlik skoon te maak en het die res van die personeel betrek by ‘n vrolike gewerskaf. Maar Daisy kry altyd ‘n gevoel van oorbodigheid ... van verlies.

“My gemoed is donderwolkblou vanoggend,” dink sy opstandig. “Kan dit ook nie eintlik met Bernard deel nie want hoe verduidelik ek dat ek half lief word vir die gaste en dan skoon verstoot voel wanneer hulle verkas ... In elk geval sal hy weer my hormone blameer.”

En, praat van die duiwel, stap Bernard op Daisy af waar sy met haar ken in haar hand oor die bosveld sit en uitkyk. Hy lyk beswaard. Met ‘n sug gaan sit hy langs Daisy en kyk sommer saam oor die onlangse groenheid uit. Sy wag geduldig dat hy self van sy beswaardheid vertel.
Die hoofkelner kom sit ‘n skinkbord met teegoed voor hulle neer.

“En nou? Hierdie lang gesigte? Julle moet daar in die kombuis kom werk, dis jolig daar,” skerts hy in Tshivenda met Bernard. “Dankie, Tokkel,” sê Daisy en skink die Earl Grey.
Dis eers met die tweede koppie tee wat Bernard keelskoonmaak en begin gesels.

“Daisy, tot dusver het ons nog net die wind van agter gehad. Alles werk so goed uit vir ons en ek is elke dag dankbaar vir die wonderlike vrou wat jy vir my is. Maar daar het nou iets gebeur waarby ek jou moet betrek en ek is nie eintlik trots daarop nie. En ek weet jy gaan glad nie daarvan hou nie.”

“Met ander woorde, Bernard, ek wil nie eintlik daarvan weet nie, nê?” Daisy sit aandagtig en kyk na Bernard. Hy begin ongemaklik rondkriewel.

“Nou toe. Vertel en kry dit van jou gewete af. Gaan ons banke moet beroof soos Bonnie en Clyde? Eintlik is dit nogal ‘n uitstekende idee! Ons het albei opbeuring nodig vandag! En ons gaan albei hoede nodig hê, en watter kar gaan ons gebruik...”

Bernard stop die woordevloed dadelik. Hy weet Daisy kan die grootste klomp bog begin praat wanneer sy gespanne raak.

“Sjuut, Daisy. Hierdie is ernstig. Ons moet mense wegsteek.”

“Man, Bernard – mens kan nie mense wegsteek nie ... Wag bietjie. Wat bedoel jy? Dis mos ‘n ernstige ding. Watse mense moet ons wegsteek, vir wie?” Daisy gryp ‘n sliert blonde hare wat oor haar oog hang en druk dit terug in die deurmekaar bolla op haar kop.

“As jy belowe om my GLAD NIE in die rede te val nie, sal ek jou vertel. Jy kan agterna vrae vra, maar niks wat jy sê of dink of doen kan ongelukkig aan die feit verander dat ek reeds my woord gegee het nie. En wanneer jy die storie gehoor het, moet jy dit dadelik ook weer vergeet en niemand, maar NIEMAND, mag weet hiervan nie. Verstaan jy dit, Daisy?”

Daisy kyk na Bernard met groot, ronde oë. Sy maak ‘n ritssluiter beweging voor haar mond en vee senuweeagtig weer hare uit haar gesig uit.

Bernard gaan haal die storie vier geslagte ver. Dit begin met ‘n vriendskap tussen twee jong seuns op ‘n plaas. ‘n Vriendskap wat oorgedra word na hulle seuns wat saam studeer en wie se seuns besigheidsvennote word. Toe Bernard se pa tot sterwe kom, was Duka Dlamini ‘n rots vir Bernard se ma. Vir die hele familie; vir al die besigheidsbelange.

“Duka het my vanoggend gebel, Daisy. Ek skuld hom groot en hy vra my nou vir ‘n klein guns – namens sy seun Didi. Sy oudste seun is ‘n bliksem van ‘n windlawaai. Hy maak staat op sy pa se rykdom en invloedryke netwerk om hom by die hoogste sosiale kringe in die wêreld in te grawe. Dan moet sy pa hom weer daaruit grawe ook. Ek het geen tyd vir Didi nie, maar ek skuld sy pa,” pleit Bernard.

“Daar is vriende van Didi wat baie vinnig uit die land moet kom. Maar sonder dat sekere partye daarvan kennis dra. Hulle moet letterlik verdwyn – sonder dat die media, die Valke of enige parlementariërs daarvan te hore kom.”

“Hulle land vanmiddag hier anderkant by die Spanjaarde se plek. Met hulle eie privaatvliegtuig. Al die pad van Waterkloof Lughawe af!”

Daisy trek haar asem skielik geskok op. Maar sy sê niks. Sy wag dat Bernard dit bevestig.
En hy doen.

“Dis die Coruptas, Daisy. Die Coruptas kom hier wegkruip totdat hulle oor die grens kan glip na een van Bob se wegkruipplekke toe.”

(Volgende week:  Amuz en die Coruptas by Daisy en Bernard se gastehuis in die Soutpansberg.)

 
 
 

Viewed: 163

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT